Nuuskommentaar: Zuma-verslaafde ANC verklaar homself tot vyand van die land

Pres. Zuma tydens Woensdag se Versoeningsdagvieringe. Foto: Presidensie/Twitter

Pres. Zuma tydens Woensdag se Versoeningsdagvieringe. Foto: Presidensie/Twitter

Die opruiende aard van pres. Zuma se “Versoenings”-dagtoespraak, met volop blaamverplasing na apartheid, dui daarop hy gaan nie as flou makou onder beheer gehou word nie. Het die ANC dié keer te wild gedobbel deur Zuma, ʼn bewese ekonomiese ramp vir die land, nie te herroep nie?

Deur sy steun aan pres. Jacob Zuma te herbevestig én hom sommer in die troebel tye na die Nene-debakel los te laat om ʼn hele kwota twak met die “Versoenings”-dag-toespraak kwyt te raak, het die ANC homself behoorlik tot vyand van die land verklaar.

Te midde van optogte en betogings onder die vaandel van #ZumaMustFall en teen korrupsie, verklaar Zuma optogte en betogings aanvaarbaar in die stryd teen apartheid, maar nie nou nie. Die betogings en optogte wat Zuma so aanprys, was selde vreedsaam, terwyl die saamtrekke op Versoeningsdag wat teen hom gemik was, wel vreedsaam was. En as Zuma die moeite doen om iemand te kry om vir hom uit die grondwet voor te lees, sal hy sien dat sulke vreedsame pogings volgens die grondwet ʼn reg is, maar nié die gewelddadige weergawe wat hy aanprys nie.

En Zuma het in sy ampseed onderneem om die grondwet te onderhou. Maar heel in stryd met sy ampseed, verklaar Zuma en hou voet by stuk daaroor, dat hy meer lojaal aan die ANC is as aan die land. Nou blyk dit dat die ANC ook meer lojaal teenoor Zuma is as aan die land. En dit is ook nie die eerste keer nie.

Ongelukkig is dit ʼn onmoontlike sommetjie om te bepaal hoeveel skade Zuma die land reeds gedurende sy bewindstermyn berokken het. Met sy afdanking van minister Nene, die gevolglike daling van die rand teen die dollar en die terugsak van die Johannesburgse Effektebeurs, kon sommetjies wel gemaak word. Dit lyk asof daar konsensus is die land se skade het honderde miljarde rande beloop. Dit is deels herstel met die haastige heraanstelling van Pravin Gordhan as minister van finansies. Maar ekonome, kommentators en politici het dadelik gemaan die herstel kan nie volkome wees solank as wat Zuma aan bewind is nie.

Soos gemeld, was dit nie Zuma se eerste flater wat die land as beleggingsbestemming geskaad het nie. Veral sy afwyking van geskrewe toesprake het sy naam by herhaling plaaslik en oorsee erg bollie gemaak en aangesien die ANC hom nie toe afgedank het nie, het die flaters die land se verleentheid geword.

  • Een van die maniere om ʼn aanduiding te kry dat Zuma die land ekonomies skade berokken, is om te kyk na wat die wisselkoers van die rand gemaak het sedert hy in Mei 2009 president geword het. In Februarie 2009 was die rand nog op sy sterkste daardie jaar teen net meer as R10 teen die dollar. In April, toe die aanstelling van Zuma bloot ʼn formaliteit geword het, het dit tot meer as R11 teen die dollar opgeskiet. In Mei het dit tot byna R12 teen die dollar opgeskiet en die jaar is op meer as R13 teen die dollar afgesluit.

Mens moet egter nie te veel net aan die wisselkoers lees nie. Sou dit die geval wees, was oud-pres. Nelson Mandela se presidentskap ook ʼn reuse ekonomiese ramp. In 1994 was die rand nog op R3,55 teen die dollar en aan die einde van sy termyn in 1999 was dit R6,11.

In die 10 jaar wat Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe saam aan bewind was, het die rand met ongeveer R4 teen die dollar verswak. In die sowat sewe jaar van Zuma se bewind het die rand in ‘n stadium tot minder as R16 teen die dollar verswak. Voorspooksels van R20 teenoor die dollar het opgedoen. Nou nie juis musiek vir die ore van beleggers nie.

