Nuuskommentaar: Zuma se spieëltjie aan die wand

Pres. Zuma tydens sy toespraak. Foto: Elmond Jiyane

Pres. Zuma tydens sy toespraak. Foto: Elmond Jiyane

Sedert Nenegate lyk dit of pres. Zuma ’n spieël moes gebreek het. Dit lyk al meer of dit die towerspieëltjie was wat hom wysgemaak het hy is die fraaiste in die land. Te midde van teenspoed lyk dit of dit wat in die land reg verloop, geskied ten spyte van Zuma, en nie as gevolg van nie. Burgerlike instellings speel hierin ’n groot rol.

Spieëltjie, spieëltjie aan die wand,

Wie is die fraaiste in die land?

Vir jare kon pres. Jacob Zuma se spieëltjie vir hom vertel dat hy die fraaiste is, ongeag wat werklik weens sy toedoen aan die gang is. Nou is die spieëltjie gekraak, en is Zuma pas in die parlement aangeraai om in ’n (gewone) spieël te kyk. Dit volg nadat Zuma gesê het die orde in die parlement moet herstel word, want hy skaam hom as hy in Afrika reis en daar word vrae aan hom gevra oor wat in die parlement aan die gang is. Zuma het die parlement as ’n “nasionale vernedering” beskryf.

Verskeie opposisiewoordvoerders het gesê Zuma moet in die (gewone) spieël kyk, want hy self veroorsaak die probleme. Zuma se repliek op sy begrotingsdebat is deur die meeste politieke partye geboikot.

Sedert begin Desember verlede jaar is dit of Zuma sy towerspieëltjie gebreek het. Hy moes bontspring oor die Nenegate wat flink in nog ’n Guptagate oorgeloop het. Die konstitusionele hof het oor die Nkandla-skandaal uitspraak gelewer dat Zuma en die parlement die Grondwet oortree het.

Die hooggeregshof het beslis die terugtrek van meer as 700 aanklagte van onder meer korrupsie en bedrog teen Zuma was irrasioneel.

In hierdie tydperk het die Yslandse premier weens onthullings wat minder ernstig is se kop weens die sogenaamde “Panama-papers” gerol. Die president van Brasilië, Dilma Rousseff, is in ’n staat van beskuldiging geplaas en veg vir haar politieke lewe. Die ANC se “verklaring” by monde van sy KwaZulu-Natalse voorsitter, Sihle Zikalala, is dat verskeie Westerse lande ’n komplot voer om van Zuma en sy Brasiliaanse eweknie ontslae te raak. Die rede daarvoor is glo dat die Weste die Brics-lande as ’n bedreiging vir hul ekonomiese beheer beskou.

Op die oog af lyk dit of die ANC se eendragtigheid en vermoë om Zuma ten alle koste te beskerm, onder groot druk geplaas word. Die ongeluk ry hom net te erg sedert die towerspieëltjie gebreek het.

Die jongste terugslae is opnuut twee verslae van die openbare beskermer, waarin bevind is dat die ANC skynbaar gereeld versuim om te onderskei tussen die regering (dus waar die staatskas die onkoste dra) en aksies ten bate van die ANC. RSG berig dat die opdrag van die voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, Edna Molewa, om kospakkies by ’n ANC Jeugliga-geleentheid in Desember 2009 uit te deel, onbehoorlik was. Die bevinding hou verband met kospakkies en ’n R100 000-toelae van die Suid-Afrikaanse agentskap vir bestaansbeveiliging, Sassa, wat deur die destydse president van die liga, Julius Malema, by Heinz Park en Philippi in Kaapstad uitgedeel is. Madonsela sê die teenwoordigheid van Molewa en Sassa-amptenare, sowel as Sassa- en ligabaniere wat langs mekaar gehang het, het die skeiding tussen die staat en die ANC laat vervaag.

Madonsela het in haar ander verslag genoem dat die Vrystaatse regering ook nie die skeiding tussen die staat en die ANC voldoende gehandhaaf het nie. Die voorval het in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing in 2011 plaasgevind. Sy sê die Vrystaatse regering se Operasie Hlasela-programme het aan die ANC ’n onregverdige voordeel in die verkiesings gegee.

Hoewel hierdie twee voorvalle nou betreklik oud is, is dit praktyke wat nie eenmalig voorgekom het nie. Met die Tlokwe-tussenverkiesings is juis hierdie gebiede uitgesoek vir kospakkie-meevallers, wat onder meer komberse ingesluit het.

Dit wat in die land reg verloop, geskied dikwels skynbaar ten spyte van Zuma se presidentskap, en nie as gevolg daarvan nie. Een van die sake wat onder die ANC-bewind liederlik ontspoor het, is die kwessie van plaasaanvalle. Pas het Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, gesê meer as 924 plaasmoorde het die afgelope 15 jaar voorgekom, en daar is kommer oor die wrede aard in baie gevalle. Jaarliks word ongeveer 55 000 beeste en 58 000 skape gesteel, afgesien van ’n hele rits ander misdade wat boere teister.

Dié uitlatings volg kort ná samesprekings tussen AfriForum en die waarnemende kommissaris van polisie, Khomotoso Phahlane, waarin onderneem is om plaasmoorde in die toekoms amptelik te prioritiseer.

Burgerlike instellings, waarvan AfriForum een is, word saam met persvryheid as belangrike onderdele van grondwetlike demokrasie beskou. Hoe meer dinge in en rondom die verkose regering haper, hoe belangriker word die burgerlike instellings en die vrye media. Die blote nodigheid van ’n Plan B wat deur die Solidariteit Beweging se bemiddeling ontwerp is, dui op ’n verkose regering wat nie die mas opkom nie.

