Nuuskommentaar: Zuma voorbeeld van wat gebeur as vrot eier uitbroei

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Historiese bagasie met ’n geurtjie en huidige optredes kan liederlik saamspan om die geskiedenis se koers te bepaal. Gister se eenparige volbank-uitspraak van die Noord-Gautengse hooggeregshof waarin die regters eenparig die vloer met pres. Jacob Zuma gevryf het, is ’n baie goeie voorbeeld waar dinge van verskillende fronte die leier aan die hakskene kom byt. Elke keer word ’n klein bietjie meer gif oorgedra.

Direk ná Zuma se herverkiesing tydens die ANC se vorige leierskapsverkiesing in Bloemfontein het die Nederlandse koerant Trouw die ongewone gedoen om die Zuma-debakel in ’n spesiale hoofartikel te bespreek. Zuma se herverkiesing is toe reeds as ’n fout ten koste van die land beskryf.

Die koerant het egter ook ’n paar ander belangrike aspekte uitgewys, waaronder die “kapitaal” wat die land gekry het toe Nelson Mandela president geword het. Dom VN-besluite deur Suid-Afrika en ’n voorliefde vir muishondlande het reeds in Mandela se tyd die land se kapitaal begin wegvreet. Toe Zuma president geword het, was dié kapitaal opgebruik.

By naskoue was dié waarneming besonder akkuraat. Zuma het daarvoor probeer kompenseer deur by Rusland en China te gaan vlerksleep. Hy het algaande meer en meer ’n anti-Westerse houding begin inslaan, en onlangs is berig dat daar selfs ’n moontlikheid is dat adj.pres. Cyril Ramaphosa op sterkte van ’n “intelligensieverslag” gearresteer sou word omdat hy glo ’n Westerse spioen sou wees.

Zuma het onder meer gesê dat “korrupsie ’n Westerse konsep” is. Telkemale moes ministers ingryp om te keer dat Zuma se onoordeelkundige losbekkigheid nie Suid-Afrika se baie voordelige lidmaatskap aan Agoa in die stof laat byt nie.

Nou het Suid-Afrika rommelstatus verwerf en Zuma se hand (of eintlik sy groot mond) hang swaar daaroor. En as Zuma sy sin kry, sal sy gewese vrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, hom dié naweek as leier van die ANC opvolg, en die rampspoedige “beleids”-rigtings voortsit.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. Foto: Flickr/GovernmentZA

Kort na mekaar het die Noord-Gautengse hooggeregshof egter slae aan Zuma uitgedeel, en selfs ’n persoonlike kostebevel teen hom toegestaan. Dit nadat die konstitusionele hof hom ook deeglik die leviete voorgelees het. In ’n paar gevalle was dit weens sy halsstarrige weiering om die gesag (en insig) van die vorige openbare beskermer te erken. In die proses het Zuma ’n enorme regskoste-rekening vir die belastingbetalers se sakke besorg (en hy weier om die belastingbetalers in te lig oor hoeveel dit hulle uit hul platsakke gejaag het).

Zuma se strategie om die impak van hofuitsprake te versag was eerstens dat hy en sy kornuite die howe verdag gemaak het, deur hulle byvoorbeeld as bondgenote van die DA te skryf, en deur te impliseer dat hulle die demokrasie ondermyn deur hul gesag te “over reach”. By geleentheid moes Zuma die hitte afkoel wat tussen hom en hoofregter Mogoeng Mogoeng ontwikkel het, in ’n proses wat nogal herinner aan die geval toe die keiser van die Heilige Romeinse Ryk die knie voor die pous moes buig. Dit het egter niks aan Zuma se styl om die howe as vertragingsmeganisme in te span verander nie. Ook in die twee bloutjies wat hy nou in die Noord-Gautengse hooggeregshof geloop het gaan hy appèlprosedures gebruik, of eerder misbruik, om die proses te vertraag.

En al het dit duidelik ’n impak op steun vir die ANC, het Zuma steeds ’n magsbasis wat hom uiters gevaarlik maak. Boonop kan hy, ingevolge die grondwet, nog tot 2019 as staatspresident aanbly, al moet hy nou as die ANC se president uittree. Dit bly nou in die ANC se hande om, in eiebelang as niks anders soos landsbelang dan tel nie, vir Zuma as president te “herroep”.

Anderkant die Atlantiese Oseaan het ’n situasie hom afgespeel wat nogal aan dié in Suid-Afrika herinner. In die verkiesing van ’n senator in die suidelike en konserwatiewe deelstaat Alabama, het Doug Jones die eerste Demokraat in 25 jaar in dié deelstaat geword wat as senator verkies is. Die republikeinse kandidaat, Roy Moore, is deur pres. Donald Trump sterk ondersteun, al is daar bewerings van onbehoorlike seksuele optredes teen Moore. Die gevolg is dat die Republikeine se meerderheid in die senaat tot een gekrimp het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marianne ·

‘n Toe bek is ‘n heel bek. Laat Ek eerder stil bly. Ons land kort soos die VSA NUWE BLOED

Eish ·

Dalk die beste opsie want:
Die linkervleuel van die Aaaensee
en sy regtervleuel,
is deel van dieselfde aasvoël.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.