In Zuma se bewindstyd het die land se ekonomiese gradering by die vernaamste agentskappe tot net bo rommelstatus verswak. Die lysie is oneindig lank.

Dit is moeilik om te bepaal waarom die ANC so aan Zuma klou en hom so graag aan die land as bate probeer verkwansel. ʼn Onlangse peiling deur Ipsos bring aan die lig dat Suid-Afrikaners meer vertroue in Eskom, munisipaliteite en die SABC het as in Zuma. Die opname is voor die Nene-debakel gedoen. In November was Zuma se gewildheid op die laagste vlak sedert 2007. Zuma se gewildheid neem ook onder ANC-ondersteuners af.

Is dit vrees vir weerwraak as die ontsetelingspoging misluk wat die ANC soos ʼn neet aan Zuma laat klou, al ly almal daaronder? Of is die besluitnemers onrehabiliteerbare trogsuipers?

Of meen die ANC Zuma beskik oor kwaliteite om die blaam genoegsaam te verplaas en veral apartheid en die wittes vir alles te blameer wanneer die ANC droogmaak? In die verlede het dit al verskeie kere geblyk ʼn stortvloed kritiek op Zuma word deur baie swart mense vertolk as aanvalle op swart mense en dat Zuma se steun opnuut gekonsolideer word. Gaan die #ZumaMustFall-veldtog daarin slaag om genoeg swart steun te mobiliseer om dit nie na ʼn wit-teen-swart-veldtog te laat lyk nie?

Die SABC het reeds die ANC se poging om dit wel na ʼn wit-teen-swart-veldtog te laat lyk, ingelui met die volgende onsinnige nuusberig in ʼn nuusbulletin op Versoeningsdag: “Die Teenkorrupsie-groep, Unite Against Corruption, sê hoewel diegene wat aan die Zuma Must Fall-optog in Kaapstad deelgeneem het, oorwegend wit was, is daar ooreenstemming dat wit voordeel ook die blaam vir korrupsie moet dra.

Duisende mense van verskeie burgerregtegroepe het die ANC se nasionale uitvoerende komitee gevra om president Jacob Zuma onmiddellik te herroep. ʼn Woordvoerder, Johan de Meyer, sê hulle het hoë verwagtinge en was teleurgesteld dat meestal wit mense opgedaag het. Aan die ander kant sê hy, was dit duidelik dat wit voordeel ʼn groot aandeel in korrupsie het.”

Gelukkig was van die vernaamste sprekers by van die protesgeleenthede mense soos Zwelinzima Vavi en eerw. Mpho Tutu. Dit sal baie help om te voorkom dat die veldtog as ʼn wit-teen-swart-veldtog beskou word. Voorts wil Julius Malema, wat nie met die veldtog geassosieer word nie en ook graag wil hê Zuma moet die politieke toneel verlaat (en verkieslik vir die tronk verruil) ook nie wit nie.

Net die tyd sal leer of die ANC verkeerd gedobbel het deur nie Zuma nou te herroep het nie. Kos hy weer die ANC setels in aanstaande jaar se munisipale verkiesing soos hy die ANC in die vorige algemene verkiesing stemme gekos het, veral as die ANC van die metro’s moet afstaan, gaan daar groot ongelukkigheid binne die ANC ontwikkel wat nie net Zuma nie, maar diegene wat hom nou beskerm, se koppe kan eis.

Min mense twyfel oor Pravin Gordan se bekwaamheid as minister van finansies (as minister van samewerkende regering het hy wel gestruikel soos bykans enigeen sou). Tog kon hy in sy vorige termyn nie keer dat die land se ekonomie danksy ʼn gesamentlike aanslag van die wêreldekonomie, ander ministers met ekonomiese portefeuljes wat hul kommunistiese ideologie ten koste van die ekonomie probeer opdwing en Zuma se bekkighede op die sinkplaatpad beland nie.

Nou pak Gordhan weer die bykans onmoontlike met Zuma as blok aan die been aan. ʼn Mens kan wel aanvaar dat Gordhan, volgens sy eie erkentenis ʼn moeë man, sterk voorwaardes sou stel vir die heropneem van finansies en dat dié voorwaardes basies daarop neerkom dat Zuma behoorlik onder beheer gehou moet word.

