Nuusoorsig van 2020

Onskuldig tot skuldig bewys

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. (Foto: Twitter)

Een van die grondbeginsels van die Romeins-Hollandse regstelsel is die beginsel dat iemand onskuldig is tot hy deur ʼn hof skuldig bewys is. Dit is al jare dat die ANC hierdie beginsel benut om skelm kaders of belange te beskerm en te koester, letterlik tot dit nie meer anders kan nie. Die Noord-Kaapse politikus John Block was lank vir die ANC ʼn block aan die been, maar moes later tog sy draai in die tjoekie gaan maak. Sommiges oor wie se koppe ’n donker wolk hang, se “skuldigheid” word egter in die politieke arena anders “bepaal,” soos ’n vakbondleier wat luidkeels verkondig het dat die politieke wil (van die “mense”) die finale arbiter behoort te wees of iemand moet pa of ma staan vir hul dade.

Toe Tony Yengeni tronk toe gestuur is vir sy aandeel aan die wapenskandaal, het ’n optog ANC-aanhangers hom tronk toe vergesel om steun te toon, gelei deur minister Lindiwe Sisulu. Hy is nou NUK-lid van die ANC, terwyl appèlregter Willie Seriti, voorsitter, in sy “verslag” bevind het dat niemand nog in verband met die wapenskandaal skuldig bevind is nie. Nie net Yengeni nie, maar Schabir Shaik is ook skuldig bevind en tronk toe gestuur, kort voor lank was hy egter weer tuis en op die gholfbaan.

Wat vanjaar so belangrik ten opsigte van hierdie regsbeginsel maak, is dat die ANC besluit het dat enige ampsdraer wat aangekla word van ʼn ernstige misdryf “opsy” moet staan tot sy skuld bepaal is, en dis aanvanklik toegepas is. Met dik vingers wat duidelik in die rigting van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC wys, het hy sy rug styfgemaak. Dit lyk of ʼn bewyslas van prima facie nie genoegsaam gaan geld om die ANC sy eie beleid ten uitvoer te laat bring nie.

Getuienis voor die staatskapingskommissie dui al meer daarop dat weergawes wat die staatskaping as mite probeer afmaak self mites is. Die getuienis word net te sterk ondersteun deur uitmuntende ondersoekende joernalistiek en koerantberigte wat die legkaart al vinniger vorm laat aanneem. Terselfdertyd word die Estina-melkplaasskandaal al groter oopgevlek as ʼn instrument om geldwassery vir die Guptas te fasiliteer.

Terwyl die beeld van Suid-Afrika as ’n land waar korrupsie endemies is, daagliks voor die Zondo-kommissie verder ontvou, word die teenargumente teen dié opvatting al hoe yler en al hoe harder na kwasi-juridiese verwere gesoek. Die omvang van korrupsie wat met die Covid-19-pandemie gepleeg is, het baie skille van liggelowiges se oë afgeruk.

Landbou en landelike veiligheid

(Foto: Spencer Pugh/Unsplash)

By die meeste mense wat op soek is na die waarheid oor landbou, eerder as persepsies wat die regering vir ideologiese redes kan uitbuit, is die landboubedryf eerder onder ’n wydlopende beleg as ’n bedryf wat in ’n tipe Utopia floreer en selfsugtig net in eiebelang optree.

Op die oog af het daar ’n mate van kentering by die regering plaasgevind. Plaasaanvalle is etlike kere by die naam veroordeel, hoewel dit steeds binne die omvattende ruimte van landelike veiligheid geplaas word, maar darem nie meer daarin verskuil word nie. Die doel agter hierdie verskuiwing moet nog helder blyk – het daar werklik ’n gesindheidsverandering by die regering ingetree, het daar ’n mate van realisme by die regering posgevat, het die regering se regsadviseurs hulle begin waarsku oor die regsimplikasies om internasionale verdrae te skend, veral dié wat self deur die regering geskend is, praat die harde werklikheid van ekonomiese afgraderings, of word daar nou in ’n sekere sin voete gesleep om so lank as moontlik die hulpkapasiteit van bestaande suksesvolle boere te kan benut?

En hoeveel het aksies soos dié van AfriForum, die Vryheidsfront Plus, Agri SA en TLU SA, en nou die DA, daartoe bygedra dat die kanse verhoog dat regerings die koue skouer op die ANC-regering kan draai, soos die mosie van die Nederlandse regering wat dit by voorbaat veroordeel het?

