Nuuskommentaar: Zuma veg terug

Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/Governmentza/GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/Governmentza/GCIS

Daar kan min twyfel wees dat pres. Jacob Zuma se vlerke ná die Nene-debakel ietwat geknip is, maar dis ook duidelik dat dit Zuma nie welgeval nie. Hy veg verbete terug en begin sy magsbasis konsolideer. Sy toespraak gister voor die Huis van Tradisionele Leiers waarin hy die afsnydatum vir grondeise aansienlik wil terugskuif, is duidelik deel hiervan.

Is pres. Jacob Zuma se omstrede toespraak oor die grondkwessie in die Huis van Tradisionele Leiers ’n deursigtige poging om weer ’n magsgreep op die ANC te verkry?

Die afgelope aantal jare is die versugting gereeld in rubrieke uitgespreek dat die ANC pres. Jacob Zuma so sou inperk dat hy eintlik net ’n simboliese of seremoniële leier word, terwyl die adjunk-president as ’n soort eerste minister die werklike regeringshoof sou wees. Dié versugting het gewoonlik gevolg nadat Zuma weer iets skreiends kwytgeraak het wat ’n reuse-verleentheid vir hom en die land was.

Maar nie genoegsaam vir die ANC nie.

Kort-kort was daar inderdaad tekens dat dit wel gebeur, maar soos klokslag het Zuma weer iewers ’n harde landing gemaak waaruit dit duidelik was dat hy steeds nommer een, en nie nommer zero is nie.

Dié proses is met groter intensiteit herhaal ná die Nene-debakel. Daar word steeds moeitevol gerekonstrueer oor wat werklik agter die skerms gebeur het, en hoe dit gekom het dat mnr. Pravin Gordhan weer minister van finansies geword het, nie baie lank nie nadat Zuma hom in ’n portefeulje ontplooi het wat enige minister sou laat struikel – om na die land se spartelende munisipaliteite om te sien.

Duidelik is Zuma nukkerig oor die afloop van die Nene-debakel.

Die interessantheid is dat dit lyk of die ANC Zuma ongeveer enigiets veroorloof en vergeef, maar nié sy Gupta-bande nie. Die (kortstondige) aanstelling van Des van Rooyen as nuwe minister van finansies het, afgesien daarvan dat die plaaslike en wêreldmarkte skerp negatief reageer het, ’n blywende duik gekry toe berig is (waar of onwaar) dat Van Rooyen se aanstelling twee Gupta-manne uitsonderlike magte in die tesourie sou gee.

Bykans sedert Gordhan se heraanstelling is die Valke soos lastige vlieë om sy kop, terwyl hy te make het met ’n hoof van die Inkomstediens wat hom skynbaar openlik rysmier. Die ANC se antwoord is dat “Zuma die kwessie korrek bestuur”. Dus, Zuma se hand is duidelik in die gure gebeure.

Kortom, as Zuma se vlerke geknip is, is dit met knorrigheid begroet.

Intussen lyk dit of die ANC se hoofsweep in die parlement as ambassadeur in Duitsland herontplooi word omdat hy nie sy posisie genoegsaam gebruik het om “Zuma bashing”-debatte af te weer nie.

Zuma het dus nog spierkrag, maar sy argwaan met Gordhan word op hok gehou met die wete dat as hy wéér met Gordhan se portefeulje gaan foeter gaan die Nene-debakel soos ’n kinderspeletjie daarteen lyk. Zuma moet nukkerig besef dat hy wat Gordhan betref, deur die realiteit gesnoeker is.

Gordhan sal dan maar op ander maniere ondergrawe word.

Intussen probeer die president sy magsbasis versterk. Met die DA se mosie van wantroue het 52 ANC-lede nie opgedaag om die president te steun nie. Dit sluit groot name soos Winnie Madikizela-Mandela in, en kan nie maar aan die “normale” afwesigheid van ANC-LP’s toegeskryf word nie.

Sedert Zuma se bewindsaanvaarding het hy die land se swart tradisionele leiers sterk agter hom gekonsolideer. Goeie “salarisse” en in sommige gevalle sommer baie goeie salarisse of toekennings vir koninklike paleise, het baie hiertoe bygedra.

Deur die tradisionele leiers in die sakkie te hê, verseker Zuma groot plattelandse steun. Hy gebruik die grondkwessie as vertrekpunt, iets waarmee hy nie by die tradisionele leiers kan verloor nie.

Zuma wil die afsnytyd vir grondeise van 1913 na skynbaar 1800 terugskuif. (Die gedagte is nie nuut nie.) Zuma se kennis van aardrykskunde is onlangs as baie swak bewys, maar sy kennis van die geskiedenis is skynbaar nie veel beter nie, en minstens erg omstrede. Hy bekyk die kwessie openlik deur ’n rassebril deur na homself as die seun van ’n swart man te verwys.

