Nuuskommentaar: Zuma vier fees op die graf van geregtigheid

Oudpres. Jacob Zuma tydens die naweek se mediakonferensie in Nkandla. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die afgelope naweek het die jongste verwikkelinge plaasgevind in die sogenaamde Zondo vs. Zuma-oorlog. Verskeie landsburgers het verlede week adjunkhoofregter Raymond Zondo se kant van die kamp geprys met geregtigheid wat oënskynlik uiteindelik geseëvier het – oudpres. Jacob Zuma is op pad tronk toe.

Tog is Zuma nie op pad tronk toe nie. In ʼn uiters voorspelbare stap het Zuma oor die naweek derduisende ondersteuners en Zoeloe-krygers by sy Nkandla-koningryk ontvang. Soos wat hy dit stel, was ondersteuners daar uit eie beweging en met die uitsluitlike doel om teen ongeregtigheid te veg.

Hierdie ongeregtigheid wesende die feit dat Zuma – die ewige slagoffer van onderdrukking – à la apartheidstaat sonder verhoor tronk toe gestuur word. Zuma en sy ondersteuners het daarom oor die naweek in protes opgestaan teen sy onregverdige vervolging.

Tydens hierdie byeenkoms het meer as 3 000 ondersteuners bymekaargekom, in ʼn stadium gebraai, gedrink, tussendeur joernaliste gedreig en aangeval, feitlik alle inperkingsregulasies oortree en ook skote in die lug afgevuur. Bronne berig dat daar oor die naweek, veral gisteraand, ʼn feestelike atmosfeer geheers het.

Daar was immers iets om te vier – Zuma het weereens die regsorde kliphard met ʼn vuis in die gesig geslaan en ook daarmee weggekom. Enigeen wat eerlik na Zuma se geskiedenis met reg en geregtigheid gaan kyk het, sou voorspel dat hy homself nooit of te nimmer Sondag aan die polisie sou oorhandig nie. Ten spyte van wat die Konstitusionele Hof in sy uitspraak verduidelik het, is hy egter ook nie Sondag deur die minister van polisie en die nasionale polisiekommissaris na die tronk vergesel nie.

Dit natuurlik weens die twee dringende aansoeke wat Zuma en sy regspan verlede week onderskeidelik voor die Konstitusionele Hof en die Pietermaritzburgse hooggeregshof gebring het. In hierdie aansoeke poog hy basies om tronkstraf vry te spring op die gronde dat hy nie ʼn regverdige verhoor gehad het nie. Hoewel hierdie uiteraard nie waar is nie, het die grondwethof toegestem om sy aansoek aan te hoor. Dit is deur verskeie regskenners as uiters vreemd, baie ongewoon en selfs absoluut absurd bestempel. Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner, verduidelik hoe hierdie aansoek eintlik summier van die hand met ʼn gepaardgaande kostebevel gewys moes word: “Dit maak ʼn bespotting van die reg.”

Hierdie stelling is ook blykbaar oudpresident Zuma se persoonlike lewensleuse. Zuma se nuutste strategie in die ontduiking en belediging van die reg is om duisende ondersteuners as menseskild te gebruik. Hy het self Sondag genoem hoe die polisie hom nie in hegtenis kan neem solank as wat sy ondersteuners daar is nie. Zuma het duidelik besluit dat nóg oranje nóg verantwoordingdoening kleure is wat by hom pas.

Hy stel dit natuurlik herhaaldelik dat hy sommer vandag al met liefde tronk toe sou gaan as daar nie so ʼn ongeregtigheid teen hom gepleeg is nie. Zuma is bloot bang dat die demokratiese Suid-Afrika weens ʼn persoonlike vendetta teen hom net so onderdrukkend soos die apartheidstaat word. Tronkstraf word nie ontduik omdat hy ʼn vyand van die gereg is nie, maar eerder omdat die gereg ʼn vyand van hom maak.

