Nuuskommentator Herman Toerien groet

herman-toerien-02

Herman Toerien. (Foto: Verskaf)

Deur Susan Maré

En skielik is ek in ʼn gang, onherroeplik op pad na die chemokamer. Die onkoloog stap saam. Die gang is kort, breed, helder… Dit was die begin van dosyne chemoterapiesessies en ander behandelings om twee kankers by my hok te slaan. Eers maande later het ek gesien daar hang helderkleurige, vrolike skilderye. ʼn Gang vir kankerlyers? Nee, ek het besluit ek wil eerder ʼn kankervegter wees.

Nuuskommentator Herman Toerien (65) wat, ondanks sy jare lange geveg teen kanker, steeds klokslag kommentare aan Maroela Media deurgestuur het, lê dié tuig binnekort neer. As veelsydige vryskutjoernalis en aktualiteitspraktisyn was hy vir meer as vier dekades in joernalistiek betrokke, selfs terwyl hy senior poste by verskeie staatsdepartemente beklee het.

Hy was van skooldae bestem en gebeitel om later sy skryfwerk met insig en intellek te bedryf, ondanks die feit dat disleksie sy akademie beïnvloed het. Sy honneursgraad in politieke wetenskap en loopbaanervarings van ʼn verstommend wye aard het bygedra dat hy met ʼn objektiewe oog na aktuele sake kon kyk. As waghond in die media het hy nooit opgehou om die ware situasie op grondvlak bekend te maak en aan die groot klok te hang en lesers van Maroela met integriteit ingelig het om die kaf van die koring te skei.

Herman en sy jongste seun, Jandré, was in November 2018 slagoffers in ʼn rooftog van sy huis in Langenhovenpark waartydens die gesin se huishulp wreed aangerand en Herman in die voorval beseer is. Die huishulp, Mitah Koromang (66) is later in die Pelonomi-hospitaal oorlede. Sy vrou, Joan, was nie tuis nie en Herman kon nie tydens die aanval weerstand bied nie. Hy was weens langdurige kankerbehandeling te swak en moes met krukke of ʼn rolstoel oor die weg kom. Die egpaar se seun Jandré wat outisties is met beperkte begrip en spraakvermoë, het uit sy kamer gekom en die rowers het op vlug geslaan. Hy het die kabelbinders aan sy pa se hande losgesny.

“Sy het permanente voetspore in ons lewe nagelaat – een van daardie mense wat jy altyd sal onthou. Mense het van oor die wêreld heen op die voorval gereageer om ons te ondersteun. ’n Dag of wat later moes ek uit my hospitaalbed, waar ek chemoterapie ontvang het, ʼn TV-onderhoud doen,” vertel Herman.

Ondanks sy sowat ses jaar lange geveg teen twee kankertipes, naamlik prostaatkanker en ʼn seldsame limfatiese kanker, genaamd Waldenström, het Herman steeds sy passie in land- en ander sake uitgeleef deur daaroor navorsing te doen en te skryf. Hy het ook verskeie ander publikasies die lig laat sien soos Chemo-kamerade, Die reine waarheid en ander liegstories, asook nuus, artikels en rubrieke op verskeie mediaplatforms.

Herman meen die geheim van eerlike, gebalanseerde nuuskommentaar wat gesag afdwing, is wye algemene kennis, gerugsteun deur ervaring op verskillende spesialisterreine.

“My pa, Jan, was president van die Wêreld Anatomievereniging. Hy het twee doktorsgrade in paleontologie en embriologie verwerf en was later aan die Universiteit van die Vrystaat se mediese fakulteit verbonde.”

Herman se ma was ʼn opgeleide argeoloog met ʼn honneursgraad in kunsgeskiedenis. Die intellektuele milieu van sy kinderlewe het Herman op ʼn wye vlak help vorm.

“My vrou, Joan, het dikwels vroeg soggens na die hospitaal gery om die handgeskrewe nuuskommentaar te gaan haal wat sy by die huis gaan tik en dan na Maroela gestuur het. Dit was ʼn oor-en-weer gepiekel met die geheuestokkie en geskarrel met ’n skootrekenaar. Woorde ontbreek as ek dink aan alles wat Joan vir my doen en beteken. Ek veg teen kanker omdat ek graag vir my gesin wil lewe.”

