Nuuskommentaar: Zuma se “veeldelige parlement”

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

In Amsterdam staan ʼn gebou, die Hollandsche Schouwburg. Dit is eens vir vermaak gebruik, maar is ook die plek waar Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog bymekaar gemaak en vir hul verskriklike lot getrok is. Die gebou gaan nou deel uitmaak van ʼn museum wat juis hierdie vreeslike aanklag teen die mensdom gedenk.

In Kaapstad staan ʼn gebou waar gewigtige landswette en ook die huidige grondwet op die wetboek geplaas is. Dis ook die gebou waar skandes gemaak word – ʼn lys wat veels te lank is om op te noem. Van vuisgevegte tot ʼn vloekery, narrestreke, vergrype teen die grondwet en vele meer. Wanneer die gebou eendag ondoelmatig word – watter soort museum sal die toepaslikste daarin gehuisves kan word?

Die teenstrydighede word goed deur Judith February in ʼn artikel op Netwerk24 saamgevat. Die titel, Praagse lente nou ysige winter, kan beswaarlik die huidige onverkwiklikheid beter verwoord het.

Die Omar al-Basjir-debat het self sterk gerem om die parlement en die land so laag as moontlik afgetrek te kry. Die indruk word geskep dat die ANC vir elke verbrouslag ʼn “rede” uitdink en dan bloot aanvaar dat ʼn denkende publiek en hul meningsvormers dit moet sluk. Sluk dat donkievye konfyt is. Vir die al-Basjir-saak is besluit (namens Afrika en hierin was Robert Mugabe een van die voorpraters) dat die Internasionale Strafhof teen Afrika diskrimineer. Dat op Afrika gepik word.

Maroela het al telkemale op die dwaallering hiervan gewys. Elders, soos in Argentinië, die ou Joegoe-Slawië en Kambodja tree spesiale tribunale byvoorbeeld self op teen gewese leiers en ander wat hulle skuldig maak aan die tipe vergrype soos volksmoord en misdaad teen die mensdom waarin die Internasionale Strafhof belangstel. In sommige gevalle verleen die Internasionale Strafhof hulp, soos om selfs regters en ander personeel beskikbaar te stel. In Afrika is Rwanda met sy eie tribunaal ʼn voorbeeld hiervan.

Die Strafhof self wys daarop dat die hof ook grootliks betrokke geraak het waar die Afrikalande self daarvoor gevra het, soos waar van ʼn gewese diktator ontslae geraak is.

Dit is reeds gemene saak dat Suid-Afrika die Statuut van Rome onderteken het en dus verplig was om al-Basjir uit te lewer. Nie alleen bepaal die grondwet dat internasionale verdrae wat die land geteken en geratifiseer het, deel van die land se regspraak word nie, maar Suid-Afrika het boonop self regspraak voorberei en aanvaar wat inhoud aan die Statuut van Rome gee.

Wat Suid-Afrika, via die Afrika-unie probeer doen het, is onder meer om die AU-beraad in Sandton op ʼn soortgelyke vlak as die VN se perseel in New York te plaas. Hierheen reis van die wêreld se ergste skuim, wat die VSA nooit andersins op sy bodem sou toelaat nie. Hulle kry nie net spreekbeurte nie, maar word voorsitters van vertakkings van die VN wat dikwels presies die teenoorgestelde voorstaan as waarvoor die staatshoof bekend is.

Mugabe is ʼn goeie voorbeeld. So is Mugabe tot voorsitter van die VN se komitee vir volhoubare ontwikkeling verkies – die einste man wat sy land so verwoes het dat ʼn mens meer as 300 Zimbabwiese 100 triljoen dollarnote vir een Amerikaanse dollar moes inruil. Toiletpapier is veel meer werd as dit.

Maar watter boodskap stuur die Afrika-leiers die wêreld in oor Afrika? Een waar despote en diktators selfs volksmoord en misdade teen die mensdom kan pleeg en daarmee wegkom bloot omdat hulle die regeringshoofde is?

Op die oog af neem baie, veral noordelike Afrikalande en dikwels Botswana, bloot oppervlakkig deel, maar doen deur ander forums moeite by hul handelsvennote om die boodskap tuis te bring: “Ons is nie so nie.”

So byna stil-stil het Egipte binne ʼn jaar ʼn sogenaamde tweede Seuzkanaal gebou, al is dit weliswaar nie die volle lengte van die bestaande een nie. Die bouwerk is aanvanklik beplan om vyf jaar te neem, maar is eers na drie en toe na net een jaar as kwessie van nasionale trots verkort. Gewone Egiptenare het die geld vir die bou daarvan binne enkele dae belê.

In watter skrille kontras staan Suid-Afrika wat “vir ewig” aan Medupi bou en nog nie ʼn enkele teikendatum kon haal nie? Dit terwyl die IMF Suid-Afrika se groeivooruitsigte weens die kragtekorte weer afwaarts aangepas het.

