Nuuskommentaar: Zuma se vreemde, vreemde wêreld

Pres. Jacob Zuma.  Foto: DoC

Pres. Jacob Zuma. Foto: DoC

Dekades gelede het ’n Suid-Afrikaanse liedjie, “Master Jack”, ’n wêreldtreffer geword. Dié liedjie met die woorde: “It’s a strange, strange world we live in, Master Jack”, sou hom in die VSA in die slawetyd afgespeel het. Maar vandag is hierdie woorde in die oortreffende trap op Suid-Afrika van toepassing. ’n Land wat hardnekkig dekades agteruit gerangeer word.

Hoe minder oor die vreemde verslag van Nhleko oor Nkandla gesê word, hoe beter. Soveel regsbeginsels, soos die doktrine van onregmatige verryking (wat pertinent deur die FW de Klerk-stigting geopper word), word aangetas dat dit moeilik is om te dink die laaste woord is gespreek. Die minister het egter ’n ander koers probeer, naamlik om die “opgraderings” aan veiligheidsvereistes toe te skryf, en voorts die middelvinger vir die vuisvoos publiek te wys deur te sê verdere uitgawes vir veiligheidsoorwegings moet aangegaan word. (Toe Maroela Media op 1 April hieroor “berig” het, was dit in ’n spesiale nuuskommentaar vir Aprilgekkedag. Meer bisar dat dit die waarheid kon word is net nie moontlik nie).

As al die uitgawes dan geregverdig was, sodat dit swaarder weeg as die beginsel van onregmatige verryking, hoekom word mindere amptenare dan aangekla?

Maar dis ’n vreemde, vreemde wêreld waar Afrikane in vrede met mekaar saamgewoon het en baie pret gehad het totdat “die ander” hier aangekom het.

Dis ’n land waar bykans ’n kwarteeu nadat die vorige regering die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder het, die grondwet en skolewet vir ’n ses geslaan moet word om te keer dat “die kleinbasies” (volgens die Gautengse LUR vir onderwys) onderrig in hul moedertaal in Afrikaanstalige skole kan ondergaan.

Dis ’n land waar op dieselfde dag as wat Nhleko se bisarre verslag die lig gesien het, die sportsoorte wat aan raskwotas (verdoesel as “transformasiedoelwitte”) moet voldoen, aansienlik uitgebrei word. In hierdie land, so word gereken, word namate meer rasbenepe maatreëls ingestel word, nader beweeg aan die ideaal van nie-rassigheid.

Op dieselfde dag word geïnsinueer die Amerikaanse regstelsel, bekentenisse ten spyt, weet nie wat werklik gebeur het nie deur dit te stel dat die Suid-Afrikaanse regering en twee sokkerbaronne meer as $10 miljoen se omkoopgeld betaal het om die Wêreldbeker-sokkertoernooi na Suid-Afrika te bring.

Vreemd dat dit Zuma was wat die opposisiepartye daarvan beskuldig het dat die ANC en die opposisie in verskillende wêrelde leef. Heel duidelik leef Zuma in ’n lugNkandla.

Suid-Afrika betaal ’n peperduur prys. Dit is te verstane die begroting knyp om by te hou as dit dan twee verskillende wêrelde moet bedien, terwyl net die een die belastingkoffers moet help volmaak, en die ander op luukse uitgawes spesialiseer. So berig De Standaard, wat die nuusdiens Belga as bron gebruik, vanoggend: “Zuma bestelde echter andere rapporten [as dié van die “ombudsdame”] en oordeelde uiteindelijk dat het aan de – door hem zelf benoemde – minister voor Politiezaken is om te beslissen of hij het geld moet terugbetalen. Minister Nathi Nhelko [sic] gaf donderdag een omstandige uitleg over de werken in de residentie van de president, die volgens Nhelko wel degelijk bedoeld waren om de veiligheid te verbeteren.”

Suid-Afrika het ruim aan geloofwaardigheid en skoon administrasie ingeboet.

By die dag groei die middelpuntvliedende kragte in die land. Omdat die regering so rasbenepe is, ontwikkel dit nou hoofsaaklik langs rasselyne, al maak diegene wat in die proses kyk na vorme van selfstandigheid seker dat ras nié ’n kriterium is nie sodat wat ook al beplan word deur die grondwet en die volkereg ondervang word.

Die rasbenepe regering is egter nie al wat sulke pogings met die rassespook probeer opsaal nie. Ook liberale kommentators sal geniepsig raak in hul kommentare om die fokus terug op die “groter geheel” te plaas.

Solank Zuma egter die septer aan die hoof van die “groter geheel” swaai, gaan hierdie liberale kommentators ’n opdraande stryd voer om verantwoordelike, nie-rassige aksies verdag te probeer maak. En so lank gaan koerante wat plasingsruimte aan sulke geniepsighede bied, geloofwaardigheid inboet, en selfs “oorlog met hul eie lesers” voer.