Rolmodelle

“Verskeie. Eerstens Leopold Scholtz wat ek as die doyen Suid-Afrikaanse kommentaarskrywers beskou. Daar is ook Scott Rasmussen (Rasmussen Reports) se peilings waarna ek daagliks kyk en hoog ag. Dit is ligjare meer objektief as die grootste gros kommentators in Suid-Afrika.”

Nog iemand wat hom beïndruk, is die Franse rubriekskrywer Sylvain Ephimenco wat vir die Nederlandse koerant Trouw skryf. En dan is daar prof. Erwin Schwella, voorheen van die US, en nou dekaan op Wellington en buitengewone professor by die Universiteit van Tilburg in Nederland, en talle ander.

Nuuskommentaar is vir hom ʼn passie en lewenswyse.

“Leuens en fopnuus se negatiewe gevolg is egter dat dit mense aanhits tot rasgedrewe geweld. Verkeerde persepsies word gevorm en later word dit ʼn werklikheid. Die verminking, marteling en slagting van boere op plase is ʼn direkte gevolg van hierdie persepsies – dat wit mense die vyand is en dat hulle grond gesteel het. Ongelukkig is verdeeldheid tussen wit mense sedert 1994 groter as ooit en as die siekte van rassisme en die oorheersende rasse-ideologie in Suid-Afrika nie gestop word nie, wag daar hoë vlakke van konflik vir almal.”

Hoogtepunte

“Hoogtepunte in my skryfwerk by Maroela Media hou veral verband met begrippe soos kakistokrasie, politieke inkorrektheid, tegnokrasie, ghatfly (Amerikaans vir perdevlieg) en dodelike akkurate voorstellings van hoe Amerika weens die vroeëre invloed van Nieuw-Amsterdam se Nederlanders ontstaan het. Die term kakistokrasie het uit Grieks ontstaan en beskryf die beste van enigiets wat die ANC en EFF in sy skryftyd by Maroela was. Ek kon die vakke wat ek gestudeer het, soos politieke wetenskap, staatsreg, politieke geografie en ekonomie, op die mespunt in die praktyk gebruik.”

“Herman het in Maroela Media geglo toe Maroela Media nog in sy kinderskoene was en die wêreld nog skaars van ons kennis geneem het,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media. “In Oktober 2011, toe Maroela drie maande oud was, het ek ‘n e-pos van Herman gekry waarin hy vra of hy vir ons bydraes kan lewer – sónder vergoeding. Aanvanklik het hy weeklikse nuuskommentare geskryf; later daagliks. Kort voor lank het ons hom natuurlik begin vergoed, maar vir Herman was dit bysaak. Sy vermoë om ‘n duisternis uiteenlopende temas en onderwerpe te bekyk, sin daaruit te maak en tot een, samehangende en eenvoudige gevolgtrekking te kom, het my nog altyd verbyster. As ek in die oggend my rekenaar aanskakel, het die e-pos met Herman se nuuskommentaar wat teen 5:00 soggens al gestuur is, dikwels reeds vir my gewag. Sou sy siekte, behandeling of iets anders tot gevolg hê dat hy teen 8:00 of 9:00 eers sy bydrae kon stuur, het hy mooi verskoning gevra dat hy ‘laat’ is. Ons het male sonder tal Herman se nuuskommentaar uit die hospitaal ontvang, en soms, as hy baie siek was, het hy dit vir sy vrou, Joan, dikteer, waarna sy dit tuis getik en vir ons gestuur het. Ek kon die kere wat Herman in nege jaar nié ‘n nuuskommentaar kon lewer nie, op my een hand tel. Wat ‘n yster.

“Herman het die afgelope nege jaar ons lesers help sin maak uit die wêreld om hulle en het diepte en geloofwaardigheid aan Maroela Media as platform gegee.”

