Nuusoorsig: Was SA se 2019 ʼn annus horribilis?

Die Suid-Afrikaanse vlag. (Foto: Wikimedia Commons)

As nuuskommentaarskrywer is dit onvermydelik dat die indruk gewek kan word dat baie, baie mense vanjaar as ʼn annus horribilis ervaar het.

Die gevolgtrekking is dat daar oorgenoeg kwessies is wat mense tot moedeloosheid kan dryf. Faktore behels die groot droogte (en wat daarmee gepaardgaan); die misdaadlot van veral kinders en vroue; regeringsplanne soos e-tol en grondgryp sonder vergoeding (wat nou hoofsaaklik na volgende jaar oorstaan); dreigende rommelstatus; die SAL wat sukkel om selfs padlangs oor die weg te kom (weens slaggate); Eskom en ander semi-staatsinstellings wat erger as die staatskaping bronne leegsuig; ʼn president wat, soos berig is, wel tuis is, maar nie die ligte aanskakel nie; ʼn vooruitsig van ʼn nuwe, peperduur nasionale gesondheidstelsel wat volgens bykans enige ontleding ʼn rits rampgevolge tot gevolg gaan hê. Hieronder tel die grootskaalse emigrasie van mediese dokters.

Die tekens van onafwendbare bankrotskap staan geil, MAAR gelukkig is daar puik ekonome wat die silwer randjie raaksien en uitwys dat daar hoop is, al neem dit tyd, en gaan dit harde, korrupsievrye werk vereis – met natuurlik hope respek vir innovering maar tog getrouheid aan beproefde ekonomiese wette. [En hier duik die probleme soos ʼn siekte-epidemie saam met ekonomiese selfmoordplanne soos grondgryp sonder vergoeding op.]

ʼn Groot terugslag, heel moontlik selfs die grootste, is die nou reeds min of meer onbetwiste geneigdheid van veral die Konstitusionele Hof om nie die geskrewe teks van die Grondwet te respekteer nie, en blatant genoeg die meerderheidsparty se filosofie te ondersteun, selfs waar dit lynreg teen die grondwetlike teks indruis.

Dit is so blatant dat verskeie knap en verantwoordelike joernaliste belangrike artikels hieroor geskryf het. Prof. Koos Malan, staatsregkenner van Tuks, se nuwe boek slaan hamerhoue na die Konstitusionele Hof se regters, en dit gaan sover maar brak vir regeringsimpatiseerders om regskenners te kry wat dit waag om hulle ten gunste van die regters uit te spreek. Hulle pas immers hul eie goeie naam as regsgeleerdes op. Die Engelse titel van die boek There is no supreme Constitution spreek boekdele, en “volbring” die titel van ʼn boek uit sy pen in 2011, Politokrasie.

Nog ʼn groot kopseer vir ʼn positiewe uitkyk op die land se toekoms is die aanhang wat radikale partye soos die EFF, en in die toekoms moontlik die BLF (geregistreer of gederegistreer), asook die radikale vleuel van die ANC monster. Hul opkoms is juis nog gevaarliker in die lig van die grondwetlike uitrafeling wat deur die Konstitusionele Hof aangevoer word, omdat dit niks laat oorbly van die Nasionale Vredesverdrag nie, en nog minder van die grondwetlike beginsels wat veronderstel is om die regsraamwerk van die Grondwet te verwesenlik nie.

Maar is daar dan niks positief om raak te sien nie? Berigte en leserskommentare oor Geloftedag weerspieël ʼn groot opgewondenheid oor die groot getalle mense, heel moontlik rekordgetalle, wat die verrigtinge bygewoon het.

Die Solidariteit Beweging se omvattende toekomsplanne kry ook groot ondersteuning, gerugsteun deur aksies soos dié van AfriForum, asook omvattende strategieë deur landbou-organisasies soos TLU SA. Dit blyk dat die kabinet nege van die aanbevelings van sy eie taakspan oor “grondhervorming” verwerp het. Dis wel min in vergelyking met die aanvaarding van meer as 60 van die aanbevelings, maar na gelang van wat afgekeur is, kan dit baie belangrik wees.

Seker een van die grootste terugslae vir enige vooruitsig op ʼn vreedsame normalisering in die land was ʼn onlangse artikel van prof. Anton van Niekerk waarin hy in wese armoede onder wit mense erg verskraal het, en eerder ʼn prentjie deur ʼn sleutelgat afgeneem het waar daar inderdaad (nog) weelde uitgebeeld word en as algemeen geldende norm aangebied is. Wit mense wat kla, is dus erg verkwalik oor hulle hul swaarkry uitwys, wat Van Niekerk as “onsin” afmaak.

ʼn Mens gaan verlekker jou immers nie voor ʼn treurende weduwee in haar man se dood nie.

Mag die jaar se negatiewe kant nie herhaal word nie. Laat ons bou op die positiewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Peet ·

Verstaan die opskrif, hoewel dit eintlik behoord te wees “Horrible Anusse at work”.
As Eskom maar net so goed beplan as die HSM wat soos klokslag hulle onwelriekende kommentaar soos van Niekerk en vandag Netwerk 24 se hoop feitelikke flaters. Hoewel die Magnum Opus dié van McBuffalo op niks minder as Versoenings Dag die lig gesien het.
Groete

Chris ·

Die skrif is aan die muur… Vir die wat nie kan lees nie, daar staan vlug vir die wat nie wil vlug nie, berei voor….

Casper Labuschagne ·

Met alle respek, “laat ons bou op die positiewe” se watsenaam. Aanstaande jaar hierdie tyd gaan ons totaal en al ander gesprekke hê as op die oomblik, want drie wette sal dan op die wetboek wees: 1) Nasionalisering van die Reserwebank; 2) Nasionale gesondheidsversekering; 3) Onteiening sonder vergoeding asook die wysiging van die klousule in die grondwet wat eiendomsreg verseker.

Koms ons hoor of daar in Desember 2020 weer op die positiewe gebou moet word sonder gesondheidsorg, sonder eiendomreg en met die gevolge van ekonomiese insinking en hiperinflasie.

André André ·

Cyril Ramaphosa het ontpop as ‘n Venda wat die Zulu’s se geskiedenis op die punte van sy vingers ken, en dan as iemand wat al meer versigtig moet wees dat hy nie té stief met die waarheid omgaan nie, dit blyk hoe later hoe kwater te wees, en as hy hom kom kry het hy self die etiket om sy nek gesit.

Johanna Botha ·

Geldjies is op en die agies sit dik en raak onrustig intussen is nog niemand vervolg nie …mooi anc julle het SA op sy knee !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.