En onder Zuma se leiding lyk dit inderdaad of ander oorwegings swaarder weeg as om ’n suksesvolle staat te rugsteun.

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Theuns ·

Dankie Herman, ‘n uitstekende saamvat van Zuma se verregaande vermetelheid! Die simptome wat Zuma openbaar en die algehele afwesigheid van enige skuldgevoel kan hom vir seker beskryf as ‘n Sigopaat! Hy behoort nie in die parlement nie maar in die “groen dakkies”

Grassie ·

Die Zuma-trgedie het ‘n warmpatat geword om te hanteer vir selfs Zoempas se getrouste ondersteuners en enige normale, nugterdenkende mens vind dit moeilik om te verstaan waarom hy nog nie in die pad gesteek is nie. Ek glo daar is ‘n spesifieke rede voor. Die ANC bestaan uit twee faksies. Daar is die radikale linkse kommunisties/sosialistiese faksie van Zuma, Mantashe en al Zuma se dissipels wat hy oor die jare om hom vergader en begunstig het. Dan is daar die meer gematigde faksie wat Ramaphosa, Mathews Phosa, Gordhan, Manuel en andere insluit. As Zuma nou moet verkas is die volgende logiese stap dat Ramaphosa, as adjunk-president, die leisels moet oorneem tot by die volgende algemene verkiesing oor so min of meer twee jaar. Dan het die gematigdes twee jaar tyd om die Zuma-“empire” te ontknoop en te neutraliseer en hulself in ‘n magsposisie te plaas, op nasionale en provinsiale vlak tot by die laagste rangordes van die ANC. Die radikales kan dit nie bekostig nie, veral nie die SAKP nie, daarom probeer hulle vir Zoempas teen wil en dank aan bewind hou om hul eie magsposisie, of sal ek sê hul eie basse, te beskerm. As Zuma nou val dink ek die moontlikheid van ‘n staatsgreep en burgerlike geweld is nie uitgesluit nie.
Ek dink Zuma se spieëltjie het meer as een kraak. En ons woon in Donker Afrika.

John ·

Dit geweldig interessant, as die rampspoed wat dit inhou buite rekening gelaat word, hoe die westerse regeringstelsel wat SA oorgeerf het, deur Afrika toegepas en geinterpreteer word. Ons het ‘n skyn-parlement met ‘reels’ wat soos gifpyle afgeskiet word op die opposisie en balhoriges. Soos in die ou tyd word oorwinnings en rykdom, soos veldslae met die verdeling van die buit daarna, hanteer. Die DA, ‘n baie verwarrende mengelmoes van Afrika/weste, pas die heeltyd skadebeheer toe en skree na die bloue hemel, maar die impies le op die kranse en gooi rotse en kookwater af op die’ wat probeer opklouter. Gaan die harte van die helde ook geeet word deur die veroweraars? Trek die hangbrue op en gooi solank al die luike toe want in Augustus is die Caesars en die Hannibals se krone op die spel. Wie s’n gaan val.

hans brits ·

Die da eintlik die herstigde anc (hanc).Stem eerder vir jou eie nasie.

Denise van Tonder ·

Dit is tereg so dat daar te veel van Zuma se maatjies in die stoele van die parlement sit. As hy nou gaan moet hulle ook gaan – Ons land is regtig nie meer die sterk land wat dit was nie en is daar net een oplossing ons moet saamstaam om dit terug te bring tot waar dit was!!! dit is tog ons blyplek hierdie en ons wil nêrens anders bly as in ons eie land nie. Suid-Afrikaners kom ons staan saam en maak van ons land weer ‘n wonderlike plek. Met Jesus aan ons sy kan ons dit bewerkstellig.

Joann ·

Hy moet psigiater gaan spreek maar shame het seker nie geld nie. Lmga

Lance ·

Die man het netnie die kapasiteit of vermoee om bestendig en konsikwent te wees nie …hy is ongeskoold en probeer iets hanteer wat SO ver uit sy diepte is …asof jy n kleuter vra om n vliegtuig te vlieg ….dit kan mos net n ramp tot gevolg he HALLOOO

snoefie ·

die anc is bang vir Zuma. on thou hy was jare lank in bevel van hulle militere eenheid en water geheime het hy nie daar van hulle opgegaar nie. ramaphoza is al jare lank zuma se wie persoonlike spreekbuis en lakei.

Henrietta Klaasing ·

Baie goed geskryf, raak saamgevat. Dankie Herman.

jcwf ·

Heee, psssst, julle! Ja, julle daar aan die Kaap!

In die res van wêreld heet dit BRIC lande; niet BRICs nie….

En nee dit gaan nie so goed met hulle nie. Sjina, Rusland en Brasilië het groot ekonomiese -en politieke- probleme. Indië gaan wat beter, maar sedert die akkoorde van Parys word daar eintlik nie so oor BRIC gepraat. Nes “African Renaissance”. Hoor baie min daarvan, nou. Vra my af hoekom.

Sune van Heerden ·

Dagsê jcwf

Dankie vir jou kommentaar. Die akroniem “Brics” verwys na die vyf lande wat hierby ingesluit is: Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika. Die groepering het voorheen as “Bric” bekend gestaan tot in 2010 toe Suid-Afrika ook hierby ingesluit is.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.