Pakslae of nie?

Argieffoto

Ek hou nie van die konsep van “straf” vir kinders nie en wanneer daar van lyfstraf of pakslae gepraat word is ek onmiddelik ontsteld. Ek glo eenvoudig nie daaraan dat ʼn mens aan kinders of diere – of enigiemand moet slaan nie.

Daar is te veel ouers wat nog deesdae glo dat ʼn pakslae goed is, ten spyte daarvan dat tonne navorsing al die teendeel bewys het. Dissipline is baie belangrik – en gevolge vir verkeerde gedrag is net so belangrik, maar daar is baie beter en meer effektiewe maniere om te dissiplineer.

Vir my gaan dit in essensie oor leer, opvoeding en motiveer. Dit is eintlik wat ons eerste plig teenoor ons kinders is. Ons moet hulle grootmaak om gelukkige, goed-funksionerende en goed aangepaste individue in die samelewing te wees. Hulle moet selfdissipline en selfvertroue hê. Daar is GEEN verband nog ooit gevind tussen pakslae en enige van die positiewe uitkomste wat ek hierbo genoem het nie. En ek weet dat baie mense gaan stry en sê dat ʼn goeie pakslae die beste medisyne is, maar dit is dood eenvoudig nie waar nie.

Hoekom nie? ʼn Pakslae is gebaseer op die beginsel van vrees. ʼn Kind is bang vir die pyn – eintlik meer vir die vernedering – en daarom hoop ouers sal dit die gewenste uitwerking sal hê. Ons as ouers wil ons kinders leer en motiveer om die regte keuses te maak en reg op te tree. Dit is opbouend, positief en effektief. ʼn Pakslae is destruktief en negatief. Dis ʼn bangmaakmeganisme en nie ʼn leermeganisme nie. Volgens navorsing hou dit geen langtermyn goeie gevolge in nie. Dis beslis ook nie ʼn lekker gevoel vir ouers nie. Baie keer gee ouers ʼn pakslae wanneer hulleself kwaad of gefrustreerd is. Dit is ʼn baie slegte beginpunt of fondasie vir enige leer, dissipline of motivering.

Dink daaraan vanuit ʼn kind se wêreld. Jy as ouer is hulle beskermer, die een wat hulle liefhet en omgee vir hulle. Met ʼn pakslae word hulle letterlik fisies pyn toegedien. Die feit dat jy sê dat jy dit uit liefde doen, is ʼn begrip wat totaal onverstaanbaar vir enige kind is. Dink daaroor, dit maak nie sin nie. Wat is die boodskap wat ʼn pakslae aan kinders oordra? Behalwe vir die feit dat hulle die voorbeeld sien dat volwasse mense probleme met aggressie wil uitsorteer, skep dit gevoelens van vernedering, skaamte, verwyt, onsekerheid, frustrasie en vrees by kinders. Geen van hierdie emosies dra by tot enige konstruktiewe leer of positiewe gedrag nie. Hoe ontvanklik en openlik sal jy wees as iemand jou wil leer deur jou te slaan of seer te maak.

Hoekom doen ouers dit dan? Ouers doen dit omdat hulle so groot geword het, en omdat hulle nie weet wat anders om te doen nie. Ouers moet vroegtydig oor ʼn dissipline-strategie dink en lees. Jy kan nie tydens ʼn probleemsituasie ewe skielik aan ʼn ander manier dink om ʼn kind te dissiplineer nie. Daar is al so baie navorsing hieroor gedoen. Daar is wonderlike kreatiewe maniere om kinders te dissiplineer.

Ek glo absoluut daarin dat alle kinders dissipline en riglyne nodig het. Dit gee aan hulle sekuriteit omdat hulle weet dat daar ʼn bepaalde raamwerk met bepaalde reëls is waarbinne hulle kan optree. Gedissiplineerde kinders is gelukkige kinders. As ouers ʼn kind konstruktief en in liefde dissiplineer, dra dit die boodskap oor dat ouers vir hulle omgee.

Ek kan nie in hierdie beperkte spasie ʼn paar kitsstappe vir dissipline opnoem nie. Alle ouers wil die beste vir hulle kinders hê en daarom moet hulle gaan lees en leer hoe om kinders toepaslik vir elke ouderdomsfase te dissiplineer. Ek kan wel ʼn paar aspekte noem waaraan ouers moet dink.

