Nuuskommentaar: Zuma teen Ramaphosa (die Westerse spioen)

Pres. Jacob Zuma en adj.pres. Cyril Ramaphosa. Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS

Pres. Jacob Zuma se jongste kabinetskommeling was moontlik hoofsaaklik om die afdanking van dr. Blade Nzimande sover moontlik te verdoesel, maar die land het reeds ’n duur prys daarvoor betaal.

Gelukkig keer burgerlike instellings dat die wiele heeltemal loskom, en was die aankondiging deur AfriForum dat adv. Gerrie Nel se eenheid sy eerste privaat vervolging gaan instel, soos ’n sonstraal deur ’n somber dag.

Dié storie moet straks met ’n knippie sout geneem word – dat pres. Jacob Zuma besig is om ’n “intelligensieverslag” voor te berei om te toon dat adj.pres. Cyril Ramaphosa ’n Westerse spioen is en hom daarom in die pad gaan steek. Die bron, ’n vakbondleier en uitgesproke Ramaphosa-ondersteuner, het dit immers “betroubaar verneem”.

Die hartseer werklikheid is dat die storie nie sommer afgemaak kan word nie. Ons onthou immers die “intelligensieverslag” wat gebruik is om van Pravin Gordhan ontslae te raak. En ons weet dat Zuma nie altyd uit terminale flaters leer nie.

Sou Zuma so iets aanvang, kan Ramaphosa as adjunkpresident van die ANC aanbly – in elk geval tot hy hom in Desember vir die ANC se presidentskap beskikbaar stel. Dit sal nogal onhoudbaar wees as Ramaphosa die ANC se president is (met Zuma as staatspresident) en Ramaphosa is as adjunkpresident van die land afgedank.

Die ironie is dat Ramaphosa, toe hy besluit het om hom as adjunkpresident van die ANC verkiesbaar te stel, dit ter ondersteuning van Zuma gedoen het. So is Zuma se herverkiesing in 2012 ongetwyfeld verseker.

Pres. Jacob Zuma en adjunkpresident Cyril Ramaphosa Foto: GCIS/SAPA

Zuma het egter gou laat blyk dat Ramaphosa nie sy gunstelingpersoon is nie. Dit het byvoorbeeld ongewoon lank geneem voor hy as adjunkpresident van die land aangestel is. Daarna is die een “hospitaal-pass” ná die ander vir Ramaphosa aangegee, waaronder die Lesotho-krisis. Uiteindelik het Zuma sy eksvrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, openlik as sy opvolger begin bevorder, terwyl probeer is om ander kandidate aan ’n formele datum vir hul veldtogte (en selfs beskikbaarstelling) te bind.

Met sy jongste kabinetskommeling het Zuma egter eers ander planne gehad. Die opvallendste is dat hy van die SAKP-leier, dr. Blade Nzimande, ontslae geraak het. Trouens, daar kan ’n stewige saak uitgemaak word dat die ganse verskuiwing in die kabinet eintlik net ’n oëverblindery was om van comrade Blade ontslae te raak.

Die verhoudinge tussen Zuma en Nzimande het veral versleg tydens die #FeesMustFall-veldtog, waar Zuma beloftes gemaak en Nzimande telkemale met die gebakte pere gelaat het. Nzimande het nie net ’n uitgesproke teenstander van Zuma geword nie, maar die SAKP teen Zuma laat draai. Zuma se jongste stap het reeds die verhouding met die SAKP verder versuur.

Tog lyk dit taamlik oortuigend dat hy hiermee sy kernplanne met die Russe weer op dreef wil kry – iets wat die land hoegenaamd nie kan bekostig nie.

Ook nou het die markte sleg op die nuus gereageer en die rand het in ’n ommesientjie ’n persentasiepunt teen die dollar afgestaan. Die JSE wat op ’n rekordlopie was, het ook ’n hou weg.

afriforum-mugabe-konferensie-gerrie-nel

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid. Skermskoot: AfriForum

Dit is egter nie net die ekonomie wat verder verstrengel raak nie. ’n Vlugtige omgaan met hoofopskrifte dui op ’n wye spektrum probleme, waarvan die staatskaping die grootste nuus is, gevolg deur bedenkinge oor die Nasionale Vervolgingsgesag. Dis nie net die Zuma-kwessie wat ’n lang skadu oor die NVG werp nie, maar ook ander sake soos die NVG se besluit om Duduzane Zuma, Zuma se seun, nie weens strafbare manslag te vervolg nie, en ook om oudmin. Modise nie weens dieremishandeling te vervolg nie. In die Zuma-geval tree AfriForum nou in met die eenheid van adv. Gerrie Nel vir privaat vervolging, en in die Modise-geval, die DBV.

Die NVG, so lyk dit op die oog af, kan nie die grondwetlike bepaling van almal is gelyk voor die gereg, onderhou nie. Sonder instansies soos AfriForum, Freedom Under Law en ander wat die howe besig hou, was die land lankal nie meer ’n funksionele staat nie.

Nog ’n onheilspellende opskrif lui dat boere op hul knieë is weens die droogte, maar die regering sloer met hulp. ’n Ander lui dat boere oor die “sielkundige oorlog” teen hulle praat.

Uiteindelik, in die lig van die appèlhofuitspraak in die bande-saak, lyk dit of Zuma wou toon hy is in beheer … in beheer van selfgemaakte chaos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kannaland ·

Wat is die kanse dat Zuma spesifiek gister skielik die skommeling gemaak het en die SAUK raad aangestel het om die media se aandag weg te lei van die aankondiging dat sy seun privaat vervolg gaan word?

pieter ·

KANNALAND,jy slaan die spyker op sy kop dit is n ou slenter van die komuniste om droog te maak op een plek die media hardloop soontoe dan jaag hulle nonsense aan op n ander plek.

Alida ·

Herman uitstekende berig. Ons almal weet dat die adder wat die land regeer slimmer is as ons almal. Miskien nie op akademiese gebied nie maar slimmer as google as dit by ander goed kom. Ongelukkig ontplof dit telkens in sy gesig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.