Voorheen het hy al bewys dat sy kennis oor grondsake besonder swak is deur te meld dat swart mense met die “droë en onvrugbare” grond oorgebly het. Enige klimaatkaart wys dit as bog uit. Hy hou skynbaar by hierdie wysie.

Hy het nou herhaal dat grond welvaart beteken, iets wat die praktyk dikwels anders uitwys. Hy hoef maar net te kyk hoeveel plase is weekliks in landboutydskrifte in die mark. Die droogte ontgaan hom blykbaar ook.

Dit is tog interessant dat hy 1800 as keerdatum in gedagte het. As die datum veel verder teruggeskuif word, sou die KhoiSan op alle grond in swart besit kon aanspraak maak, Nkandla inkluis.

Zuma het nietemin ’n gewilde tema gekies om sy magsbasis te begin herbou. Opnames toon dat ongeveer 80% van swart mense glo wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. (Al hoe meer wit mense begin ook so dink.) Die ad hoc-komitee oor grondbesit beskryf dit weer as ’n groot leuen.

Die enigste geluk is dat Zuma dit in sy toespraak ook duidelik gemaak het dat hy binne grondwetlike perke wil bly, iets wat in die verlede nie sy sterkpunt was nie.

Intussen hang twee sake oor sy kop – die sogenaamde spioenasiebande waaroor die hooggeregshof uitspraak moet gee, en die Nkandla-saak waaroor die grondwetlike hof se uitspraak afgewag word.

Maar wie dink Zuma gaan sonder meer die aftog blaas en ’n seremoniële president wees, het dit mis.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Flippie ·

Ek dink dit is ‘n vergelyking in swak smaak. Daar is geen vergelyking tussen Trump en Zuma nie.

Dee ·

Die vergelyking is nie bloot in swak smaak nie, dit is ook dom.

Roojan ·

Dit is duidelik dat die sogenaamde “regses” heeltmal korrek was toe die NP onder FW gevra het ons moet stem vir onderhandel of nie. Hulle het gesê moenie onderhandel nie julle ooreenkoms sal nie die papier waarop dit geskryf is werd wees nie. Hulle was reg. Die ANC se oogmerk was om die hele land te vat verkieslik sonder vergoeding en hulle is op pad daarheen kom wat wil. Enige wit man wat nog dink hy sal toegelaat word om aan te hou grond besit hier in ons land is verkeerd. Die vraag is nou net of die regering darem een of ander kompensasie te gee vir daardie grond. Dit sal interressant wees om te sien of daar Zulu’s is wat dink hulle kan bv grond eis in die Wes of Noordkaap.

Anoniem ·

Mense jul vergeet..verkiesing kom naby..hy moet steun wen…en hulle gaan hom glo!!!!!!!!!!!!!!!!

Jan maak n Plan ·

Zuma se vlerke geknip???? You don’t soar with like a eagle if you waddle around like a turkey. Hoerdie ou is n verleenthied vir die land en gaan ons nog vreeslik baie skade aandoen.

Flippie ·

Zuma is besig om hom voor te berei vir ‘n derde termyn.

Waarvoor ‘n vliegtuig vol geld. Waarvoor die grondkleims. Waar voor die al die onrus.

Die toenemende anargie en onderlinge onverdraagsaamheid wat tans in die land aan die broei is en toegelaat word om te versprei, dui op ‘n georkestreede wanorde uitloop wat net deur ‘n noodtoestand bestuur sal kan word.

Met Jacob Zuma en sy wit-haat brigade gaan dan ‘n slegte tyd vir Afrikaner/Boer inlui wat nie gou gaan eindig nie.

Henry ·

Teen die agtergrond van Zuma se geskiedenis van korrupsie en sy suksesvolle stryd om uit die howe te bly, is dit heel logies dat hy nie sonder slag of stoot as ‘n ‘seremoniële’ staatshoof witpens bo sal gaan lê nie.
Bittermin siele wat regop loop en tot by tien kan tel, wat sulke twak sal rook.

Louis ·

Dit is nou weke wat daar gewag word op die Konstituonele Hof om uitspraak te lewer oor die Nkandla saak. Ek kry die gevoel dat die uitsprake eers met een of ander politieke party of instansie uitgeklaar moet word. Moes daar eers gewag word dat die Staatsrede gelewer word, eers gewag word tot die vrae en antwoord sessie verby is, en o ja! die mosie van wantroue verby is. In die Amerikaanse jurie stelsel lewer ‘n groep mense wat nie almal oor regskennis beskik nie binne dae ‘n uitspraak. ‘n Volbank regters neem weke! Is dit omdat daar inmenging deur magte van buite of is ons hof (regters) so oneffektief!

