Nuuskommentaar: Zuma vs die boere / Boere

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Gaan Zuma in sy staatsrede die lug tussen hom, die boeregemeenskap en die Afrikaner probeer suiwer? Dis beslis iets wat dringend nodig is. Of gaan hy die wig dieper indryf? Ook oor ander kwessies lê die pak skuldbriewe wat in die toespraak vereffen moet word dakhoog.

Miskien nou, met tekens van ’n verswakte pres. Jacob Zuma en broeiende faksiegevegte in die ANC is dit juis ’n goeie tyd om Zuma vas te vat. Daar kan dalk (stille) steun uit onverwagse oorde kom.

’n Teken dat die voet nou neergesit word, én steun geniet, was berigte oor die nuus dat die TLU SA ’n prokureursbrief op Zuma bestel het om hom in kennis te stel dat hy voor die gelykheidshof gedaag gaan word. Die kern van die saak is dat Zuma tydens sy sogenaamde 8 Januarie-toespraak gesê het wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Soos maar te dikwels, het hy ook hier van sy geskrewe toespraak afgewyk om sy voet daarin te sit.

Uit die leserskommentaar is dit duidelik dat die TLU se stap groot steun geniet. Die TLU SA was nie die eerste wat Zuma hiervoor gegryp het nie. Die Vryheidsfront Plus het vroeër ook Zuma oor die einste aangeleentheid by die Menseregtekommissie (MRK) verkla. Die Menseregtekommissie se kantoor in Noordwes het hom egter gehaas om te laat weet dat hy nie die saak gaan ondersoek nie omdat hy nie jurisdiksie sou hê nie en “dat die opmerkings nie die skending van menseregte behels ingevolge die Grondwet nie”.

Die VF Plus teken appèl aan. Ander instansies, soos Front Nasionaal, doen stappe.

Te midde van die erge droogte, verhoog die regering die minimumlone van plaaswerkers met 9 persent. Dit is meer as die 7 persent, of inflasie plus een persent, waarmee die owerheid sy eie salarisrekening probeer beperk. Dit volg teen die agtergrond van ’n onlangse verslag van die Internasionale Arbeidsorganisasie waarin onder meer bevind is dat regeringsinmenging in landbousake, soos onbuigsame arbeidswetgewing, tot werksverliese in die landbousektor aanleiding gee.

Intussen dryf die ANC ’n effens verbeterde weergawe van ʼn nuwe onteieningswet deur die parlement. Hoewel dit nie net die landbou raak nie, gaan dit uiteindelik die landbou die hardste slaan. Die erns van die saak blyk daaruit dat al drie Afrikaanse Media 24-koerante vandag dieselfde hoofartikel hieroor dra. Die essensie word soos volg gestel: “Die uitdaging bly dat grondonteiening só moet plaasvind dat geen party te na gekom word nie. Hierin skiet die wetsontwerp, wat deur die portefeuljekomitee vir openbare werk aanvaar is, tekort. Die vervanging van die vryemark-gerigte beginsel van gewillige koper en verkoper – wat volgens die ANC-regering misluk het – met onteiening, stuur erg radikale seine.”

Dit alles geskied teen die agtergrond dat daar nog steeds ʼn groot wolk van onsekerheid is oor of plaasaanvalle werklik tot prioriteitsmisdaad verklaar is, en of dit ’n windslukkery met woordspel was.

Vanuit ’n grondwetlike en juridiese oogpunt is dit reg dat Zuma gegryp word. Die Grondwet vereis immers gelykberegtiging, en die regering, of regerende party, kan nie maar net lustig die mossies met voorhamers wil doodslaan, terwyl Zuma self lustig polariserende konflik aanblaas nie.

Vanuit ’n pragmatiese oogpunt is dit veel ingewikkelder. Gaan die looi van ’n gekweste Zuma enigsins vir die boere / Afrikaner / minderheidsgroepe ’n regverdiger bedeling te midde van verbeterde gesindhede bring? Of gaan dit bloot verhardend inwerk?

Natuurlik beteken die los van kwessies nie dat dinge in elk geval nie sal bly versuur nie. Salomo sou nou goed te pas gekom het.

Juis daarom is die oë so gevestig op die komende staatsrede.

Trouens, die staatsrede is nog nie gelewer nie, maar ontleders begin reeds dissekteer aan dit wat moontlik gesê gaan word. En daar is ’n magdom uiters belangrike kwessies wat aangespreek moet word, waaruit onder meer afgelei kan word of Zuma vir die res van sy termyn ’n verlamde president gaan wees.

