Nuuskommentaar: Zuma – tronkvoël of vry soos ‘n voël?

Bheki Cele. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Bheki Cele, minister van polisie, is volgens berigte reeds Woensdag in Nkandla raakgesien, maar was glo nog nie by oudpresident Jacob Zuma se woning nie.

Minister Cele moet teen middernag Woensdag vir Zuma in hegtenis geneem of ook deur ʼn moontlike saak van minagting van die Konstitusionele Hof in die gesig gestaar word. Dit volg nadat Zuma homself uiteraard nie Sondag aan die polisie oorgegee het nie, maar eerder nou sy bes probeer om uit die tronk te bly.

Ten einde hierin te slaag het Zuma twee dringende hofaansoeke onderskeidelik by die Konstitusionele Hof en die KwaZulu-Natalse hooggeregshof aanhangig gemaak. Zuma het in hierdie stadium van die geveg redelik min kaarte oor, maar gaan elke liewe een van hulle speel in ʼn poging om tronkstraf te vermy.

Sy aansoek by die hooggeregshof is Dinsdag aangehoor, maar uitspraak is tot eerskomende Vrydag voorbehou. Dit beteken dat die hof eintlik die taak vermy het om voor die polisie se D-dag by hierdie saak in te meng. Die hof het hierdeur eintlik maar bevestig dat Gods water Woensdag maar oor Gods akker moet loop.

Indien Zuma wel Woensdag in hegtenis geneem word, word sy saak by die hooggeregshof eintlik irrelevant – Zuma is dan reeds in hegtenis en moet in aanhouding wag op die Konstitusionele Hof se uitspraak van Maandag. Indien Zuma nie Woensdag in hegtenis geneem word nie, verander dit hierdie hele sage geheel en al. In daardie geval maak diegene wat die Konstitusionele Hof se aanvanklike bevel moes uitvoer hulself eintlik ook skuldig aan minagting van die hof.

In hierdie stadium is dit nog onduidelik wat minister Cele gaan kies om te doen. Die vraag hier is nie noodwendig wat moreel die regte ding is om te doen nie, maar eerder vir wie hy banger is – Zuma of die ANC-Leviatan?

Indien hy vir Zuma in hegtenis neem, is daar ʼn onbepaalde en onbepaalbare grondvlakwoede wat dalk ontketen kan word. In hierdie geval verpersoonlik hy die ANC wat teen een van hulle eie gedraai het en tot (15 maande lange) hel en onreg verdoem het. Cele is dan die Judas wat Zuma verraai het. Dit sal sonder enige twyfel die krisis waarin die ANC buitendien verkeer net verder aanvuur – met waarskynlike gepaardgaande openbare woede.

Sodoende sal Cele bevestig dat hy banger vir ʼn korrupte krygsheer is as vir die staat self. Hy sal eerder in moontlike konflik met die Konstitusionele Hof, die staat, reg en geregtigheid kom as met Zuma.

Indien hy wel vir Zuma in hegtenis neem, het hy minstens die gereg aan sy kant. Indien Cele tot die stap oorgaan om wel die Konstitusionele Hof se bevel uit te voer, sal hy ten eerste ʼn klag van minagting vryspring. Verder sal hy hom dan vierkantig skaar by die kant van die ANC wat tans desperaat poog om wet en orde te handhaaf. Die kant van die ANC wat Zuma se optrede ten sterkste veroordeel, teen die afgelope naweek se Nkandla-protes gaan optree, die MKMVA se optrede vergelyk het met die van ʼn verregse groep en hulle bowendien ontbind het. Dit is die kant van die ANC wat tans hulle uiterste bes probeer om aan die oorblywende flardes moraliteit en staatsmag vas te hou.

Sodoende bevestig Cele dat hy nie noodwendig ʼn diepe morele ontsag het vir die staat nie, maar eerder dat hy in hierdie stadium nie ʼn vyand van hulle wil maak nie. Cele vrees die Leviatan nog genoeg om hom by die staat te skaar. Hy sal eerder Zuma, en die potensiële wanorde wat met sy inhegtenisneming gepaard kan gaan, die stryd aansê.

Cele is tans in Natal, en moontlik selfs in Nkandla. Dit kan moontlike aanduiders wees van hy wat die kant van wet en orde kies. Tog het Cele gister in ʼn amptelike brief aan die Zondo-kommissie gesê-vra dat hy graag die aangaande hofgedinge wil respekteer deur Zuma nie voortydig in hegtenis te neem nie. Cele het egter in ʼn TV-onderhoud bevestig dat hy net op soek is na duidelikheid – die hof moet instruksie gee en hulle sal dit volg.

Dalk is Cele in Nkandla om Zuma in hegtenis te neem. Gaan 7 Julie 2021 dan die dag wees waarop Zuma die metamorfose vanaf vry soos ‘n voël na tronkvoël ondergaan? Gaan dit net nog ʼn dag wees waarin hy dit regkry om vry te loop? Hoe dit ook al sy, dit gaan ʼn belangrike dag in die post-1994-Suid-Afrika wees.

Oudpres. Jacob Zuma vra die hof om die lasbrief vir sy inhegtenisneming ter syde te laat stel. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die ANC verkeer tans in ʼn interne krisis en Suid-Afrika verkeer eintlik in ʼn grondwetlike krisis. Albei hierdie krisisse sentreer om die feit dat Zuma weier om tronk toe te gaan.

Die groot vraag gaan dan nou wees vir wie dié krisis die grootste krisis gaan wees. Watter impak gaan hierdie ongelooflike interne struwelinge werklik hê op die ANC se toekomstige welstand en magsmonopolie – op ʼn meer positiewe noot, lyk die vooruitsigte in hierdie opsig waarskynlik heel goed. Hierdie verbrokkeling van die ANC is nie ʼn blote een van faksieverskille nie, maar ʼn fundamentele en permanente een. Die huidige spanning in die ANC is absoluut onhoudbaar en gaan in een of ander stadium op een of ander manier uiting moet vind.