Of Zuma in toom gehou kan word, moet mens nog sien. Sy “Versoenings”-dag-toespraak dui op die teenoorgestelde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

HEVW ·

Waarom die anc soos n neet aan zuma klou is tog voor die handliggend. In reelmaat verklaar zuma hom tog duidelik as geswore vyand van die blankes. Indien die blankes nie meer in hul pad staan nie is alle grond en die land se bates in hul besit Die beloofde utopia is dan eers volkome n werklikheid. Hierdie valse verwagtinge moet eers by hul ingang vind voor hul anders begin dink. Is dit moontlik??????????

Fanie ·

Die feit dat die ANC nie vir Zuma onthef as President van SA, is ‘n bewys dat hulle nie die grondwet nakom en uitoefen. Daarmee erken hulle ‘n totale korupte eensydige selfgesentreerde party wat geheel en al hopeloos verkeerd is vir hierdie land en sy burgers. Die ANC kan nie die regte besluite neem en uitvoer!!

arie plaasboer ·

@ Fanie,
Ek vermoed meeste kommentators stem met jou saam – Ek ook.
Uit jou kommentaar blyk dit dat Z en sy ANC “rampokker” trawante hulle afsmeer aan die eed van getrouheid wat elkeen in ooreenstemming met die GRONDWET eenvoudig MOES afle.

Vind die GRONDWET op die internet en lees die “Eed van Getrouheid” soos dit daarin opgeteken staan.

Enige en Alle optredes wat nie tot die voordeel van RSA strek nie is in wese strafbaar en as sodanig – temeer na sy uitspraak dat die ANC vir hom belangriker is as die land – MOET Z in `n staat van beskuldiging geplaas word.

Die grootste demokrasie in die wereld nl die VSA het dit met Nixon destyds met Pres Nixon gedoen.
Die ANC “rampokkers” in SA huldig die mening dat die RSA `n demokrasie is – alle aanduidings is egter dat dit `n erg verwronge beeld is.

Dit is in hierdie onrustige tye seker nodig dat hierdie info onder die RSA burgery ook via Maroele Media bekend gemaak word.

Deon ·

“In die sowat 7 jaar van Zuma se bewind, het die Rand met sowat R14 teen die Dollar verswak”… Werklik? Dan moes ons nou omtrent R21-22 vir ‘n Dollar betaal het!
Of weet julle iets wat ons nie weet nie?

Herman Toerien ·

Duidelik ‘n fout aan my kant. My groot verskoning. Dit het ingekom by die feit dat sommige die hoeveelheid rand in die dollar gebruik, en ander die dollar as breukdeel van die rand gebruik.

Nico Strydom ·

Dagsê Deon
Baie dankie die berig is gewysig.
Vriendelike groete
Nico Strydom nms Maroela Media

Chris ·

Natuurlik sal hulle nie van Zuma ontslae raak nie, want terwyl hy daar is, skep hulle die pap wat reën. En hulle gaan nou soveel as moontlik skep voordat sy termyn verby is.

Pieter van Wyk ·

Chris, ek stem saam, jy slaan die spyker op die kop..

Philip ·

n Vraag, waarvan niemand seker die antwoord ken nie. Het van Rooyen in sy 4 dae in die amp as minister van finansies, nie dalk n paar ooreenkomste/voorleggings goed gekeur, wat nou nie meer ongedaan gemaak kan word nie. Was hy nie maar net gebruik as n “useful idiot” nie! (n slim skuif??)

arie plaasboer ·

@ Philip,
Dat D van Rooyen as `n “useful idot” gebruik sou word is sonder meer duidelik.
Plaaslike en internasionale druk en oproer het ons dit genadiglik gespaar.
Mens kan net spekuleer hoe lank sou hy gehou het nadat hy die ooreenkomste wat Z en sy trawante aan hom voorgehou het vir ondertekening, voordat hy m groot omhaal van woorde sy trekpas sou kry.