Talle kwessies moet duidelik opgeklaar word, nadat sake soos ekonomiese beleid in weerwil van die ekonomiese ontwikkelingsplan erg verwaarloos is. Oor buitelandse beleid moet heelwat duidelikheid verkry word. Baie dinge hang in die lug weens teenstrydige uitsprake of sommer net bontpratery. Of, een ding word gesê en ’n ander gedoen.

Maar oor baie binnelandse kwessies moet baie duidelikheid gekry word. Wat verstaan die ANC onder die term “demokrasie”? Bloot maar ’n dommekrasie gemik op ’n meerheidstirannie? Of ’n grondwetlike demokrasie waar die Grondwet meer werd is as die papier waarop dit geskryf is, en waar minderheidsregte in pas met die internasionale reg is?

Oorhoofs is dit nie ’n toutrekkery tussen Zuma en die boere / Boere nie, maar in dié stadium is die krane teen die boere en die aanslag teen Afrikaans net te groot oopgedraai dat dit nie ’n belangrike aspek van die politieke werklikheid is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jan maak n Plan ·

Mense dis verkiesings jaar – hy gaan net die regte goed se wat sy maatjies en hulle kiesers wil hoor. As die boere vir hom gestem het, sou hy hulle ook gelukkig gemaak het, maar heellaas nee, dryf hulle ook verder oor die afgrond saam met die ekonomie.

alida ·

Natuurlik gaan hy niks se nie. Die vrae ontduik soos altyd en net spook om homself uit die tronk te hou.

boer ·

Wie wil nou die koei he as hy kla die melk persent kry? Alles verkiesings geraas, boer en werk rustig voort mede boere. Glo en vertrou op GOD alleen.

Loeis ·

‘n Paar gedagtes:
1 Zuma sê dat boere grond gesteel het sodat hy meer soos die EEF klink want hy is bang lg neem steun by die ANC af (dit gaan waarskynlik gebeur). Op daardie noot is dit opvallend hoe hulle grond teiken, en nie die land se minerale wat die laaste meer as eeu (veral na die Tweede Vryheidsoorlog) so in buitelandse hande geval het nie.
2 Die onteieningswet moet darem nog deur die parlement gaan, wat beteken dat daar ‘n taamlike lawaai kom. Ons weet egter dat met 62% ANC setels in die parlement, dit deurgestem sal word. Gelukkig kan die wet dan aan die grondwet getoets word wat beteken dat dit nie noodwendig wet sal word nie.
3 Iets wat ek al baie gesê het: Zuma is nie die probleem nie. Mbeki se wette oor swart bevoordeling het enorme skade aan die land en die ekonomie aangerig. Die ANC het hom aangestel. Die ANC het Zuma aangestel. So die eintlike probleem is die…
4 En nee, niemand gaan die ANC by die stembus verslaan nie, daarvoor het die BLANKE kiessers in 1992 gesorg.
5 As die spel se reëls so geskryf is dat mens nie kan wen nie, moet mens kyk of jy ‘n ander spel kan speel. Voor 1994 het die KP dit voorgestel. Vandag stel VF+ en FN dit voor. Dit word selfbeskikking genoem.

Leonie Booysen ·

Beslis FN ek hoop die wit mense in Suid Afrika maak hule verstand oop en dink nie weer emosioneel aan die swart bewind spps in 1994 nie. Die tyd het gekom dat ons aan onsself dink

Rynhardt ·

Waar gaan Zuma ooit iets goed se oor die boeregemeenskap? Dit sal n vloek wees wat hy oor homself en ondersteuners sal uitspreek.Kyk na die wette wat hy en Anc deurvoer in parlement.Net so pl valslik gee Malema voor vandag in Die Burger:”Alle Afrikaners is nie rassiste nie”.Dit is die ou wat openlik in die openbaar,”Skiet die Boere” gesing het! Hy praat beslis nie namens ons afrikaners oor enige iets nie! As Zuma die boeregemeenskap prys, gaan SA getref word deur stormwinde, reen en oneindige haal! Ek val nie vir Zuma nie, nog minder vie sy vriend Malema met die rooi beret!

Loeis ·

Stel jou voor: die kiessers in die Afrikaanssprekende dele van Pretoria soos die Moot, Pretoria-Noord end (hierdie is ‘n voorbeeld) gee ‘n party wat vir selfbeskikking staan ‘n mandaat. Dit sal natuurlik baie meer as net stemme kos om by die einddoel uit te kom (ek voorsien petissies, hofsake en ander aksies want ‘n klomp sal met alles wat hulle het daarteen baklei). Daardie dele breek weg uit “Tswane”, en vorm ‘n eie stadsraad. Geen meer vermorsing van belastinggeld op naamsveranderinge of onbehoorlike kontrakte nie, waarskynlik geen korrupsie nie ens. So ‘n raad beteken nattuurlik selfbestuur op ‘n mikrovlak, maar dit is ‘n begin, en sal baie goed vir die kiessers wees. Vandaar kan ons onsself opwerk. Mens hoef jou nie iewers te gaan afsonder nie. Hierdie is ‘n gondwetlike reg, en is een manier om uit die ramp waarin ons is, te begin klim.