Wat gaan die impak egter wees van die grondwetlike krisis waarin ons tans verkeer? Watter impak het dit wat eintlik regtig ʼn enorme krisis behoort te wees, werklik tans op die demokrasie se welstand – wat gaan die impak wees wanneer die naskokke daarvan die grondvlak tref? Dit is ʼn belangrike vraag, omdat dit fundamenteel spreek van die ware stand van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie.

Is staatsmag, grondwetlikheid, wet, orde, reg en geregtigheid nie al so ook die jare heel weggekalwe dat ʼn grondwetlike krisis soos hierdie vir diegene op grondvlak nie eintlik ʼn krisis is nie? In ʼn gesonde en funksionerende demokrasie behoort ʼn krisis soos hierdie eintlik die fondamente te skud. Is hierdie saak van Zuma regtig die lakmoestoets vir demokrasie wat verskeie kommentators dit uitmaak te wees? Of weet ons eintlik al lank reeds dat ons grondwetlike demokrasie op papier skitter, maar reeds in die werklikheid bloot misluk het?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Leana ·

Lyk my op die ou einde sit Zuma en Cele saam, dalk is dit ‘n goeie ding.

Androclus ·

Lyk vir my Cele se plan is om die ou jakkals aan te keer,want wat soek hy in Durban,wag seker vir die horlosie,ek weet ook nie hulle is ook so skelm.

Johannes ·

Een mens uit ongeveer 55000000 bring als tot stilstand en tot die howe weet nie wat om te doen nie
Wat beteken dit als vir ons as Suid Afrikaners?

Aai ·

Hulle almal eet saam hoekom nou sy broer toesluit.Hulle kan net nie teen mekaar optree.Hoop maar hulle voer nie ‘n staatsgreep uit saam.

Kobus ·

Ek glo nie Cele sal die hofbevel eerbiedig nie. Klink vir my hy en Mpofu het reeds ‘n plan en sal eerder soos Zuma al die verskonings wat bestaan gebruik maar teen Zuma en die impi’s optree? Ek twyfel.Hoop maar ek is verkeerd

Samuel ·

Wie kan die minister van polisie kwalik neem as hy bang is vir die ANC Leviatan? Hy weet hy is net so skelm en korrup as sy maatjie JZ. Hy word dan ook in KZN deur polisie ondersoek vir korrupsie. NIKS sal met Zumpie gebeur nie. Niks.

JM ·

Ek is nie ‘n regsgeleerde nie, maar sover my kennis strek, word ‘n veroordeelde onmiddellik na ‘n uitspraak, tronkselle toe geneem. Waarom moes Zuma grasie toegestaan word? Wat maak hom so besonders? Almal het verwag dat hy hierdie situasie sou uitbuit, wat toe gerealiseer het! Sluit tog nou asseblief hierdie martelaar toe en kry klaar! Hy het te veel skade veroorsaak.

Androclus ·

ASB SLUIT HOM TOE.Hy’T baie sake wat nog wag,maar vir eers gee hom sy 15 wat hom toe kom,die ander sake hoop ek hy kry lewenslank.

Vrijburger ·

Die laaste paragraaf definieer Suid-Afrika se mislukking.

Daar is ‘n eenvoudige oplossing – die president dank die minister van polisie af en vervang hom met onmiddelike ingang met ‘n minister wat wel die hof se opdrag uitvoer. Maar dan weer, hierdie is Suid-Afrika en die president is Ramaphosa.

Werner ·

Die president moet hom en sy party ook verwyder dan is dit die beste oplossing

Arthur ·

Ek een van die wat glo Zumpie gaan niks oorkom nie. Die ANC gaan die held bly. Hulle hom “vervolg” (grap) en nou “draai” die hof teen ANC se “vervolging”

Werner ·

Al wat ou Cele nou doen is om vir zuma te oortuig dat hy hom sal aanhou in n vyfster houtel en hulle is besig om dit te finaliseer.Dis net die naiewes wat dink hy gaan tronk toe

Mariana ·

Cele moet net sy werk doen waarvoor hy so ‘n astronomiese salaris betaal word waarvoor die belastingbetalers betaal. Maar hy was en sal nooit opgewasse wees vir die werk nie. Hy is nie die regte persoon vir so ‘n verantwoordelike pos nie. Zuma moet tronk toe en ophou baklei daarteen. Hy het nou meer as genoeg kanse gehad. Hy is net nog ‘n krimineel wat vry rondloop en nie een of ander god nie.

Karen ·

Cele en Zuma gaan maatjies wees in die tronk, merk my woorde. Cele sal nie hom arresteer nie.

Jacobus ·

Weereens soos deur plaasaanvalle bewys, dat dit ‘n beweging is van lafaards – grootbek met getalle en oormag .

Johan ·

Wat van die klomp wat hom gaan “beskerm” het…dis dwarsbooming. As hul hom nie arresteer nie is die regulasies ook verby, dan is hier geen reëls meer nie.

Nico ·

Is JZ dan ‘n tipe god dat Cele vir hom bang is, JZ moet onthou daar is niemand hom kan red nie. Wat van Janusz Walus wat nog steeds sit omdat hy vir Chris Hani op 10/04/1993 vermoor het, daar is van die ANC lede wat sê hy kan maar in die tronk vrot word, nou kom JZ en wys dat hy bo die gereg is want hy is mos ‘n tipe god, GOD slaap nie jy sal eendag betaal vir jou foute.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.