Nuusoorsig: Die natuur in 2019

‘n Digte rookwolk ná die vulkaniese uitbarsting op Witeiland. (Foto: ANA)

Die vulkaniese uitbarsting in Nieu-Seeland wat verskeie toeriste dood of ernstig beseer gelaat het, was maar ’n enkele voorval van natuurkragte wat vanjaar lewens geëis het.

Aardbewings het vanjaar weer sy tol aan lewens geëis, hoewel dit nie naastenby ’n rekordjaar was nie.

Weens ’n gebrek aan ruimte en omdat daar soveel Suid-Afrikaners in Nieu-Seeland woon, word in hierdie oorsig wat vulkane en aardbewings betref op dié land gefokus.

Die boodskap is egter duidelik – ons aarde is nog lank nie “dood” nie, en die mense se verantwoordelikheid om die aarde op te pas en te onderhou, is ook nog nie voltrek nie.

Volgens die jongste data van die Amerikaanse geologiese opname (USGS) stuur die wêreld vanjaar op die tweede stilste jaar vir groot aardbewings in ’n lang tyd af. Tot dusver was daar vanjaar net 10 aardbewings van M7 of sterker. Die “M” verwys na momentmagnitudeskaal wat nou deur die meeste lande as eenheid vir eenheidsterkte gebruik word. Omdat die VSA se USGS dié standaard gebruik, en aardbewings wêreldwyd meet, en omdat die M-skaal nie na ander skale, soos byvoorbeeld die Richterskaal omgereken kan word nie, word, tensy anders aangedui, die M-skaal gebruik. Amptelik, maar buite die akademie, gebruik SA ’n aangepaste Richterskaal.

(Foto: Renmin Pretell/Twitter)

Die sterkste was een van M8, wat op 26 Mei vanjaar in Peru voorgekom het. Aardbewings van 7 of sterker word as norm vir sterk aardbewings gebruik omdat tsoenami’s selde weens swakker aardbewings ontstaan. Die sterkte is egter nie al wat tsoenami’s veroorsaak nie. Die bodemformasie speel byvoorbeeld ook ’n belangrike rol.

Vanjaar het wel, volgens sommige waarnemers, die lank “uitstaande” groot aardbewing in die suide van Kalifornië, dit wil sê in die omgewing van Los Angeles, opgelewer. Op 6 Julie is ’n aardbewing van 7,1 aangeteken, maar verbasend min skade is aangerig.

Al die groot aardbewings het op die sogenaamde ring van vuur voorgekom, drie in Indonesië, twee in die naasliggende Papoea-Nieu-Guinee, een aan die Amerikaanse weskus, twee in Peru, een in Ecuador en een by die L’Esperance Rock noord van Nieu-Seeland.

Hoewel daar minder as twee weke voor die einde van die jaar oor is, is dit net moontlik voortydig om te voorspel dat die aarde ’n besonder stil sterk aardbewingjaar sal beleef. Aardbewings neig om in “vlae” voor te kom. In Februarie en Maart was daar ’n klein “sarsie”, of meer formeel “swerm”, terwyl die meeste van die sterk aardbewings, ’n totaal van nege, van Mei tot Julie plaasgevind het.

Voorverlede jaar was juis ’n besonder stil sterk aardbewingjaar met net sewe wat voorgekom het. Vanjaar is dus reeds hierdie merk verby. Die meeste die afgelope dekade was in 2010, met 22 sterk aardbewings. Die tweede meeste was die volgende jaar met 20, en daarna in 2015 met 19. Buiten voorverlede jaar het geen jaar minder as 12 opgelewer nie (2014).  Die res was almal 16 of meer.

Terwyl dit waaghalsig sal wees om af te lei dat aardbewings aan die toeneem of afneem is, veral as alle sterkte aardbewings in berekening word, is dit duidelik uit die afgelope dekade se syfers dat die voorkoms nie op die eindtye dui nie.