Henk ·

Is dit werklik so moeilik om te verstaan?
Zuma het ‘n staatsgreep in Pietersburg uitgevoer en van Mbeki ontslae geraak. Dit nadat hy sy vuilgat taktiek van die “intelligensie afdeling” van die ANC gebruik het, en ook mense geboelie het om seker te maak hy word ondersteun.
Hierna het hy soos Mugabe in Zim, maar veel vinniger, alles wat hy kon in die regerings strukture gekaap, deurdat hy sy kaders ontplooi het.
Deur dit te doen, het hy verseker dat die korrupste onder die korruptes oral in sleutel posisies is, en daarmee het hy vir homself ‘n versekeringpolis uitgeneem.
Sien, onder sy korrupte waak, het die korrupsie in die SA regering absoluut ontplof. Dit het aangeteel beter as wat enige rot kan teel.
Vir hierdie korruptes om in hulle posisies te bly en uit die tronk te bly (soos hulle leier) is dit absoluut noodsaaklik dat hulle die leier in sy posisie hou. Die oomblik as hy uitgeskop word, sit hulle sonder werk en heelwaarskynlik in die tronk.
So, waarom sal die ANC se “leiers” dan hul “leier” uitskop?
Ek dink nie ons moet ons verwar deur na die bende rampokkers as die ANC te verwys nie.
Hulle het wel die ANC gekaap tot hulle voordeel.

Therese van Schalkwyk ·

Lees gerus Neels Blom se artikel in BusinessDay waarin hy o.a. skryf:

“For the moment, Zuma is the fall guy, but the ANC, through its structures and down to the very last member, has corrupted the country”.

Waarskuwings dat Zuma se val nie die einde van korrupte ANC-regering gaan beteken nie, moet met meer erns bejeën word. As die onlangse gebeure nie mense se oë hieroor oopgemaak het nie, dan sal niks dit doen nie. Die skrywer se wisselkoers-feite is al genoeg van ‘n aanduiding dat die verval reeds in Mandela se termyn begin het. Elke kabinet sedert 1994 het die plundering sienderoë toegelaat, en daaraan deelgeneem.

Wittes se oorywerige deelname aan die anti-Zuma-optogte was ‘n fout. Die blote feit dat Amanda Gouws dit in Netwerk24 adverteer het, moes ‘n afskrikmiddel wees. Sy is met alle Afrikaner-sake aan die verkeerde kant van die draad en haar oordeel nie te vertrou nie. Slegs 7000 optoggangers, waarvan 5000 DA-stemmende Kapenaars was, kan met reg as ‘n mislukking gesien word. Dit kan slegs lei tot beskuldigings van rassisme, hoewel verkeerdelik.

Dis jammer dat plaasmoorde en die aanslag teen Afrikaans nie net soveel geesdrif aanwakker nie. Dalk omdat Zuma se flater aan die materiële sy van sake geraak het?

Johann Marx ·

‘n President van ‘n land is net so goed of so verrot, as die deursnee intelligensie van sy kiesers. Gaan lees: Die Dunning-Kruger-effek is ’n denkfout waarin relatief onbekwame indiwidue aan denkbeeldige meerderwaardigheid ly en hul eie vermoë foutiewelik veel hoër ag as wat dit werklik is.” Te lank om hier te bespreek………..maar die meerderheid van Suid Afrika dink hulle prez is awesome, want hulle’s nie veel slimmer as hy nie.

Rampie ·

Dis glad nie moeilik om te bepaal hoekom die kaders aan Zuma klou nie! Hulle verryk hulself al te lekker met kontrakte, tenders en tussengangers wat hy hulle wys om te doen. Enige iemand wat bereid is om n weddenskap aan te gaan oor die oneerlikhede wat nog op die lappe gaan kom met die reuse kernkrag transaksie?

Jacques ·

Ag asb man – die optog is op ñ vakansie dag gedoen. As dit enige ander dag was sou daar 10 000e mense gewees het wat hul werkgewers ń pit gedruk het en sommer oppad besighede geplunder het. Diegene wat wel daar was, sou pligsgetrou by hul werke gewees het, besig om die ekonomie in stand te probeer hou en taksgeld te skep om die res van die land (en veral ANC leiers en hul kaders) se “oorbevolkte” gesinne te onderhou…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.