Nuusoorsig: Die buiteland in 2019 – ‘Epidemie’ van sesessionisme en ‘nuwe nasies’

Boris Johnson. Foto: (Lindsey Parnaby/Pool via AP)

2019 sal deur toekomstige ontleders beskryf kan word as ’n jaar met sterk oppervlakstrome, en nog meer onderstrome wat amper net so sterk in teenoorgestelde rigtings vloei.

Terwyl die beskrywing goed op die Amerikaanse situasie toegepas kan word, is dit dalk tegnies meer volledig om die Britse situasie as “rolmodel” te beskryf. Die vernaamste verskil tussen Brittanje en die VSA se evolusie is sesessionisme, met die Amerikaanse afskeidingsbewegings veral aan die weskus wat ver afsteek by die manifestasies in Brittanje en verskeie ander lande soos Spanje, Italië en die voormalige Sowjet-Unie.

Die oppervlakstrome kan beskryf word as die verdere uitkristallisering van die Trump-Johnson-verskynsel, wat veel meer as blonde hare gemeen het. Ook beskrywings soos populisme, hardkoppig, eiesinnig en oorredend sou hopeloos oorvereenvoudig wees.

Die vaandel waarmee Johnson homself beklee ná die afgelope Britse verkiesing, wat hy oorweldigend gewen het, lui byvoorbeeld: “Johnson verenig die koninkryk.” Dit mag vanuit ’n Engelse hoek so lyk, en word die “verenig” verstaan as om werkers en die meer welgestelde burgers vir dieselfde party te laat stem. Maar word vanuit ’n Skotse hoek na dieselfde uitslae gekyk, dui dit weer juis op méér verdeeldheid.

Die Skotse Nasionale Party (SNP), wat die onafhanklikheid van Skotland voorstaan, het sy setels (almal in Skotland) met 13 tot 48 vermeerder. Die Konserwatiewe Party, met sy steun sterk in Engeland gesetel, het setels in Skotland én Engeland verower, (asook in Wallis), en sy totale wins van 66 setels lyk dus indrukwekkender as dié van die SNP.

Word die stemme binne Skotse grense geïsoleer het die SNP steeds sy totaal van 48, maar die Konserwatiewe Party kon net ses setels in Skotland kry. Die Arbeidersparty kon net een setel in Skotland kry, terwyl die Liberale Demokrate vier setels bymekaar kon maak. Trouens, die SNP het 48 van die 59 setels in die Britse parlement verower. In die praktyk gee dit aan Engeland koloniale magte oor nie net Skotland nie, maar ook oor Wallis en Noord-Ierland en Cornwallis.

Die gevolgtrekking is dat die Skotse wil eenvoudig deur die Engelse tot niet gemaak is. Johnson het reeds aangedui dat daar geen nuwe Skotse referendum sal wees nie. Dit verskil nie veel van die Kataloniese analogie nie, waar 100% van die Katalane vir onafhanklikheid kan stem, maar dit moet saam met die Spaanse stem getel word, wat van die vasstel van volkswil ’n mite maak.

Die Skotse Electoral Reform Society (lees hier) skryf onder meer soos volg: “45.3% voters unrepresented. 45.3% of voters in the UK didn’t vote for their MP. The way we elect MPs to Westminster means that our parliament doesn’t represent us. It’s time to make the seats in parliament match how we vote.” ’n Petisie is beskikbaar om geteken te word.

Teen dié agtergrond maak AFP se opmerking sin: “In Skotland het die SNP die verwagtinge oortref, wat moontlik kan lei tot ’n nuwe referendum oor Skotse onafhanklikheid. Maar is dit nie erg oordrewe om die Skotse verwikkelinge tot ’n byna dominante posisie onder die onderstrome van wêreldneigings te benoem nie?

Pas het ’n nuwe artikel uit die kuberpen van die bekende konserwatiewe Amerikaanse ontleder Patric J Buchanan die lig gesien. Die titel is “Will the Secessionist Epidemic Ever End?” Lees hierin onder meer van die onafhanklikheidsreferendum van die kiesers van die outonome gebied, Bougainville, wat pas met amper 100% vir onafhanklikheid van Papoea-Nieu-Guinee gestem het. Die artikel mag dalk nie in alle opsigte die leser se sentimente ondersteun nie, maar bied nogtans ’n waardevolle opsomming van historiese en eietydse historiese gevalle van separatisme.