Groot planne word beraam om ʼn tonnel onderdeur, of brug bo-oor die Straat van Gibraltar te bou. Verskeie kommissies het al hierna gekyk. Die uitdagende aard daarvan stuit nie die planne om met so iets voort te gaan nie.

Maar die Suid-Afrikaanse regering se versiendheid? Dit lyk eerder na ʼn verbetenheid om hom te skaar by die modderploeterende Afrikanasies – soveel so dat van die “geringer” buurlande soos Botswana en Namibië Suid-Afrika op verskeie indekse, soos die persvryheidsindeks en die korrupsiepersepsie-indeks, troef. Ook Afrikalande verder weg stel ʼn beter voorbeeld as Suid-Afrika.

Iewers moet die briek aangedraai word, maar op die oomblik lyk dit of die ANC bereid is om Suid-Afrika met sy baie pluspunte te offer vir die hoofbewoner van Nkandla. Die prys raak enorm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

zahn ·

More Herman. Die punte wat jy aanraak, laat trek my moerkoffie so erg dat dit nog swarter raak as SA se toekoms in die hande van die koffieskakering in die sitkamer van nkandla. Ek kry dit nie reg om daai plek se naam met ‘n hoofletter te begin nie. Net jy sal weet hoe jy dit regkry om die punte so raak op te som, en nie moer te trek soos ek wanneer ek dit net lees nie. Baie geluk, dis seker hoekom jy ‘n joernalis is, en ek maar net ‘n moernalus sal bly.

Leendert van Oostrum ·

Moenie dink dat minagting van die hof en regsverydeling beperk is tot die hoogste echelons van die ANC-regering nie.

Ek het net vanoggend ‘n brief geskryf aan ‘n onderwysamptenaar in die Paarl (natuurlik met afskrifte aan haar departmentshoof en die provinsiale onderwysminister) waarin ek bewys lewer en argumenteer dat sy (en by noodwendige implikasie haar hoofde) skuldig is aan dieselfde vergrype. Weliswaar baat die betrokkenes in hierdie geval nie persoonlik daarby nie (behalwe miskien ter bevrediging van een of ander magswellus) maar die slopingseffek op ons sosiale kapitaal is dieselfde.

Dit lyk asof die vrot reeds alle vlakke van die regering, ook regering onder DA-beheer ingeneem het.

Rupert Ashford ·

Goed gese Herman, maar ek dink jy onderskat die situasie. Hierdie is nie beperk tot die hoofman van nkandla nie. Die lot wat die ou daar hou (dit sluit in alle party apparatchiks, maar ook die stemvee en veral die volgende generasie – die militante jeug en sg student op universiteit) sal hom “like for like” vervang of selfs iemand erger soos Julias in sy plek sit. Hierdie gemors se saadjie is geplant met die “bedrog” van Mandela en kie tydens die “onderhandelings”, het erger geword toe die sg “elite expats” (Mbeki en kie) die ou manne uitgeforseer het en gedink het hulle sal die ANC kan kaap en hulle toe lelik misgis het met die “stormtroepe” toe die man van nkandla vir Mbeki uitgedruk het onder die dekmantel van “demokrasie”. Dit klink na ‘n klassieke “slippery slope” situasie.

Therese van Schalkwyk ·

Nkandla kan dan seker as die laaste strooi wat die kameel se rug breek beskou word, want anders verstaan ek werklik nie die yslike ophef wat nou juis daaroor gemaak word nie. Om die waarheid te sê is ek selfs meer verbaas as president Zuma self oor die kabaal wat oor ‘n paar grasdakke, ‘n swembad en ‘n paar ander dinge opgeskop word.

Daar is slegs in die laaste boekjaar 23 miljard weg of wanbestee op plaaslike regeringsvlak en dis die storie van die nuwe SA reg van die begin af op alle vlakke. Jaar in en jaar uit word daar in die begrotingsredes reuse bedrae aan verskillende sake toegewys wat nooit op die regte plekke uitkom nie, Veral minister Trevor Manuel se selfvoldane ‘kat-met-‘n-piering-room’- houding was gereeld ‘n yslike irritasie. Die korrupsie en wanbesteding is nooit, maar nooit, voldoende aangespreek by hierdie ideale geleenthede daarvoor nie.

Sistemiese, ingemesselde korrupsie is die uiteinde na 20 plus jaar, maar nou is Zuma die gerieflike alleen-sondebok, want hy is tog so ‘n maklike en gehate teiken. Elke enkele kontrakteur wat by Nkandla, asook ander regeringsprojekte, meer geld vat as wat hulle toekom, is net so skelm soos die res.

Christo ·

Die problem met zuma is dat hy nie weet dat hy niks weet nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.