Definieer baie duidelik en presies wat jy van ʼn kind verwag, wat hulle mag en nie mag of moet en nie moet nie en verduidelik dit vir hulle op hulle vlak. Dit help nie om aanhoudend te sê wat hulle nie mag doen nie. Verduidelik presies wat hulle eerder moet doen en hoekom. As jy gedrag wil verander moet daar ʼn beloning en ʼn negatiewe gevolg in plek wees. Om dit te kan doen moet jy jou kind ken. Jy moet weet watter tipe beloning of gevolge vir hulle sal werk. Dit moet binne perke en konstruktief wees en natuurlik moet dit leer en motivering bevorder. Maar wees versigtig met belonings. Jy wil hê dat ʼn kind die gewenste gedrag aanleer, bv om sy skoolwerk gedissiplineerd en goed te doen. Dit opsigself moet die beloning bring, met ander woorde dat hulle voel hoe dit voel om beter punte te behaal, en dat hulle nie harder werk vir die speelding en niks anders in die proses aanleer nie. ʼn Beloning is goed en lekker, maar dit is nie al waaroor dit moet gaan nie. Een van die heel grootste belonings vir kinders is die aanvaarding en goedkeuring van hulle ouers.

Goeie kommunikasie is die volgende stap van goeie dissipline. Deur met ons kinders te praat kan ons hulle beïnvloed, motiveer en leer. Ons kan met hulle onderhandel en hulle oorreed. ʼn Pakslae is ʼn vorm van negatiewe eenrigting kommunikasie. Gaan lees verder oor negatiewe gevolge wat pas by elke ouderdom en ontwikkelingsfase. Gewoonlik is die basis daarvan dat ʼn kind ʼn voorreg van een of ander aard moet prysgee.

Dissipline moet positief, konstruktief en opbouend en nooit vernederend, destruktief of aggressief wees nie. As ons verwag dat ons kinders na ons moet luister en respek vir ons moet hê, moet ons na hulle ook luister en ook respek vir hulle hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Flash ·

Eish – soveel mense soveel opinies!
Ek het goed slae op skool en tuis gekry as kind wanneer ek verbrou het. Dit het goeie vrugte afgewerp, dink ek…
Ek kan regtig nie met die sogenaamde ‘navorsing’ saamstem nie, weet nie wie en watse ‘navorsing’ dit was nie. Daar is natuurlik perke aan slae, maar ‘n verdiende pakslae op die regte tyd doen wonders, veral vir seuns. Hulle soek soms daardie fisieke kontak, maar ‘navorsing’ het dit seker nie opgetel nie.
As ek my kinders met slae tug, voer ek maar net bybelse beginsels en opdragte uit. Opdragte van baie diepe wysheid, meestal komende van die wyse Salomo. Hy was sekerlik onbewus van ‘navorsing’ wat skybaar baie beter as enige mens weet:

Deu_25:2 as dan die skuldige slae verdien, moet die regter hom laat lê en hom in sy teenwoordigheid met ‘n aantal slae laat slaan ooreenkomstig sy skuld;

2Sa_7:14 Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ‘n menslike roede en met slae van mensekinders.

Pro_23:13 Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie.
Pro_23:14 Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.
Pro_19:29 Vir die spotters staan strafgerigte klaar en slae vir die rug van die dwase.
Pro_20:30 Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste.

Dries ·

Nog beter, lees Spreuke 20 v 30:

“‘n Pak slae laat ‘n kind ophou kwaaddoen, dit laat hom selfs ophou dink aan kwaad”

Dis omrede kinders nie nie meer gefoeter word nie dat ons vandag met ‘n paar geslagte slapgat, voor op die wa, ongehoorsame, disrespekvolle, alwetende, mislike, ongedissiplineerde bloedjies sit!!
My gat het gereeld gebrand, hetsy op skool of by die huis en ek is vandag ‘n goed gebalanseerde, suksesvolle mens. My kinders het ook slae gekry as hulle dit verdien het en so ook my kleinkinders. Nie een van hulle is enigsins sielkundige wrakke nie. Inteendeel, my swaer het sy kinders nooit pak gegee nie en die sielkundige roete gevolg. Vandag kan hy sy hare uit sy kop trek, want sy dogter was al op 14 swanger en het skool verlaat met ‘n St 6 sertifikaat, sy seun is aan dwelms verslaaf en blameer alles en almal vir sy lewe behalwe homself!!