ʼn Verdere rede waarom hy egter nie tronk toe kan gaan nie, is omdat tronkstraf midde in ʼn pandemie weens sy ouderdom en gesondheidstoestand vir hom op doodstraf sal neerkom. Sy gesondheidstoestand en ouderdom moet eerder, veral in die lig van die pandemie, as versagtende omstandighede oorweeg word. (In die lig van die feit dat hy natuurlik nooit ʼn regverdige verhoor gehad het nie, kon hy dit egter nie eers opper nie – wat ʼn jammerte!)

Dit is op hierdie punt waar Zuma se kapperjolle van die afgelope naweek die absolute perfekte weerspieëling word van sy afgelope 20 jaar se openbare “diens” as politikus – elite skynheiligheid deurtrek met eie belang.

Oudpres. Jacob Zuma tydens die naweek se mediakonferensie in Nkandla. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Zuma het die afgelope naweek herhaaldelik verduidelik hoe sy swak gesondheid midde in ʼn pandemie sy tronkstraf in doodstraf sal verander. Dit impliseer natuurlik dat ouer, sieker mense vatbaar is vir hierdie virus en daarteen moet waak. Tog was sy afgelope naweek ook gekenmerk deur ʼn flagrante verontagsaming van feitlik alle inperkingsmaatreëls. Weens een of ander geheimsinnige mediese toestand kan Zuma blykbaar nie ʼn masker dra nie – so ook het hy die afgelope naweek nooit ʼn masker gedra nie.

Weens sy persoonlike toedoen het hy derduisende mense blootgestel in ʼn superverspreidersgeleentheid en hulle eintlik aangemoedig om alle inperkingsmaatreëls te verontagsaam. Wat ʼn mens ook al van die huidige vlak 4-inperking dink, is ʼn samedromming van duisende mense, tydens ʼn derde Covid-golf, sonder maskers, in ʼn land wat steier in sy inentingspogings werklik dwaas. So ʼn samedromming wat deur ʼn “leier” aangemoedig word, is ook net roekeloos. Zuma wat dan daarna in eie belang agter dieselfde virus wil skuil, kom doodeenvoudig neer op skreiende skynheiligheid.

Is dit dan ook nie eintlik die perfekte beskrywing van Zuma se geskiedenis as politikus nie? Hy gee regtig nie om oor die welstand en veiligheid van sy eie mense nie. Indien hy hulle as menseskild kan gebruik, sal hy dit nie van die hand wys nie. Indien elkeen van daardie mense Covid kry, honderde ernstig siek word of selfs doodgaan, is dit seker maar so – ten minste word daar teen sý ongeregtigheid geveg. Indien hy dan in blatante skynheiligheid, vir persoonlike gewin agter presies dieselfde virus kan skuil waaraan hy sy ondersteuners blootstel, is dit eintlik ʼn fantastiese bonus.

Solank as wat hy hierby kan baat, is dit die moeite werd – ongeag die prys wat die mense dalk daarvoor sal betaal.

Sodoende is Zuma selfs in sy ondergang ʼn selfsugtige elite politikus wat gewone mense soos weggooibare wapens vir persoonlike belang gebruik. Die enigste morele standaarde en maatstaf wat hy oënskynlik handhaaf, is of hy en sy belange bevorder word. As skadu van ʼn Marie Antoinette bulder Zuma ook dat die mense maar koek kan eet. Hulle moontlike lyding of ongeluk is vanuit die troon van elite narcissisme ʼn onbenullige krummel.

Waarom sal mense se eie welstand nou soveel saak maak as hulle die glorieryke en historiese geleentheid kry om in die stryd om Zuma se vryheid te veg?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

melaney ·

Zuma gaan nêrens heen nie. Inteendeel, indien sy gupta maats hulle ooit op SA bodem bevind, sal zuma die een wees wat hulle terugverwelkom en as gaste by nkandla huisves. En bewaar die een wat hulle daar wil kom oplaai.

