Nuuskommentaar: Zuma se ‘skikking’: Arrogansie en mooi broodjies van politici

jacob-zuma

Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Dit was sommer gou ná die president se aanbod, dalk weens druk van binne die ANC, om te skik oor die Nkandla-kwessie, duidelik dat daar veel meer as ’n gewone skikkingspoging daaragter skuil. Dit gaan ’n ruk neem voordat genoeg uitlek oor wat presies agter die skerms gebeur het om behoorlike ontledings te doen, maar intussen kristalliseer ’n paar faktore reeds duidelik uit.

Die ANC het stellig gehoop pres. Jacob Zuma se skielike aanbod om ’n druppel aan die emmer aan verbeterings by Nkandla terug te betaal, ’n vuurwarm kooltjie in die skoen sou doof.

Dit het nie, en die hofsaak in die grondwetlike hof volgende week gaan voort. Veel meer as net Zuma se “pay back the money” is op die spel, onder meer hoe afdwingbaar aanbevelings van die Openbare Beskermer is. Die ANC, of dan in teenswoordige terme, die Zuma-faksie, is oorhoeks met die Openbare Beskermer.

Ook Jan Publiek gogga die aanbod. Waar gaan die president die geld kry, en gaan dit op sigselwers nie al weer tot ’n nuwe skandaal lei nie? Die president het homself immers liederlik in die voet geskiet deur te verklaar korrupsie is ’n “Westerse konsep”.

Die Amerikaanse ontleder en TV-persoonlikheid, John Stossel, neem heel toevallig pas die kwessie van politieke arrogansie onder die loep. Hoewel Zuma, met sy gereelde verduidelikings wat eintlik op niks anders as beledigings vir die intelligensie van die kiesers neerkom nie, en dan sy skynbaar selfversekerde gelag daaroor, as seker dié toonbeeld van ’n arrogante politikus beskryf kan word, beperk Stossel hom tot kandidate vir vanjaar se Amerikaanse presidentsverkiesing, en stel dan ’n paar algemene reëls.

Die “reël” wat Zuma (en die ANC) soos ’n handskoen pas, lui soos volg: “There’s no modesty, little acknowledgement that so much of what government does is costly attempts to fix problems that government created at home and abroad.”

Natuurlik wil Zuma en die ANC nie mislukkings en omstredenheid op hul eie brood smeer nie, en blameer omtrent enigiets uit hul grootliks selfgeskepte verlede, soos Jan van Riebeeck, apartheid, kolonialisme, en die jongste, rassisme. So erg, lyk dit, dat as ’n mens in ’n veelrassige geselskap wil sê ’n bord kos is lekker, ’n mens eers goed moet oorweeg of dit nie dalk as rassisties opgeneem kan word nie – al is dit met volop moedswilligheid. Behoede jou as dit sou blyk die sjef is wit, want dan het jy mos “geïmpliseer” ’n swart sjef kan nie sulke lekker kos voorberei nie. So belaglik het van die redenasies geword. Pas op hoe jy asemhaal.

Maar moenie te veel wharrie nie, soos die zeffers sou sê, dié strategie is hoofsaaklik vir die DA en sy ondersteuners in die lewe geroep.

Die kort en lank is dat belastingbetalersgeld te dikwels ingespan word om brouwerk wat self deur die ANC-regering aangevang is, te probeer regdokter, maar nadat die krip eers volgemaak is en die regeer deur patronaatskap bestendig is. En mits die suksesvolle tenderaar die werk kan doen. En steeds arrogant die blaam elders heen verplaas.

Maar gaan ons ooit met die komende verkiesing ook van die ander gebruiklike ANC-verkiesingsfoefies sien?

Maak Zuma se aanbod vir die gedeeltelike terugbetaling van Nkandla-koste deel uit van ’n “positiewe” ANC-verkiesingstrategie? Die politieke ontleder, dr. Ina Gouws van die Noordwes-universiteit se Vaaldriehoekkampus, meen dit word gesien as ’n manier om homself uit ’n grondwetlike hof-situasie te kry; dus, uit ’n grondwetlike krisis wat hy vir homself geskep het.

Hiermee ego sy as’t ware Stossel se uiteensetting oor arrogante leiers.

Maryna Lamprecht bied vandag vir Media24-lesers ’n interessante kykie oor hoe twee politieke ontleders dit beskou, naamlik Justice Malala en dr. Piet Croucamp. Dit kom daarop neer dat die president se posisie verswak is, en hy nie so ’n hofneerlaag sou kon oorleef nie. Sy wys ook uit hoe daar wild met die waarheid omgegaan is in die verklaring, namens Zuma, oor hoekom hy nou bereid is om te skik.