Nee wat, hou maar julle “moderne” metodes, dit werk nie!! Praat minder en moer meer!!

Hannetjie ·

Stem 100% saam!! Pak op sy tyd is soos brood en konfyt!!!!!

Ron ·

Ek dink daar moet meer navorsing gedoen word oor die Bybel en ons moet terug beweeg na ons God dan sal dit baie beter gaan. Vergeet van die sielkunde want dit werk nie. Goeie pak op sy tyd is meer doeltrefend as sielkunde.

Nicolien Welthagen ·

Ferguson CJ Department of Psychology and Communication, Texas A&M International University, Laredo, TX 78041, USA. [email protected] Clinical Psychology Review [Clin Psychol Rev] 2013 Feb; Vol. 33 (1), pp. 196-208.
Lee SJ ; Altschul I ; Gershoff ET Does Warmth Moderate Longitudinal Associations Between Maternal Spanking and Child Aggression in Early Childhood? Source: Developmental Psychology [Dev Psychol] 2013 Jan 21. Date of Electronic Publication: 2013 Jan 21.
Psychology : the science of mind and behavior / Michael W. Passer, Ronald E. Smith. New York : McGraw-Hill Higher Education, c2011. 5th ed.
Longitudinal Links Between Spanking and Children’s Externalizing Behaviors in a National Sample of White, Black, Hispanic, and Asian American Families.
Gershoff, Elizabeth T. Lansford, Jennifer E. Sexton, Holly R. Davis-Kean, Pamela Sameroff, Arnold J. Child Development, May 01, 2012; Vol. 83, No. 3, p. 838-843
Forms of Spanking and Children’s Externalizing Behaviors. Lansford, Jennifer E. Wager, Laura B. Bates, John E. Pettit, Gregory S. Dodge, Kenneth A. Family Relations, Apr 01, 2012; Vol. 61, No. 2, p. 224-236.
Transactional and Cascading Relations between Early Spanking and Children’s Social-Emotional Development
Gromoske, Andrea N. Maguire-Jack, Kathryn Journal of Marriage and Family, Oct 01, 2012; Vol. 74, No. 5, p. 1054-1068

Stoere Boer ·

En as jy eendag wakker skril dan wonder jy waar het jy gefaal met die opvoeding van jou kind. Dan wens jy jy het hom maar liewer ‘n ordentlike pakslae gegee. Jy het of nie kinders nie of hulle is nog baie jonk. Wag tot hulle jou begin toets dan werk net boere sielkunde.

Nicolien Welthagen ·

Stoere Boer

Ek het ‘n tienerseun waarop ek baie trots is en wat baie goed presteer op vele gebiede. Ek praat nie slegs vanuit ‘n persoonlike opinie nie, maar my mening is gefundeer in jare se navorsing deur die voorste akademici en navorsers op die gebied.

Stoere Boer ·

Wel ek is bly vir jou maar ek kan jou waarborg hulle is in die mindere. Gewoonlik is veral tienerseuns nogal lewendig en vol streke. Toevallig ken ek ook so ‘n tiener maar ek verkies een met meer lewe.

robert greeff ·

Pakslae het nog nooit skade gedoen ons wat pak gekry het het nie gewaag om n ouer of onderwyser te vloek of tee te praat vandag vloek kinders soos hulle wil maak wat hulle wil my kinders kry hul pak as dit nodig is en kan se hulle ken hul plek en maniere beter as al die mense wie ek ken wat hul kinders glad nie pak gee nie. Kan my kinders enige plek vat en weet hulle is kinders en hul kind wees nog geniet sonder enige probleme

Elize ·

Presies soos Flash (21 Augustus) geskryf het. Ek stem nie saam met die sielkundige manier van groot maak. Die woord navorsing word voor ons gegooi, maar tog kan ons by al die ander lande, wat ook stout hoekies / time out stoel ens ens gebruik, dat DIT NIE WERK NIE! Ek is trots op my kinders. Hulle presteer goed, het die beste maniere volgends ander mense en is nie bang om met enige iets ma my te kom. My geheim – Pakslae wanneer jy vra vir dit.

