Nuuskommentaar: Zuma se utopiese nie-rassige ANC-prentjie ver van sy eie werklikheid

Pres. Jacob Zuma tydens die Vryheidsdagvieringe op 27 April 2017 in KwaZulu-Natal (Foto: GCIS)

Daar kan aanvaar word dat daar lank aan pres. Jacob Zuma se toespraak op die vooraand van die ANC se beleidskonferensie gewerk is. Dit was immers ’n gala-geleentheid en die doel was om geld vir die ANC in te samel. Sy adviseurs het stellig hul vermoëns ver gerek om met ’n toespraak vorendag te kom wat aan die nodige vereistes voldoen, en nie koue werklikhede te opvallend weerspreek nie.

Vandag is koerante vol positiewe beriggewing voortspruitend uit die toespraak.

Die kluitjie wat alles egter ongedaan maak is dat Zuma sê die ANC bly die enigste rytuig in die land wat onder meer ’n nie-rassige Suid-Afrika sal verseker. Die ore tuit behoorlik en ’n mens is in die versoeking om te kyk met hoeveel Zuma se neus gegroei het.

Onder die nuusgebeure die laaste paar dae wat luid die teenoorgestelde boodskap uitbasuin (hoewel alles nie ewe veel mediadekking gekry het nie), is dat die internasionale liggaam vir minderheidsregte, die UNPO, besluit het om ’n ondersoek te doen na onder meer die marginalisering van minderheidsgroepe, rassepolarisasie en die lot van die boeregemeenskap in Suid-Afrika.

Voorts het Solidariteit Suid-Afrika omvattend by ’n hele aantal internasionale en plaaslike liggame verkla oor rassistiese praktyke, en die kwessie behoorlik nagevors en gedokumenteer.

AfriForum het gister kriminele klagte van haatspraak en soortgelyke klagte teen sowat 100 mense gelê wat hulle op sosiale media te buite gegaan het. Die kern van die probleem is onewehandige optrede deur die regering.

Zuma is dikwels op die voorpunt van rassistiese aanslae teen wit mense. Die mees onlangse is sy bevordering van die konsep van wit monopolistiese kapitaal.

’n Jaar gelede, met die regering se veldtog teen rassisme, het Zuma by die hoofsaamtrek in Durban verskeie kere na wit mense as “white supremacists” verwys. Dit is in die internasionale konteks soortgelyk as om ’n swart man die “k”-woord te noem.

Sy veralgemeende stelling dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, het hom ’n aantal klagtes by die Menseregtekommissie op die lyf laat loop. Dit is waarskynlik billik om te sê die kommissie se hantering van die saak het rassepolarisasie verder aangehelp.

Met die eerste #ZumaMustFall-optog het Zuma die optoggangers van rassisme beskuldig, en ’n plakkaat, of plakkate gesien wat niemand anders gesien het nie, wat aandui dat swart mense ape is. Hy is erg deur die nie-rassige organiseerders van die optog verkwalik.

Van sy interessantste stories het internasionaal opslae gemaak, soos sy honde-stelling.

Hoewel Zuma in baie opsigte uniek is, staan hy binne die dampkring van die ANC wat self vreemde rasverwante praktyke opdis. In 2015 het Suid-Afrika 20 jaar ná die ondertekening daarvan, die internasionale konvensie oor burgerlike, maatskaplike en kulturele regte geratifiseer. Onder die bepalings in die konvensie is ’n verbod op kwotas en ’n sonsondergangsklousule vir regstellende aksie. Maar hoe wyd lê die regering se beleid en die praktyk nie hiervan nie?

Zuma is al baie dinge genoem, soos dat hy ’n “wrecking ball” is, maar verwysings dat hy neig om by die waarheid te hou, is aan die skraps kant. Dit lyk of hy neig om sy toesprake aan te pas by sy gehore, en hulle te vertel wat hulle wil hoor. In die pre-koloniale tyd het hoofmanne gewoonlik daarmee weggekom want daar was nie ’n media wat lastig die breë publiek gaan inlig het wat in die kleiner kring gesê is nie. Weersprekings het dus nie so maklik geblyk nie.

Maar om nou so te maak is net om geloofwaardigheid in te boet.

Zuma se beloftes wanneer hy die heuning probeer aansmeer moet met ’n knippie sout geneem word.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Sw ·

Die volgende Gupta email is geplaas van dat die R30miljoen wat na ñ Vrede suiwelboerdery moes gaan, vir die Guptas se niggie se troue se onkostes betaal het.
Nou sal al wat ñ positiewe berig smaakloos lyk.

Alida ·

Wie glo nog aan die bokwagter se praatjies. Hy dink almal om hom is dom. SURPRISE!!!

Magda ·

Maak nie saak wa hy se nie – ons almal weet WIE HY WERKLIK IS.

Rynhardt ·

Zuma laat Pinocchio na n amateur lyk.Talle politici leef in ontkenning met n nierassige SA.Selfs talle afrikaanssprekendes leef ook in ontkenning met n nierassige SA.Talle glo dat alles is wonderlik en te pragtig, en hul glo ook nog die grondwet gaan hul beskerm in n rampokkerstaat!Talle is te blind om te kan sien wat aangaan in land en leef nog in n fantasie wereld van hul eie.