Maar wat broei werklik agter die skerms? Daar is al meer aanduidings dat faksies in die ANC gevorm word, en dat al meer keelvol invloedryke leiers hulle skaar by ’n faksie of faksies wat Zuma nie goedgesind is nie. Volgens hierdie beskouing kom Zuma al meer onder druk om sy arrogansie, en daarmee gepaard sy vrysê oor onder meer ekonomiese sake, weg te bêre en as ’n soort verlamde president optree om vir die ANC verdere verkiesingskade te voorkom.

Hoe dit in die praktyk tot uiting gaan kom, is moeilik om te bepaal. Die ANC het reeds met sy voorverkiesingsekskursies na sekere gebiede begin opruk, soos ’n omvattende besoek van die Gautengse premier aan die Pretoria-omgewing. Die opskrif van die mediaverklaring hieroor spreek boekdele: “Premier Makhura returns to Tshwane to assess service delivery.”

Gaan die ANC weer vir Zuma tydens die verkiesingsveldtog uit dele van die land, soos laas met Gauteng, hou waar sy toesprake dalk/waarskynlik meer goed as kwaad sal aanrig? Noordwes, veral in die Marikana-omgewing, lyk byvoorbeeld na ’n gawe plek om dié keer te makeer. Met die woelinge in die Wes-Kaap sal dit waarskynlik wys wees om besoeke te beperk tot tradisioneel swart gebiede, maar so grootliks die bruin kiesers “afskryf”.

’n Probleem bly dat die media dit wat Zuma in ’n veilige omgewing in KwaZulu-Natal se platteland sê, ook elders dra waar presies dieselfde boodskap erg kan boemerang. Maar miskien het Zuma uiteindelik geleer dat dit nie meer die “ou tyd” is waar ’n goeie stamkaptein vir ’n gehoor kan sê wat hulle wil hoor, sonder dat ander, via die media, dit ook hoor nie.

Dit sal interessant wees om te sien of die ANC die Afrikaners in besonder, en wit mense in die algemeen, soort van by voorbaat as kiesers afskryf. Deur die polarisasie wat die ANC teweeggebring het, en te midde van sy rassisme-veldtog, het persepsie so verdeeld geraak dat dit byna onmoontlik is om verkiesingspropaganda te maak wat vir swart, wit en bruin aptytlik sal wees. In die verlede het ANC-ministers en ander hoogwaardigheidsbekleërs van wie dit nie verwag is nie skielik “ontdek” hulle kan Afrikaans in onderhoude praat, al is dit beperk. Gaan ons dit weer hoor, en hoe gaan so iets reklamegewys opweeg teen die aanslag teen Afrikaans op kampusse? Of kom daar oor laasgenoemde kwessie nou ’n voorverkiesingsblaaskansie?

Die lakmoestoets gaan egter kom in die mate waartoe die ANC duidelik, en formeel, bereid is om te verklaar dat plaasaanvalle nou ’n prioriteitsmisdaad is. Selfs al is dit inderdaad nou ’n prioriteitsmisdaad soos deur die waarnemende nasionale kommissaris van die polisie op RSG aangedui, bly dit onbevredigend om die boodskap as’t ware stilletjies onder die radarskerm na RSG “in te vlieg” en so die nuus skynbaar van nie-Afrikaanssprekendes te probeer weerhou.

Opsommend kan gesê word dat Zuma se moeilikheid nog lank nie verby is nie, en dat die ANC al meer klippe gaan kou weens sy halsstarrigheid om Zuma nie te herroep het toe dit lank gelede reeds duidelik geword het dat sy bewind in bykans elke opsig rampspoedig sou wees, en net met arrogansie verdoesel sou kon word nie.

Die ANC moes lank reeds besef het dit werk nie om die SAUK in te span om Zuma presidensieel te laat voorkom nie. Die opsies raak nou min, en die voorverkiesingsdruk in die ANC waar talle raadslede die gevaar loop om weens die beeld van Zuma hul setels aan ander partye af te staan, raak enorm.

Maar dan kom die gebruiklike stertjie by. Moenie Zuma onderskat nie. Hy is ’n ou hand (die gebruiklike spreekwoord kan nie gebruik word nie weens die gevaar dat dit as rassisties beskou gaan word).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jaco ·

Maklik – Optimummyn na Guptas. Nou goeie nuwe besigheid na Optimum en wonder jy nog waar Zuma geld gaan kry on Nkandla te betaal.