Verskeie plaasaanvalle, en veral plaasmoorde, het vanjaar opslae gemaak, en die opslae is versterk deur die aanvanklike uitsprake en optredes van die minister van polisie, Bheki Cele. Dit lyk op die oomblik of sy woorde meer getemper is as dit by plaasaanvalle kom. In verskeie opsigte lyk dit egter of die plaasaanvalle al meer die kenmerke van landelike terreur aanneem; daar kan selfs vrae wees of dit nie ook meer deur politiek gedryf, en deur ander landelike misdaad soos veediefstal, gewasdiefstal, brandstigting en weidingdiefstal gerugsteun word nie. Betreding en besetting is wel deeglik polities onderliggend en hoofsaaklik aan die EFF gekoppel, terwyl die talle gevalle waar die polisie op die oog af kop in een mus met die misdadigers is, is duidelik polities gekleur.

Boere en ander inwoners van die platteland se veiligheid word nie net deur plaasaanvalle en plaasmoorde bedreig nie. In verskeie dele van die land kan daar nie meer met veral skape geboer word nie weens ’n pandemie van veediefstal. Plek-plek geld dit ook gewasdiefstal. Dit is soms gekoppel aan droogtes en gevolglike armoede en hongersnood. Die verwoestende droogte is ongelukkig nog nie oral verby nie, die droogtehulpgeld, klaarblyklik veral in KwaZulu-Natal, het nie oral uitgekom waarvoor dit bestem is nie, maar nogtans het die landbou ’n groot bydrae gelewer om die ekonomie nie volledig in duie te laat stort nie.

Buitelandse beleid

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Hier word gekyk na hoe Suid-Afrika ten opsigte van sy beleid, of juis gebrek aan beleid, op die internasionale terrein vaar. Dit kan as kenmerkend eerder opportunisties as beginselvaste reëls beskou word, verdoesel onder sekere sentimente uit die verlede.

Hierdie byna skisofreniese uitdrukkings het sedert 1994 Suid-Afrika blatant gereeld by muishondlande soos Libië, Sirië, die Palestynse owerheid, Zimbabwe, Kuba, Venezuela en ander laat skaar.

Ongeag die peperduur gevolge van misplaaste sentimente word volgehou om met steun by die verkeerde deure te gaan bedel. Hieronder is die volgehoue steun vir Afrikalande selfs teen wêreldmenings in, en ongeag hoe misplaas die steun was vir onder andere Robert Mugabe, SA is met totale geregtigheidsblindheid geslaan en die een na die ander geknoeide verkiesing in Zimbabwe wat “vry en regverdig” verklaar is.

Pres. Cyril Ramaphosa se ontkenning van plaasaanvalle in Suid-Afrika het die land enorme skade oorsee berokken. Dit het daartoe gelei dat pres. Donald Trump hom reggehelp het, en nie eens baie diskreet nie. In Nederland het die bekende en besonder knap rubriekskrywer Silvan Eufemencko die kwessie in ’n paar rubrieke gestroop van regverdiging, eufemismes en gebalanseerdheid aan lesers gebring. AfriForum se oorsese veldtogte teen plaasmoorde was strategies, al was dit dalk onbedoeld so, tydsgewys goed geplaas. Die Tweede Kamer van die Nederlandse parlement se stemming teen grondroof in Suid-Afrika het dus ook groter steun geniet as wat dit byvoorbeeld in die Joop den Uyl-era sou geniet het.

Dit sal die ANC loon om behoorlik kennis te neem van wat vanjaar met tweedevlak- en derdevlakverkiesings in Namibië gebeur het, waar Swapo skielik van onaantasbaarheid na ’n party gekrimp het wat nie meer ’n volstrekte meerderheid kon behaal nie. Verskeie redes word gegee wat met dié in Suid-Afrika ooreenstem, soos die persepsie dat die ANC nie net met korrupsie deurspek is nie, maar die toon aangee. Dit lyk of die plundering van Covid-19-hulpfondse vir arm mense deur vet kat-comrades baie ANC-ondersteuners geskok het.

Die probleem wat keer dat die ANC nie so volkome teenspoed kry nie, veral nie in Suid-Afrika nie, is dié van oorwegend wit en oorwegend swart narratiewe. Terwyl Ramaphosa se toesprake op drie agtereenvolgende Geloftedae groot woede onder baie Afrikaanssprekendes veroorsaak het, was dit ook Versoeningsdag, maar Ramaphosa gebruik dit as konfliksoekende dag.

Solank as wat die ANC en ander partye, ook in die buiteland, probeer om allerlei vorme van rassisme en nieu-apartheid as nie-rassigheid op te dis, en organisasies wat dit probeer teenstaan, as rassiste uitmaak, stuur die lendelam ANC-wa op ’n liederlike ongeluk af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.