Louis ·

As ek die kommentare lees is daar een ding wat my opval en dit is dat Zuma op verskillende maniere terugveg. Ek kry die gevoel dat hy ook terugveg op uitsprake wat die Konstituonele Hof moet lewer. Reeds in twee sake word uitsprake voorbehou. Is dit dat die hof eers sy uitspraak moet kontroleer by een of ander party of instansie? Dit is nou al weke dat op die Nkandla uitspraak gewag word. Moes daar gewag word vir die “Staatsrede”, moes daar gewag word op die vrae en antwoord sessie, en o ja! die mosie van wantroue. Is dit hoe Zuma beskerm word? Ek kan nie aanvaar dat in so ‘n belangrike saak ‘n volbank van regters weke nodig het om uitspraak te lewer nie. Kan alleen dink daar is ander magte wat inwerk in uitsprake of die hof is oneffektief. In die Amerikaanse se juriestelsel word uitsprake binne dae gelewer deur mense wat nie almal regskennis besit nie.

Plaasjapie ·

My vraag is: Hoe lank gaan die ANC aan Zuma vasklou. Hulle moet tog seker besef die ou gaan sink en hulle wil seker nie saam met hom sink nie. Tensy hulle dink hy kan so goed swem soos Mugabe. ‘n Tyd gelede het die ANC nog hard geveg om hulle beeld skoon te hou. Zuma het dit nou klaar deur die modder gesleep en dit lyk nie of hulle omgee nie!!

pieter ·

n geskiedenes onnie het in die 60ger jare vir ons gese die komuniste gaan rsa oorneem sonder n oorlog en ons gaan komunistiese liedjies sing.HOE REG WAS HY.

StopTheMadness ·

Kon ons in 350 jaar nog nie leer hoe dit in Afrika werk nie?? Mense, die grootste fout wat ons kan maak is om te dink dat onteiening nie gaan gebeur nie. Dit sal gebeur, en dit sal geweldadig wees en ja, die wêreld gaan niks daaromtrent doen nie, net soos in Zim.

Andrea van Vuren ·

O ja, dan gaan die sogenaamde nuwe grondeienaars staatshulp ontvang soos nuwe trekkers en ander implimente. Ek het dit reeds met my eie oë gesien en beleef in die omgewing waar ek woon!

John ·

Ja! Kyk waar het president Zuma gepraat: Voor die tradisionele leiers. Ons het ook steeds oor die 10 swart konings in die land, “Goody, goody”-praatjies en hande-vat is twak. Ek glo ons het hulp van Bo nodig en Sy wysheid oor hoe om die toekoms in te gaan, Grondregte was nog nooit in diie wereld se geskiedenis ‘n vaste entiteit nie, Mag, meerderheid en aggressie verskuif grense. Ons moet terugkyk in die geskiedenis en verder as ons eie 350+ jare hier en sien hoe ons voorsate, soos die res van die wereld rondgetrek het en hul tente staangemaak het. Die geskiedenis van die Jode is ‘n goeie voorbeeld. Die swartes voer aan dat Afrika hul eersgebore reg is. Deur dit te se, word dit nie waar nie. Ek dink toe daar in die referendum besluit is om die regering oor te gee aan die ANC, die meerdeheid blankes in der waarheid toe reeds besluit het dat die land aan die swartes behoort. Ons sal nou moet besluit of ons vir hulle wil werk of waai.

sarievan heerden ·

Ek weet nie of ek nog glo in die onpartydigheid/regverdigheid van ons regsstelsel nie. ‘n GEKWALIFISEERDE regter lewer ‘n uitspraak in die hooggeregshof in die Pistoriussaak en binne’n redelike kort tyd word haar uitspraak afgeskiet en moet hy WEER in April gevonnis word. Die vraaag is dan: is hierdie regereringsregter onbevoeg en was sy ‘n verkeerde aanstelling? Zuma met meer as 700 kriminele aanklagte teen hom loop skotvry rond. Jammer, die Suid=Afrikaanse regsstelsel het my net met vraagtekens gelaat.

sarie van heerden ·

Hoekom is my kommentaar met die vraagteken oor die vergelyking tussen die Pistoriussaak en julle Zuma kriminele aanklagte nie geplaas nie?

Mariné Lourens ·

Dagsê Sarie

Kommentaar moet soms per hand goedgekeur word en verskyn in só geval nie dadelik op die webwerf nie. Wanneer jou kommentaar dus nie dadelik op die webwerf verskyn nie, beteken dit nie noodwendig dat die kommentaar afgekeur is nie, bloot dat dit dalk net moontlik nog nie goedgekeur is nie.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.