Leendert ·

Ek dink weer, nee, nie net dink nie, ek is doodseker, hy weet prsies wat hy doen, ontken als aspris, leef aspris in ontkenning van die werklikheid, of so gee hy voor. In werklikheid is hy die grootste spindokter wat die wêreld gesien het, hy is ‘n lopende foutlyn, die grootste verspreider van fopnuus, fopinligting, disinformasie, noem dit wat jy wil.

Dit kom natuurlik.

En of ander dit wil glo of nie, is dit hul saak, hy storm net voort.

Geskiedenis ·

Hy sal onthou word en afgaan in die geskiedenis as die mees onetiese, swakste leier ooit in die land se geskiedenis.

humor ·

En tog glo miljoene hom en hy weet dit. Dieselfde taktiek as Mugabe. n Tipe werksmetode om die Afrikamens agter hom te kry.

Waghond ·

Zuma leef in ‘n wereld van sy eie – ver verwyderd van die werklikheid. Sy doen en late gaan meebring dat die ANC die volgende Algemene Verkiesing gaan verloor. Amandla!

Leendert ·

Baleka Mbete is van presies dieselfde ingesteldheid as Zuma, so dalk is Herman reg en leef Zuma in ‘n wêreld van sy eie. Dit laat my nou dink aan Elon Musk wat mense op Mars wil gaan vestig ….. mmmmm …. dalk kan hy help. Hy wil mos oor so ‘n tyd ‘n miljoen mense soontoe stuur, wat van sommer so ‘n klomp nou al, soos die top 100 ANC.

Charmaine Griffiths ·

ha ha nee dit gaan nie werk nie, hul moet self plant en sorg daar op Mars

Eugene ·

Die ANC is ‘n bose rassistiese organisasie wat in beheer gehou word deur totsi ondersteuners!

Oudste ·

Lyk soos ‘n eend, vlieg soos ‘n eend, loop soos ‘n eend, kwaak soos ‘n eend, geen twyfel, dit is ‘n eend!

Francois ·

Ek is van mening dat die lesers van hierdie forum in meerdere, nugtere mate die persoon se karakter kan plaas. Daar is met hierdie toespraak direkte aanslag op die gebruik van regverdige regse aanwending tot die regerende aangewysigdes se “blykbare beperking” wat op hul geplaas word deur die howe om hul sosiale plig na te kom. Hoe probeer jy jou eie onbekwaamheid verbloem, “sosio-ekonomiese” stemme wen met wanprestasie as teenfoeter en die ontrekking vanuit een van die grootste “Skoolhowe” wat jou pak gee, of detensie, as jy magdronk raak of een van jou maats help om uit detensie te glip regverdig?

Lanbou-grond as vergoeding vir onregmatige historiese handeling het, sover huidige ingeligtheid toelaat, geen outentieke bewyse gelewer om selfs ‘n “beloning” vanaf georganiseerde lanbou te regverdig nie.

Wag ons vir die spreker van parlement se diskresie wat uitgeoefen kan word om ‘n anonieme stem te oorweeg om die top beampte se ampsposisie dalk te beeïndig óf word daar op konstitusionele regte aangedring, terwyl die geleentheid nog daar is, om nie net die hoof en moontlik pion te verwyder nie, maar die kultuur en beginsels van die geheel tot diepe, onbeïnvloede besin te stuur?

John ·

Onthou die buiteland moet soos voor 1994 weer ‘n rat voor die oe gedraai word dat dat die grondvergrype wat nou so verkondig word, slegs deel van regstellende aksie is wat net agterwee gebly het. Hiervolgens is dit nie die ANC wat wil steel nie, maar net terugneem van die wit boere wat toe altyd die eintlike diewe was, vandaar dat die vae tydperk voor 1913 so aanloklik is. Weereens wil die ANC met ‘n hoogheilige spel, en nogal gebede deur al wat leeraar van watter geloof ookal, soos destyds, sy rewolusie verder voer en die buiteland ~ ook die IMF ~ laat glo hul doen wat reg is met die seen vanuit die verre ruimte wat mos elke mens se reg ooreenkomstig sy geloof is… Gemanipuleerde massa-histerie is hier aan’t werk met drome van die immer-immer… om die goue trone in stand te hou en op 3 Augustus ‘n uitklophou aan opponente toe te dien.

SARIE VAN HEERDEN ·

Wanneer die skurk sy plat neus so van regs na links met sy linkerhand vee tydens toesprake weet jy dat hy weer lieg. So se mense wat liggaamstaal ken.

Leendert ·

Herman, ek hoop jy kry nog hierdie kommentaar te lees. Na die week, en VERAL, gister, dis nou Vrydag, se bom wat gebars het oor die Guptas se troue destyds, waar inligting na vore gekom het dat daardie R30 Miljoen wat dit gekos het, uit die Vrystaat kom, ‘geborg’ is, jy sal weet waarvan ek praat. Nou is Ace mos die Vrystaat se premier wat baie, baie, sterk, eintlik pertinent, betrek word in die hele sage, en oor geld wat vir opkomende Vrystaatse boere bestem was.

NOU is die vraag ook ongelooflik krities, nie net alleen wie by Zuma as president gaan oorneem nie, maar, ongeag dit, WIE ook die Adjunk President gaan word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.