Wat baie duidelik is, is dat die wêreldwye proses van separatisme nie afgeloop is nie. In die onlangse verlede is byvoorbeeld referendums in verskeie streke in Italië gehou, en daar was selfs ’n beweging wat hom vir die onafhanklikheid van Beiere van Duitsland beywer het. Separatisme is boonop nie die enigste erkende wyse van outonomie, selfbeskikking, selfregering en minderheidsregte nie, en daar was in die onlangse verlede onder meer belangrike verwikkelinge oor eerstenasiestatus van onder meer die Ainoe in Japan en die Khoisan in Suid-Afrika. Wat duidelik is, is dat wat vir een volk/gebied voldoende is, nie outomaties vir ’n ander werk nie.

Sou die EFF sy sin kry dat die grense in Afrika verdwyn en die vasteland een land word, sal die Afrikaner se aandeel in die groter totaal van stemme onbenullig word. Die EFF se verenigde Afrika-gedagte klink immers na lawwigheid as in gedagte gehou word dat Suid-Soedan lank in ’n afskeidingsoorlog van Soedan gewikkel was, asook Eritrea van Ethiopië, en daar steeds dispuut is oor die status van Wes-Sahara.

Wat dan boonop van die Russiessprekende oostelike deel van Oekraïne, Tsjetsjnië asook Palestina, en vele meer (waarvan ’n hele aantal deur Buchanan genoem word en min of meer onbekend onder die gewone publiek is)?

Maar of dit as ernstig nuuswaardig beskou word of nie, in 1919 was separatisme en verwante sake wel deeglik deel van die sterker onderstrominge. Dink maar hoe amper het Spanje se eienaarskap oor Ceuta en Melilla aan die Marokkaanse kus, en Brittanje se eienaarskap van Gibraltar internasionale politiek beïnvloed. Spanje het byvoorbeeld in ’n stadium gedreig om Brexit te saboteer indien Brittanje Gibraltar nie “teruggee” nie. Die posisie in Hongkong hou ’n potensiële bedreiging vir vrede in.

En om die verskynsel as nie nuuswaardig genoeg nie, of irrelevant as nuus te hanteer, verminder nie die konflikpotensiaal daarin opgesluit nie. Vanjaar het die Katalaanse geval weer alle illusies daaroor hard gemoker. België sit juis weer met ’n taai toffie in die vorming van ’n federale regering, waar akademici en sekere media die gedagte van konfederale gesprekke as te nietig probeer afmaak.

Die opmerking is al gemaak dat Trump én Johnson min respek of sentiment vir die regte van minderhede het. Trump was vroeër vanjaar juis skerp onder skoot oor sy poging om Groenland te koop, skynbaar sonder om die inwoners se strewe in ag te neem vir onafhanklikheid van Denemarke namate klimaatsverandering dié eiland meer bewoonbaar maak en weer met al meer produkte geboer kan word soos voor ongeveer ’n duisend jaar gelede moontlik was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

André André ·

Die karaktertrekke wat in die derde paragraaf Trump en Johnson beskryf, kan nét so aan Julius toegedig word.

Dan, betreffende Julius se vergesig wat nie ‘n kans in ‘n miljoen jaar het om te realiseer nie, haal ek aan: “Sou die EFF sy SIN KRY dat die grense in Afrika verdwyn en die vasteland een land word, sal die Afrikaner se aandeel in die groter totaal van stemme ONBENULLIG word. Die EFF se verenigde Afrika-gedagte KLINK immers na lawwigheid AS IN GEDAGTE GEHOU WORD dat Suid-Soedan lank in ’n afskeidingsoorlog van Soedan gewikkel was, asook Eritrea van Ethiopië, en daar steeds dispuut is oor die status van Wes-Sahara.

Hierdie, die paragraaf hier bo, glo ek is nie nuuswaardig nie, buiten om te illustreer hoe Julius dink.

Andra ·

Ons minderhede kan ook onafhanklik word. Sê ja by ulacongress.com

Sir Dik de Dunnerin ·

Sal graag wou hoor wat die Zoeloe’s se koning (eintlik al die stamkonings) in SA se plan is? Sekerlik is afstigting/outonomiteit ook op hul agenda?

André André ·

Herman, ek lees sopas dis bevestig dat Bloemfontein se metro het in duie gestort en die provinsiale regering moet ingryp!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.