Nuuskommentaar: Zuma trap in Marikana-slaggat

Pres. Zuma tydens sy bersoek aan TUT. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Zuma tydens sy bersoek aan TUT. Foto: Flickr/GovernmentZA

Was daar al ooit ʼn regeringshoof soos pres. Jacob Zuma wie se uitsprake so op ’n streep deur sy binnekring reggestel moes word of in “konteks” geplaas moes word? Of bloot in soveel onsinnige wol verweef is met die hoop dat die saak in Suid-Afrika se oordaad onsinnighede sal verdrink?

Die vermoede was dat sy vorige woordvoerder, Mac Maharaj, nie meer kans gesien het om versiersuiker oor bolle Nkandla-beesmis te smeer nie. Maharaj se gesondheid het egter werklik geswig.

Die kwessie wat Zuma skynbaar nie kan kleinkry nie, is dat dit wat hy aan een gehoor kwytraak en waar dit heel waarskynlik goed afgaan, ook danksy die media tot ander ore dwarsoor die wêreld dring – en ontstel.

’n Donkie stamp sy kop glo net een maal, maar Nommer Een hou blykbaar van ʼn kop vol knoppe.

Die jongste voorbeeld (tensy daar intussen weer iets kwytgeraak is wat nog nie deur die mediafilter is nie) was uitsprake oor die Marikana-skietery voor studente van die TUT. Dis dadelik vertolk as goedpratery van die polisie se optrede wat die blaam na die slagoffers verskuif het.

Dat Zuma moontlik die spyker op die kop kon slaan, is kwalik ter sprake. Zuma het hof toe gegaan om die openbaarmaking van die verslag voor die einde van die maand te voorkom. Sy verweer was dat hy meer tyd nodig het om vertroud te raak met die kommissieverslag van regter Farlam.

In werklikheid het Zuma hom op ’n grondwetlike beginsel beroep waaroor hy te vore ʼn hofsaak verloor het – naamlik om behoorlik aandag te skenk (apply his mind).  Dié keer wou hy sy “mind apply”. Die hof het hom gelyk gegee. Hy loop egter self die bekendmaking van die verslag vooruit.

In die proses blaas hy skynbaar die wiele af van die diegene wat gehoop het die bekendmaking sou ook die einde van die polisiehoof, Riah Phiyega, beteken. Dit verpletter ook die hoop van talle naasbestaandes dat die regering nie hul siviele eise (wat binnekort verjaar) met te veel mag en mening sal teenstaan nie. Maar die saak loop véél, véél dieper.

Onder die brandende kwessies is dat die vakbond AMCU, as “teenvoeter” vir die NUM, tot stand gekom het. Die NUM was nie net die grootste vakbond in Cosatu nie, maar die ruggraat daarvan. Boonop was die NUM se “gesuiwerde” leierskap sterk in die Zuma-kamp gesetel.

Toe spanning in die platinumgordel oplaai, onder andere in die vorm van verwoestende stakings en genoeg bloedvergieting, is AMCU deur die regering geminag en afgemaak as ’n nietige nuwigheid waarvan nog nie kennis geneem is nie. Politici – ook kabinetministers – behoort darem nie so kluitjies te bak nie.

Dit was gou duidelik dat die sosio-maatskaplike omstandighede ook vir ’n revolusionêre klimaat gelaai is. Tog het die veiligheidsmagte op die oog af opgetree asof hulle geen relevante intelligensie oor die situasie gehad het nie. Dis natuurlik moontlik dat betroubare intelligensie beskikbaar was, maar polities geblok is. Nou gaan sit Zuma sy voet daarin.

Dit blyk dat Zuma sy grootste blapse maak of skerpste onsinnighede kwytraak wanneer hy spontaan optree – met ander woorde van sy geskrewe toespraak afwyk.

Dis wanneer sy personeel terugkrabbel – behalwe, vreemd genoeg, wanneer hy die Afrikaner beet het soos die Jan van Riebeeck- en “die ander”-uitlatings. Daar is ander voorbeelde wat duidelik laf is, soos apartheid wat Eskom se probleme veroorsaak het.

Dit mag wees dat daar rubriekskrywers is wat ’n behae in Zuma-bashing vind. Die meeste verantwoordelike rubriekskrywers en hoofartikelskrywers sou egter graag minder aandag hieraan wou skenk. Wêreldwyd is daar immers ernstige sake wat die aandag verdien, soos die Griekse skuldkrisis, die situasie rondom die IS (voorheen Isis), nuwe en meer realistiese dogma en vele meer.

Maar Zuma is soos die stout kind wat as aandagvraat die weerlig se aandag op hom wil vestig. En omdat hy die regeringshoof van ʼn redelike groot land is en veral in die Afrika-konteks sterk is, het sy manewales gevolge – negatiewe gevolge vir sy land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Se Maar Net ·

Ek wens regtig hy wil leer om net sy mond te hou!!!
Of is dit te veel gevra??

Theresa ·

As jy onbevoeg is, is jy onbevoeg…………………….

ig ·

Wat Zuma by TUT kwytgeraak het is myns insiens niks mee fout nie,Almal huil nou oor die mynwerkers maar hulle het mos gedink hulle is onsigbaar(danksy die sangoma) en was daarop uit om mense dood te maak,wat hulle ook toe gedoen het.Dit is die eerste keer wat ek met hom saamstem.Die res van Herman se kommentaar stem ek volkome mee saam.

Grassie ·

Ig – ek stem met jou saam. As ‘n mens die skietvoorval in konteks plaas met die hele reeks gebeure wat oor ‘n paar dae plaasgevind het, het die polisie die reg gehad om hulself te verdedig. In die oë van die media is dit miskien nie polities korrek om dit te sê nie, maar die waarheid bly die waarheid.

Henk ·

die probleem is dat zzzzuma dink hy is een of ander onaantasbare goddelike figuur soos deur homself geskep. Hy WEET solank as wat hy in die regering is, bly hy uit die tronk en hy WEET dat hy dit net kan regkry deur die regte mense in die regte plekke aan te stel. Moet nie vergeet dat hy familie van Mugabe is nie en dat hy beslis baie goed geleer het van Mugabe. En so ook al die ander Afrika leiers wat aan mag geklou het om uit die tronk te bly.

Rikku ·

Mmmmh ,
Bobbejaan Klim die berg,
So Hastig en so Lastig ……………..

Eish! ·

Ai plaas hy bietjie ons taxgeld gebruik op ‘n facelift of iets. Sy gelieg en sondes pla hom seker. Die dat hy al ouer as Mugabe lyk. lol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.