Nuuskommentaar: Zuma vra kiesers vir blanko tjek

Pres. Jacob Zuma

Pres. Jacob Zuma

Jare gelede, volgens oorlewering, het die destydse minister Blaar Coetzee gesê in die politiek is daar nie so iets soos slegte nuus nie.

Die beginsel geld dikwels meer omvattend. Meer as ‘n dekade gelede het die staat reeds miljoene rande bestee om die komende sensus bekend te stel. Daar was onder meer nuusberigte daaroor oor die TV-stasies in die nuushooftrekke, en die radiostasies, sowel as koerante het al berigte daaroor gedra. Talle bekendstellingsfunksies is landwyd gehou. Maar die beamptes op grondvlak het hulle gefrustreerd teen ‘n muur van onwetendheid vasgeloop, laat staan nog enige begrip oor die noodsaaklikheid daarvan. Toe breek ‘n storie oor kondome wat iemand in sy wysheid besluit het deel moes wees van die sensuswerkers se “gereedskap”. Oornag het almal van die sensus geweet.

As Nkandla en ander skandale iets vermag het, was dit om pres. Jacob Zuma onder ‘n iedere en ‘n elk se aandag te bring. Die man wat eens vir sy dag in die hof gevra het, het in ‘n meester-Houdini ontaard dat die howe nié die geleentheid moet kry nie om oor sy aandadigheid al dan nie aan allerlei misdrywe te oordeel.

Die een keer dat hy wel die volle verhoor moes deurstaan was toe hy van verkragting aangekla is, en vrygespreek is na hy owerspel suksesvol as verweer aangevoer het.

Daar was ander sake wat hom sterk impliseer, soos ‘n regter se formele opmerking dat daar ‘n algemeen korrupte verhouding tussen die veroordeelde misdadiger, Shabir Shaik en Zuma bestaan het. ‘n Saak om opnamebande beskikbaar te stel wat moontlik tot die heropening van ‘n verhoor teen die president kan lei, het al tot in die appèlhof gevorder, maar die regsproses moet weer aangepak word omdat dit nie gebeur nie.

Nou het die president versuim om aan die parlement volledig te antwoord op ‘n verdoemende verslag van die Openbare Beskermer. Zuma gaan eers volledig antwoord na die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) sy verslag oor Nkandla voltooi het, en die SOE het bevestig die verslag sal eers na die verkiesing voltooi wees. Gerieflik.

Die ANC het die geledere om Zuma gesluit. Nog voor die jongste verwikkeling het die ANC-ringkoppe dit duidelik gemaak dat kritiek op die eierdans deur senior ANC-lede nie waardeer word nie.

Die slotsom is dat, tensy iets baie vreemd gebeur, die kiesers op 7 Mei ‘n blanko tjek moet gaan teken, en die bedrag eers daarna ingevul gaan word. Letterlik, want dit sal onder meer bepaal moet word of Zuma self vir die verbeterings aan sy privaatwoning moet betaal wat nie deur die geldende regsreëls geregverdig kan word nie. Zuma self se houding is dat hy nie gaan betaal nie “omdat ek nie daarvoor gevra het nie.”

Geen wonder die draakstekery loop wyd nie. Mense sê hulle gaan nie e-tol betaal nie, want hulle het nie daarvoor gevra nie. Chester Missing (wat op e-TV optree) wil nie meer aan die SABC lisensiegeld betaal nie omdat hy nie gevra het dat SABC 1, 2 en 3 op sy TV beskikbaar moet wees nie. Daar is egter een groot verskil – die publiek kry dinge waarvoor hulle moet betaal sonder dat hulle ‘n sê in die saak het. Zuma kon, en moes, enige tyd ingemeng het om te keer dat dit wat hy nie wou hê (en voor betaal moes word nie) “afgelewer” word.

Watter lid van die publiek sal nou, as daar per abuis ‘n klavier KBA (kontant by aflewering) by sy huis afgelewer word, die klavier laat indra en dan bloot weier om te betaal omdat hy nie daarvoor gevra het nie?

Maar hoe gaan die kiesers op die situasie reageer. Gaan hulle die blanko tjeks teken? Of in vandag se idioom – gaan hulle hul bankkaarte met pin-nommer en al afteken?