Jacoba ·

Stem saam met Jaco! ons het Politieke onraad al verlede jaar vermoed met Eskom en die weiering om kontrak met Exxaro te hernu en +- 1800 verloor daardeur hul werk. Minister vlieg na Zurich, beinvloed Glencore en binne week het Gupta’s Optimum myn gekoop en begin steenkool lewer aan Eskom. Zuma kry sy “kick back” …. daarom kan hy nou offer hy om deel van Nkandla koste te betaal. Betyds vir Staatsrede en verkiesings wat voorlê! Herman ek geniet jou artikels geweldig baie!

Rynhardt ·

Die feit dat Zuma nou skielik n deel van sy Nskandla wil terugbetaal, wys hy erken dat hy belastingbetalers se geld gebruik het vir sy gerief! Zuma het geen geloofwaardigheid nie, dieselfde geld vir sy arrogante kabinet wat destyds gese het dat hy hoef niks terug te betaal nie! Zuma se tyd is verby en daar word planne beraam om die nuwe leier in sy plek navore te bring wat nie veel beter gaan wees nie! SA word net dieper na ellende geneem.Herman moenie mislei word oor Zuma se gelde nie.Hy kry jaarliks R2,75miljoen en die Guptas kyk ook na hom! Hy is vol van geld.Zuma verdien geen bejammering nie.Die rede hoekom DA hom wil vervolg oor Nskandla, want die oppertunistiese Maimane glo hy gaan president word.Dit word verder gedryf deur Zulle agter die skerms.Maimane leef in n droomwereld!

Loeis ·

Goeie artikel, maar Toerien laat een ding uit: Dit is die ANC wat Zuma aangewys het, en dit is die ANC wat hom steeds hou waar hy is. Zuma is een simptoom van die probleem. Laat ons maar in gedagte hou dat die ANC, en almal wie hulle voor 1992 gehelp het om aan bewind te kom, en diegene wie hulle vandag instem, die eintlike probleem is.

Maddox ·

Ek wil net dakie se vir ‘n skitterende skrywer soos Herman. Dit is altyd so lekker om jou bydraes deur te lees. Jou stukke is op die man af, en draai nie doekies om nie. Dit is die tipe joernalatiek wat ons vandag al meer nodig het om te ontvlug van die links-liberale breinspoeling wat daagliks aangaan in die wereld.
Wel gedaan!

Marietjie Erasmus ·

Amerika het hul Wit Huis en Engeland het Downing straat 10. Wat ookal die motivering is vir Zuma se skikkingsooreenkoms, die geld waarmee Nkandla betaal word is steeds belasting geld. Kan Nkandla dan nie van hier af Suid-Afrika se ampswoning word nie? Alle volgende president word hier gehuisves waar daar reeds soveel spandeer is aan sekuriteit. Suid-Afrika kan nie bekostig om elke 4 of 8 jaar miljoene te betaal om die volgende Staatspresident se huis te opgradeer nie. Onteien Nkandla met dieselfde finansiele maatstaf as die beplande plaas onteiening.

pieter ·

Owen Wood 12 jaar oud waarsku Piet Retief dingaan gaan julle vermoor,soos Retief het ons nie ore nie en baklei nog steeds

Johannes Meintjes ·

Dit is moontlik waar dat politieke en godsdiensredenasies of redekawel ‘n tydverdryf vir meeste Suid-Afrikaners is. ‘n Vraag is nou of die Afrikaner Plan B en Boerevolk randeiergroepies al werklik enigsins vordering maak met die half-geykte selfbestuur en selfbeskikkings praatjies, sodat die “Boere-Afrikanervolk” al hierdie winde van onheilige verandering beter kan deurstaan.

Dalene ·

Ek het alankal gedink: Nkandla is staatsgrond en Zuma het dit gesteel.Hoekom vat die staat nie die hele boksomdaais terug ,knap ‘n bietjie die plek op,en gebruik Nkandla as toeriste aantreklikheid nie.Die buitelanders sal BAIE daarvan hou om daar tuis te gaan en hoef net so R30 000 +/pp/pn te betaal om oor te slaap.Dink net hoe “gou” sal die belastingbetalers se geld ge in word. Die beeste sal die vleis verskaf, gebruik werkloses om groente kweek, hoenders lê eiers ,daar sal genoeg hoenderpasteie gemaak kan word .Toeriste sal lekker kan afkoel in die swembad(veral met die hittegolwe)Dink net hoe baie werkskepping daar sal wees.Heelwat probleme sal opgelos kan word,of hoe?Dan sal die buitelanders kan vertel hoe “cool” dit was om in Nkandla te kon oornag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.