Grassie ·

Dit sal nie vir Zuma polities korrek wees om enige sweem van goedgesindheid teenoor die boere en Boere te wys nie. Dit is in die eerste instansie strydig met wat hy en die hele ANC-boksemdaais voel en die agendas wat hulle bedryf. Tweedens sal hy nog meer steun aan die EFF afstaan. Hy is beslis banger vir die EFF as vir die DA. Hy weet die EFF het die potensiaal om baie vining te groei terwyl die DA hul plafon bereik het. Hy mag so ‘n ietsie sê omtrent die prioriteitstatus van plaasmoorde en ‘n bietjie simpatie oor die droogte,maar dit sal net lippetaal wees.

Kort-en-kragtig ·

Dit gaan my verstand te bowe dat die skrywer van hierdie berig (blykbaar) nog steeds nié besef dat die ANC geen respek het vir enige “grondwetlike demokrasie” waarbinne die Grondwet meer werd is as die papier waarop dit geskryf staan nie. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die feit dat Zuma nooit in die hof sal verskyn vir enige vorm van “rassisme” of “haatspraak” nie. In plaas daarvan om ons te irriteer met hierdie gedurige gesanik oor Zuma, behoort die Soliforum-organisasies eerder gesprekvoering te stimuleer oor behoorlike oplossings vir hierdie land se probleme – sonder die toepassing van kinderagtige sensuur!

Herman Toerien ·

Sjoe, en eergister, en tot ‘n mate gister se nuuskommentaar het juis gehandel oor die gebrek aan respek van die ANC vir die grondwet en grondwetlike demokrasie. En so ook al vele daarvoor.

Henry ·

Jammer dat jy en jou pelle so suur en aanvallend teenoor Herman Toerien en ‘Soliforum’ is.
Maar nouja.
Afguns, komende vanuit die geledere van die bekende klakouse wat altoos met allerlei kwetsende uitlatings en persoonlike beledigings hulself en Afrikaners gereëld met ‘n plank slaan, is eweneens ook nie nuut nie.
Gelukkig en ten spyte van onderlinge verskille, kan die meerderheid Afrikaners by ‘Soliforum’ voortgaan om ons belange – met heelwat bewese sukses – teen die vyand en andere probeer beskerm met aksies ipv deursigtige, niksseggende en kwetsende kommentare..
Miskien moet jy en jou alter-ego’s liewer jul frustrasies met ons dommes hier by ‘Soliforum’ vermy. Loop deel veel eerder jul ‘wyshede’ met jul pelle en eendersdenkendes totdat al oom Daantjie se kallers weer terug in die kraal is…

Sarie ·

Stem saam Henry. Solidariteit en Afriforum werk hard vir Afrikaans en die Afrikaner en verdien nie hierdie negatiwiteit nie.

Anoniem ·

Wens so ons kon sien, hoe hy enigsins op tv verklaring iets uitgereik of gesê het “Ek as leier van my regering moet ingryp en die boere met die droogte gaan help , asook met die watertekorte. Soos stories van ouds( soos ‘n ware held of leier) ry hy voor met sy vlag, en sê kom mense dat ons reël vir die vervoer van gras en water vir ons land se diere en medeburgers en by soveel plase aangaan en wys hy gee om” Maar nou ja, dis asof hy stiksienig en hardhorend is, vir sy mense se hulp uitroepe!

Dee ·

Herman, ek fight nie met jou nie want ek geniet gereeld jou artikels. Wil jou net wys op die heel eerste sin in jou skryfsel en die lug daaroor suiwer. Zuma stel nie staatsredes op nie maar kan as gevolg van tweeledige oftewel omdat hy dubbel gegrad(u)eerd is (graad 1 & graad 2) , redelik vlot lees en dìt sien ons gereeld op die skerm. Hy lees bloot af wat hy aangesê word om te doen en die lag is wanneer hy wonder wat hy so pas gelees het en waaroor dit werklik gaan. Hy stel nie daardie staatsrede op nie en sien dit waarskynlik ook eers dieselfde dag as ons of miskien ‘n uur vroeër wanneer hy oefen om dit glad te lees.

Liewe lulu ·

En wanneer dit wat hy lees bo kant sy begripsvermoe is begin hy bollie uit die vuis te praat………oeps daar gaan my kommentaar

J van Wyk ·

Herman Toerien – jy praat van hoop op tydelike oplossings. Ons moet die slawe-juk van ons afgooi en self regeer. Niks anders is goed genoeg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.