Tannie Poppie ·

Flash – daar het jy dit nou uit die Bybel vir ons gaan haal. Dankie.

Ek het met pakslae groot geword en ek het my kinders pak gegee. Dit het my nie gepla nie – wat my wel gepla het was die gesegde: “kinders mag gesien maar nie gehoor word nie” – dit is my oë ‘n groter euwel. As jou kinders die vrymoedigheid het om met jou te kan praat en hulle gevoelens mag deel, sal pakslae nie so dikwels nodig wees nie.

My klein-kinders (as voorbeeld van ‘n nuwe geslag) is aanvanklik met die “naughty step” – of iets dergliks gestraf – na sowat 6 maande het hulle kwaad gedoen en hulle self dan op die naughty step gaan sit! Nou wat het hulle geleer? Dit was nie lank daarna nie, dat hulle toe ook maar pakslae gekry het – en dit werk voorwaar – sal hulle nou weer kwaad doen en hulle self pakslae gee? Ek dink nie so nie….

Daar is uit die aard van die saak mense wat altyd alles oordoen en nie pak gee nie, maar martel – daar is ‘n baie groot verskil tussen pakslae op die boude en martel! Lyfstraf het deur die jare baie afgewater – sodat daar duidelike reels is vir martel en pak gee, maar ons sit juis vandag wêreldwyd met groot sosiale probleme omdat dit nie meer toegepas word nie. ‘n Geslag word geskep van mense wat doodeenvoudig geen respek het vir niks of niemand nie……

Amanda/Sindy ·

Boude wat brand laat ore oopspring. Finish en klaar. Nooit sal ek die kind wat vir my geleen is groot la word sonder straf. Jy kind vir my geleen behoort aan die GOD wat georden is.

Kinders is nie die staat se eiendom. As ek jou kind vir my geleen se boude warm maak gaan kla. Sal jy sommer ook jou tassies pak dan kan jy of by die SAPD of by “Nkantla” jou intrek neem. Sweer my af en stap by my verby…… Mnr Zuma moet asseblief hom by sy eie kinders bepaal en ander sin uitlos!! Die jeug is so verward sonder dissipline hulle weet nie meer wie en waar hulle is!!!! DIKBEK!!!

Jacques Conradie ·

Sielkundiges gee nie hulle kinders pak nie want om in ‘n sielkundige se huis groot te word is straf genoeg.

OompieKedoompie ·

mmm Julle almal moet maar lekker moer.
My opinie is dat dit lui ouers is wat sommer net slaan. Mense wil nie die rede vir die stoutgeid ontleed en dan die wortel van die kwaad adresseer nie.
Nee wat, gryp sommer en slaan. Probleem opgelos. Dis die maklike (lui) uitweg.

Casper Folscehr ·

Haai dis nou ‘n mooi ondewerp om oor te gesels. Ek stem, hou op slaan en dan hou ons ook sommer op om ‘n polisiemag aan te hou (ons kan baie geld spaar aan onnodige salrisse), en dan kan ons met opvoeding en sielkunde die krims leer om nie te moor nie, nie te steel nie, nie vandale te wees nie, ens, ens. ‘n Goeis pakslae op sy tyd is een van die beste motiverings wat jy ‘n kind kan gee. My gat he slae gekry as dit nodig was totdat ek oud genoeg was om te verstaan NEE is NEE en JA is JA.

BJ ·

Ek stem glad nie saam met die skrywer nie. Pakslae is beslis nodig! Dit pas so goed soos brood en konfyt! Kind wil weet waar sy streep getrek is en waar dit nou “klaar” gepraat is!
Nee: ek se nie slaan voor die voet, maar doen die kind n guns: maak agterstewe warm as die oortreding dit vereis.

Johann ·

Hier word wilde aantuigings gemaak van ouers wat lui is, of uit woede hulle kinders slaan. In my geval was dit nooit so nie. My ouers het met die eerste oortreding mooi verduidelik hoekom die optrede verkeerd is. Met die tweede oortreding is ons meer ernstig gewaarsku. Eers met die derde oortreding is ons kamer toe gestuur, waar ons pak gekry het met ‘n belt wat vir geen ander doel gebruik is nie. My ouers het nooit in woede gegryp en geslaan nie, maar het eers hulself kalmeer voor ‘n pak slae. Dit het vir my gewerk, en dit gaan vir my kinders werk, en niks wat die regering doen gaan my keer nie.