Die jongste Ipsos-peiling toon eerder dat die ANC ‘n persentasie meer stemme gaan kry as met die vorige verkiesing, na vorige peilings getoon het die ANC het wel houe weg. Die onderskatte Julius Malema het egter meer daarmee te make gehad as ‘n ANC-drostery weens toestande wat tot ritse diensleweringsbetogings lei. Of dan in die ANC se idioom, twintig jaar se goeie storie om te vertel.

Gaan dieselfde as met die vorige verkiesing gebeur toe kritiek op Zuma vertolk is as kritiek op swart mense, en dit in die gesig van die opposisie geboemerang het?

Of is daar nou genoeg swart leiersfigure in die teen-Zuma-kamp wat nié as “coconuts” afgemaak kan word nie, dat Zuma en kie dit moeiliker gaan vind om weer ‘n rassesensus van die verkiesing te maak? Die blote feit dat daar nou figure soos Malema, Vavi en ander in wisselende mates nie in die Zuma-tuig trek nie, verander moontlik die speelveld net genoeg dat die rasse-sensus minder duidelik afgespeel word.

Dié vraag sal oor die volgende maand besleg moet word, en die verkiesingsstrategieë sal dit fyn moet dophou.

Of is Blaar reg dat daar in die politiek nie so iets soos slegte nuus is nie? Watergate en Frankryk se pres. François Hollande se sekskapades het getoon dat daar wel slegte nuus kan wees. Maar dan, Suid-Afrika is nie die VSA, Frankryk of enige ander demokrasie nie.

Oor ‘n maand is die pen wat die blanko tjek moet teken letterlik in elke kieser se hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

George Barnard ·

Se my is daar nie n manier om die clown by die wereld hof aan te kla nie,daar moet n manier wees

Ria Maritz ·

Herman Toerien – komplimente met hierdie UITSTEKENDE rubriek van jou !

Dit is nou goed geskryf.

p0p ·

Die wereld gee nie om wat hier aangaan nie. Boere word vermoor en die president maak en breek soos hy wil. So gaan dit dwars oor Afrika. Almal het ingemeng toe ons in Apartheid geleef het. Nou los die wereld ons uit, om met die gemors wat hier aan gebeure is te worstel. Die menseregte woord beteken niks.

henk ·

twee probleme, eerstens die “kiesers” is ongeletterd en oningelig en wor dmaklik geintimideer deur hulle broerders.
tweedens, die anc het reeds soos die zanupf die tegniek vervolmaak om ‘n verkiesing te manupileer en verkiesingsbedrog op groot skaal te pleeg EN nie om te gee oor die feit dat die wereld dit weet nie.
Die wyse waarop hulle zuma se korrupsie net doodeenvoudig ignoreer en hom aanhou is bewys van hul korrupte denkwyse.
En dan is daar natuurlik die geval van – waarom sal hulle zuma uitstem of van hom ontslae raak as dit tot hulle sakke se voordeel strek?
Is ek verkeerd? Hoeveel korrupsie is daar in die staatsdiens?

Hennie Pienaar ·

Ek stem saam met pOp. Europa was sterk agter die invloed van die ANC. Nou boemerang hul demokratiese wense vir SA en ontaard in ‘n skandalige korrupte nagmerrie waarvoor hulle nou te papbroek is om die verantwoordelikheid daarvan te aanvaar.

Leana ·

Absoluut uitstekend saamgevat in jou rubriek Herman. Hoop om baie meer sulkes uit jou pen te sien in die toekoms.

Olbol ·

Twee dekades gelede het die buitewêreld Suid-Afrika se ou bewind op sy knieë gehad en gedwing om vinnig die mag oor te gee aan ‘n proletariaat van wie goed 90 persent vanweë hul kulturele agtergrond nie werklik die Westerse beginsels van verantwoordelike regering kon snap nie. Noudat Suid-Afrika weens die plotselinge rypdrukkery (pleks van ‘n meer geleidelike oorgang) groot probleme op alle regeringsvlakke ondervind, swyg die buitewêreld in alle tale.
Die mees tragiese is die vele ontheemde Afrikaners wat land uit gewyk het omdat hul potensieel kosbare insette, wat so ‘n verskil in ‘n nuwe Suid-Afrika kon gemaak het, deur die onbesonne toepassing van regstellende aksie tot niet gemaak is. Dit laat ‘n wrang smaak dat soveel van my eie familielede en vriende se kinders nou in Brittanje, Australië en elders sit. Daar doen hulle nuttige werke wat kon gehelp het om Suid-Afrika soveel sterker te maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.