Suid-Afrika oor tien jaar

“As die ABC van die grondwetlike beginsels gevolg was en ʼn grondwet onderhandel is wat pas by die heterogene werklikhede van die land, was ons beter daaraan toe. Terloops, daar is seker so 50 erkende grondwetmodelle. Dus, as ons die Grondwet kan verander, staan ons ʼn beter kans om ʼn gemeenskaplike narratief te vorm en sal daar minder konflik-gegenerende raakvlakke wees.”

Herman was destyds getaak om die administrateur se Kodesa-insette op te stel.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het Herman by geleentheid bedank vir sy jare lange uitstekende werk en bydraes vir Maroela:

“Jou artikels het derduisende mense gehelp om sin van die wêreld te maak. Die vars hoek met elke bydrae was ʼn vars bries in die andersins droë medialandskap in die land. Ek het my gereeld verstom vir jou vermoë om, ten spyte van uiters moeilike omstandighede, so vinnig en agtereenvolgend oor sulke uiteenlopende onderwerpe te kon skryf! Ek het agting en waardering vir jou werk.”

Van Herman sê Leopold Scholtz: “Jy sal ver gaan om ’n meer veelsydige joernalis te ontmoet. Hy kon met groot gesag oor feitlik elke onderwerp onder die son skryf – van die son en die sterrekunde tot die samestelling van vetplante, van godsdiens tot politiek. Hy het deeglik navorsing gedoen, en as hy hom oor ’n onderwerp uitgelaat het, kon jy dit byna vir evangelie aanvaar. Wat ek dalk die meeste in Herman bewonder, is sy nugterheid. Hy is ’n goeie, konserwatiewe Afrikaner, maar hy het hom nooit laat meesleep op die pad van ekstremisme en Trump-aanbidding soos so baie ander Afrikaners nie. Hy het altyd sy gesonde verstand laat seëvier.

“Dat Herman ondanks dit alles eenvoudig stug met sy werk voortgegaan het, sê baie vir die krag van sy karakter, asook vir die sterkte van sy geloof in God.”

Die Toeriens verhuis binnekort ná ’n verblyf van 50 jaar in die Rosestad na die Wes-Kaap waar hulle by hul oudste seun in die landboubedryf, Nic, en sy vrou, Leandri, gaan aansluit vir die volgende lewensfase. Hulle sien uit na die koms van hul eerste kleinkind in 2021.

“Ek sal Maroela Media altyd dankbaar wees vir die geleentheid om te kon doen waarvoor ek lief is, en om my gesin te kon help versorg terwyl die kankers enorme finansiële eise gestel het. Wonderwerke gebeur, en ek is die Here dankbaar dat ek eerder ’n vegter as lyer kan wees, ’n paar noue ontkomings ten spyt,” sê Herman.

Die warm ink in Herman Toerien se skryfpen sal ongetwyfeld nog lank vloei. Baie oor hom is nog ongesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Suzette

Baie sterkte Herman. Ek het jou artikels geniet en gaan dit mis.

Therese

Herman Toerien se daaglikse Nuuskommentare was vir baie lank ‘n hoogtepunt!
Mag die nuwe lewensfase in die Wes-Kaap vol vreugde wees.

Wakkerslaper

Beste Mnr. Toerien, duisend dankies vir soveel wonderlike artikels en nuus kommentare. Ek het dit altyd geniet om te lees en ek dink u het die gawe om dinge in goeie perspektief te stel.

Ek wens u baie sterkte en God se Seën toe op u en u gesin se pad vorentoe en die nuwe fase van die lewe daar in die Kaap.

SomeOne

baie sterkte my vriend Herman, ek en jy sal nog kommunikeer, maar dit sal nie dieselfde wees met die mis van jou rubrieke op maroela media nie, altyd sinvolle stukke met baie navorsing wat nou tot in einde gaan kom, sterkte,- victor

Misky

Baie dankie vir al die lekker-lees artikels Oom Herman. JOu manier van skryf altyd geniet en jy noem n ding soos hy is……. Geniet die aftree en tyd saam die familie, Oom verdien dit voorwaar!!!!!!!