Sterfgevalle kan geweldig verskil, soos as die aardbewing ’n tsoenami veroorsaak het, die diepte waar die aardbewing ontstaan het, die gehalte van die bouwerk en die bodemformasie, doeltreffendheid van tsoenami-waarskuwingstelsel (aardbewings self se voorspellings is nog in die kinderskoene), die gehalte nooddienste, afgeleënheid en vele meer.

Foto: (Nieu-Seeland se weermag via AP)

Die vulkaniese uitbarsting op Witeiland was die 66ste uitbarsting van vulkane in 2019. Die uitbarstings kom van altesaam 64 verskillende vulkane, met 22 nuwe uitbarstings wat vanjaar begin het. Witeiland se uitbarsting is groot nuus weens die baie slagoffers.

Nieu-Seeland het verskeie vulkane, en is ook in ’n seismies-aktiewe sone geleë, en maak deel van die ring van vuur uit. In 2016 het wetenskaplikes aangekondig dat ontdek is dat die klein dorpie op die Noord-Eiland, Matata, bo-op ’n vulkaan geleë is wat besig is om te ontwikkel. Dit het die dorpie sedert 1950 met sowat 40 cm laat lig, en genoeg magma het ingevloei om 80 000 swembaddens van Olimpiese standaard te vul. Geen uitbarsting word egter binnekort verwag nie, hoewel Matata naby Witeiland geleë is.

Wat op die oomblik meer kommer wek as vulkaniese uitbarstings is ’n aardbewing wat “realisties” M8,9 kan meet wat veral die ooskus van die Noord-Eiland kan tref. Nieu-Seeland lê waar twee tektoniese plate, die Australiese en die Pasifiese, mekaar ontmoet, en van noord na suid deur die land loop. Die Pasifiese plaat druk onder die Australiese in, en veroorsaak ’n deduksie-sone, met die gevaarlikste gebied aan die suidpunt van die Noord-Eiland, bekend as die Hikurangi-deduksiesone. Die enigste vraag is wanneer die deduksiesone gaan knak, en dit kan basies nou enige tyd gebeur. Naas die gevaar wat die aardbewing self kan inhou, kan ’n tamaai tsoenami verwag word. Dit het al verkeie kere in die verlede gebeur, en gebeurlikheidsplanne word daarvoor voorberei.

Stoom lê bo Witeiland, langs die Nieu-Seelandse kus, waar ‘n vulkaan Maandag uitgebars het. (Foto: Mark Baker/AP)

’n Interessante feit is dat die verskuiwingsvlak wat deur Nieu-Seeland loop, by die Keremadic-eilande noord van Nieu-Seeland, skynbaar as ’n soort “filter” vir aardbewings dien. (Die eilandgroep sluit die L’Esperance-rots in waarna hierbo verwys word.)  Die snelheid van die beweging langs die verskuiwingsvlak verskil skerp van beweging uit die noorde, en verdere beweging in die rigting van Nieu-Seeland. Suidwaarts, en op Nieu-Seeland self, is daar aansienlik minder aardbewings. Die Hikurangi-deduksiesone “absorbeer” blykbaar ook heelwat van die energie, maar pot dit op om dan later met die versamelde energie verwoestend te “knak”.

Planne om klimaatsverandering binne perke te probeer bring het ’n gevoelige knou gekry toe die klimaatberaad in Madrid ’n afgewaterde finale verklaring gemaak het, en onder meer ook sleutelkwessies na volgende jaar se beraad in Glasgow laat oorstaan het. Die WWF het, soos die sekretaris-generaal van die VN, hul teleurstelling uitgespreek. Die WWF het lande soos die VSA, China, Saoedi-Arabië, Brasilië en Japan daarvan beskuldig dat hulle verantwoordelikhede ontken en voortuitgang in Madrid gedwarsboom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

… en Afrika was ook daar en raai wat gaan sy bydrae wees. Nee ekskuus, ek stel dit verkeerd, eerder wat gaan die res van die wèreld vir Afrika moet doen. Klimaatsverandering skrik glo groot vir $€£¥R en alles wat soos goud lyk en kos of by die punt van die reénboog in ‘n pot wag en wag en wag…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.