Martin ·

Ai, Waar gaan ons eindig.
Nicolien, besef jy dat jou sienning besig is om ons land in duisternis te dompel. Jy is n geleerde persoon en het die kennis om jou kinders, dalk sonder n pakslae groot te maak. Die miljoene onbekwames wat nie jou kennis het nie, word nou vertel hoe sleg dit is om n kind slae te gee en kan in die hof beland. Ons kinders word groot gemaak sonder dissipline en word wetteloos.
Gaan maak n draai in ons skole, kyk wat gaan in die klaskamers aan en sien hoe alles besig is om hand uit te ruk.

Renier Lubbe ·

Al die slim boeke in die wêreld het net nadeel gebring.

Kinders vertrap hul ouers.
Daar is meer misdaad onder die jeug.
Minder dissipline onder die jeug.
Kinders wil nie leer nie en aanvaar geen gesag nie.
Meer alkohol- en dwelmmisbruik.
Meer…
Meer…..

Ek weet daar is uitsonderings maar dié is maar min of hulle kry stil, stil steeds slae.

Rika Harmse ·

Ek stem grotendeels saam. Nou dat ek ouer is is die geduld baie meer, alhoewel ek hope geduld met n kind het, kan dit ook net so lank hou. Jy kry in elk geval meer uitgerig deur rustiger met die kind te praat en verduidelik wat reg en verkeerd is. Wat baie goed gewerk het vir my kids en kleinkinders was om hul te wys op dinge of iemand wat iets doen of gedoen het en daaroor gepraat en die “verkeerd” daarin uitgewys het. Soms ook interessante stories opgemaak. Hang af van die kind se ouderdom. Maar dissipline, baie aandag en luister na jou kind en gee hom geleentheid om te praat en
Baie liefde is die regte manier. Wees baie positief. Onthou as jy op jou kind skree leer hy om ook te skree as hy ontevrede is of nie sy sin kry nie. Ons almal het al die fout gemaak. Pas hul net op soos n kleinood.

Danie ·

Man ek se pakslae is n goeie ding op sy tyd dis net so as jou kan eendag grootmens wereld in gaan sal hulle respek he vir ouer mens jy moet nie skaam wees vir jou kinders nie. Pakslae is nie vir dood slaan nie dis net om te leer onthou dit wat jy verkeerd gedoen het moet nie weer nie

Johan Viljoen ·

Van al die opvoeding uit n sogenaamde kenner se boeke het ons vandag baie meer kriminele en problem kinders as ooit voorheen. Wonder net wie gaan vir daardie problem kinders sorg as die Ma en Pa in die tronk sit weens die feit dat hulle tug toegepas het..

Nardus Snyman ·

My liewe mens , in watter wereld leef jy ??
Maak oop jou ogies !!!! Dis deur sielkundige opvoeding en “human rights” dat dit in die wereld gaan soos dit nou gaan . Word tog net wakker !!! Jul het die samelewing al reeds onherstelde skade aangerig !

Woestynkind ·

“Navorsing het bewys”, wat bewys? dat die wêreld `n gemors is omdat kinders deesdae die baas is en ma en pa die klase. Dagga,drugs en drank deel uit maak van die hedendaagse kind omdat sy pa en ma te sleg is om sy gat aan die brand te slaan en sodoende `n ordentlike opvoeding gee.Sulke pa`s en ma`s hulle verskans agter die sielkunde,omdat hulle te sleg is om hulle kinders self ordentlik op te voed.
In ouetehuise is letterlik honderde oumense wat nooit hulle kinders sien nie. Wie is hulle, hulle is die ouers wat hulle kinders se agterente gelek het,inplaas van hulle agterente aan die brand te slaan.
Moenie my verkeerd verstaan nie,ek praat van `n pak op die boude maksimum 4 ordentlike houe en daarna liefde, gee altyd liefde saam met wat jy uitdeel. `n groot mag nie! is om jou kind met die vuis te slaan of aan te rand. Maar `n goeie pakslae en baie liefde verrig wondere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.