KB ·

Dis nou maar eenmaal tyd vir ‘n finale waarskuwing, dan bring jy die weermag in, arresteer en voer af na die tronk. Dis jammer dat hy hom skuldig maak aan regsvergryping. Hy bring dit oor homself.

Werner ·

Die feit dat zuma so lekker fees vier is ny sy skuld nie maar hierdie hopelose regering sin.Natuurlik sal zuma hulle slegtegeit uitbuit.Dink eerder die opskrif vir hierdie artikel moes gewees het hopeloosheid vd regering dans op die graf van geregtigheid .Dis nou ou cyril en bheki

Dup ·

Jakob beweer hy is te oud en te sieklik om vir 15 maande tronk toe te gaan.Hy het egter die afgelope naweek springlewendig en gesond gelyk….

Androclus ·

Zuma is die grootste lafaard hy is nou bang vir die tronk.Stuk gemors.

marius ·

Rook en spieels . Dit is al lankal so afgespreek . Glo dit maar .

Gert ·

Gaan in en vat hom die wat teesit beskerm ‘n krimineel dus vat hulle ook. As die gespuis begin aanval is die polisie geregtig om die minum geweld te gebruik om hulle te stop

Elise Georgina Irene ·

Wonderlike berig na my mening wat kommentaar op gebeure lewer, opreg rapporteer en verskil tussen goed en sleg direk aanspreek! Touché!

sopbeen ·

Moenie Zuma so baie krediet gee nie. Hy het geen regskennis. Daar is mense rondom hom wat vir hom en namens hom dink en praat.

Elize ·

Dit het eintlik niks met Zondo te doen nie maar alles met Zuma as magsvergryper en controller delux

Kosie ·

Die grondwethof kan hulle maar toemaak vir wat dit my aanbetref; dit is niks anders as ‘n manier van ‘n eksterne persoon, om gewone hardwerkende landsburgers te ondermyn en te onderdruk nie. Ek is geen voorstaander van meneer Zuma nie, maar die grondwethof met al sy Soros befondste regters se uitsprake laat ook veel te wense. Hoekom praat niemand oor die hof uitspraak waar amper ‘n miljard (R1000000000.00) spandeer is om Cyril te laat wen en die grondwethof wat toe besluit dat dit nie ongerymd was nie; seker maar omdat dieselfde individue wat Cyril befonds ook die regters befonds. ‘n Eksterne persson betaal soveel geld om te verseker dat die nar wat tans die president is, die president word, en die blinde grondwethof sien niks fout daarmee nie; maak dit vir enige iemand sin?

JohanR ·

Kan enige EEN persoon in die wereld soe verag wees? Ek is seker in die skool lewe het julle boelies tee gekom met daai grynslag op die gesig wat jy net wil af klap. Soe voel ek oor Jacob Zuma!

Vrijburger ·

Soos altyd, ‘n goeie annalise deur Monica.

En wonder ek by myself, hoe boos kan boosheid wees in hierdie hartseer land?

JM ·

Mag dit Zuma se laaste fees wees! Die land het nou genoeg van hom gehad.

Chef ·

Hierdie optrede van Zuma en die gebrek aan enige optrede deur die Polisie is weereens ‘n bevestiging van die absolute krisis van wanbestuur en geregtelike verval wat ons in die gesig staar! Die swaard van dreigende geweld en openbaarmaking van geheime word openlik deur Zuma en sy trawante geswaai en laat die politici en die regbank bewe. Holrug geryde uitlatings deur die politici laat ‘n bitter smaak in die mond. Die regbank en Cele / polisie maak n bespotting van enige regspleging.

Anton J ·

Geen vertroue in die polisie, minister van polisie nie. Hulle kon nie die funksie stop as ‘n onwettige byeenkoms a.g.v die covid reëls soos deur hulle eie regering bepaal is nie. Bang vir ‘n bloedbad! Eerder bang vir Zuma. Hier is die bewys, Zuma nog in beheer van Suid-Afrika..

Willem ·

Dit wil voorkom dat IK en die verspreiding van covid 19 indirek eweredig is…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.