Talle mense was geskok dat ’n verslag van die Instituut vir Versoening en Geregtigheid bevind het die meerderheid Suid-Afrikaners druk hulle nou eerstens volgens ras uit, en dan as Suid-Afrikaners. Maar wat moet verwag word as die Vrystaatse premier op Afrikadag sê hy is eerstens ’n Afrikaan, en dan ’n Suid-Afrikaner?

Dit sal ʼn besondere opvolger vir Zuma verg om die polarisasie teen te werk en om te keer. Maar dis op die oomblik nog net ʼn hersenskim.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Rupert Ashford ·

Ek sal nie verbaas wees as hy gaan prober vir ‘n derde termyn nie Hendrik. Hy en die ANC steur hulle nie eintlik aan enige reels nie, so dit is ook tans nie vergesog nie. Wonder hoe die “rank and file” dan sal reageer aangesien hulle dit as verskoning gebruik het om Mbeki te “pos” in Pietersburg en as prez.

Herman Toerien ·

Hallo Rupert. Ek dink daar gaan te veel kompliksies wees om vir ‘n derde termyn as president van die land te gaan. My kommer is eerder dat hy sal probeer om as president van die ANC aan te bly, wat nie regstreeks grondwetlike implikasies inhou nie. Hy het reeds van die parlement ‘n verlengstuk van Luthuli-huis gemaak, en so kan hy marionetmeester bly. Met vandag se tegnologie kan hy Luthuli-huis baie doeltreffend van Nkandla af beheer, want as oud regeringshoof sal sy rontrits-voorregte op staatskoste aansienlik minder wees. Ons het iets soortgelyks in Rusland gesien, waar Poetin sy twee termyne as president voltooi het. Medvedev, die eerste minister, word toe president, maar dit was duidelik dat Poetin, toe eerste minister, die eintlike regeringshoof was. Na Medvedev een terwyn voltooi het, pak Poetin gewoon sy tweede sarsie van twee termyne aan. In die ou Sowjet-Unie en nou nog in China was die hoof van die Kommunistiese party (sekretaris) de facto die staatshoof, en die president en parlemente net onderdanige strukture. Dis eers taamlik later dat die sekretarisse ook die titel van president van die land gekry het.

Gerhard Bezuidenhout ·

Zuma en sy kaders en sy ” ander ” het nog niks self ontwerp wat deur die bree samelewing gebruik kan word nie . Hulle is verbruikers wat afhanklik is van gunste en gawes en meesters is in korrupsie en plundering en vernietiging , veral die Staatskas.

freek ·

maar zuma het nie vir die opgraderings gevra nie en dus hoef hy nie te betaal nie. dus is diegene reg wat se ons het nie vir e-tol gevra nie daarom gaan ons nie daarvoor betaal nie. Nkaaandlaaaa

Grassie ·

Zoempas het beslis ‘n magsgreep uitgevoer in die Nkandla-sage. Die minister was bloot ‘n dienswillige onderling. En dan Zuma se gelaggery – sy lag was nie van plesier nie. Dit was ‘n hoon-lag. Daardeur sê hy vir die land dat hy baas is hier, dat hy nie sal betaal nie en net om te wys hy is baas sal hy nog geld daar bestee en niemand sal iets daaraan kan doen nie.
Ek glo Zuma wil baie graag Suid-Afrika se Mugabe wees. Hy gaan nog erge moeilikheid veroorsaak in die afsienbare toekoms.

Jimmy Grundlingh ·

Ek verstaan presies wat Ace sê want ek is ook eerstens ‘n Boer en dan ‘n Suid – Afrikaner.
Nie uit leedvermaak of sarkasties gesê nie. Dit is bloot net hoe dit is.

Leon de Vries ·

Korrupsie, geweld, plaasmoorde, ens. Die vraag is: Wat moet ons doen? Ek wil graag almal wat dit kan bekostig, aanmoedig om by organisasies aan te sluit wat op vreedsame wyse hierdie dinge beveg. Afriforum doen baie goeie werk. Hierdie organisasie het nie ‘n vasgestelde ledegeld nie, maar vra ‘n maandelikse bydrae waarop u self besluit.

Kaaiman ·

Dis eintlik maklik om dié goed wat Zuma en sy huidige kabinet aanvang en hoe hulle dit regverdig, te verstaan. Hulle het bereken wat is die swartes ontneem deur die apartheidstydperk, die som gemaak en besluit hulle kan “vat” soveel hulle wil, hulle sal nooit dit wat hulle tydens apartheid “verloor” het, hulle sal nooit die blanke se onregverdige verryking inhaal nie. Ons moet ook onthou dat apartheid gesneuwel het agv die ANC, of so glo hulle volgelinge, en daarom sal hulle altyd vir die ANC stem, al maak hulle hoé droog en al is hulle hoé korrup. Eenvoudig! Dit gaan nie eindig nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.