Rekord-petrolprys ʼn simptoom van rand-swakheid

Deur Paul Joubert

Die kleinhandelprys van petrol is vandag tot die hoogste nominale vlak ooit in Suid-Afrika se geskiedenis verhoog – R10,60 vir een liter 93-oktaan petrol in Gauteng. Dit is tien sent per liter meer as die vorige hoogtepunt wat in Julie 2008 bereik is net voor die kommoditeitsprysborrel gebars het. Diesel se groothandelprys het ook gestyg tot R10,01 per liter, maar dit is darem nog ʼn bietjie laer as Julie 2008 se prys van R11,44.

Brandstofpryse word in Suid-Afrika deur die staat gereguleer, hoofsaaklik om te verseker dat die Suid-Afrikaanse raffinaderye nie sluit nie. ʼn Sluiting van olieraffinaderye sal met werksverliese en verlies aan die gerieflike beskikbaarheid van neweprodukte van olieraffinering gepaard gaan. Ten spyte van wat sommige mense sê, is daar vanuit ʼn energiesekerheidsperspektief nie werklik ʼn motivering om raffinaderye in Suid-Afrika te hê nie. Die land voer in elk geval ru-olie in. In ʼn handelsoorlog of werklike oorlog kan die voorsiening van ru-olie net so maklik afgesny word soos die voorsiening van petrol of diesel.

Die gereguleerde pryse sluit ʼn gewaarborgde bedrag wins vir die brandstofmaatskappye in, wat hulle motiveer om hul raffinaderye hier te hou, eerder as om moontlik finale produkte na Suid-Afrika te verskeep van hul buitelandse raffinaderye. Die gereguleerde pryse sluit verder ook ʼn meganisme in om die hipotetiese markprys wat petrol en diesel in Suid-Afrika sou gekos het indien dit ingevoer is, te bepaal. Hierdie meganisme is grotendeels betroubaar en akkuraat. Dit wil sê dat indien die prys eenvoudig aan die mark oorgelaat is, dit weinig sou verskil van die prys wat deur die meganisme bepaal word.

Op ʼn eenvoudige manier verduidelik, gebruik die huidige prysmeganisme die internasionale dollarpryse van brandstof by buitelandse raffinaderye, plus verskepingskoste, omgeskakel na rand. Die belangrike faktore hierby is dan (by benadering) die internasionale olieprys en die rand/dollar wisselkoers. Wanneer die internasionale olieprys styg, styg Suid-Afrika se petrolpryse, en so ook wanneer die rand teenoor die dollar verswak.

Elke maand se gemiddelde hipotetiese rand-prys van ingevoerde brandstof word met die werklike prys wat aan die begin van die maand vasgestel is, vergelyk en ʼn aanpassing word dan vir die volgende maand gemaak. Suid-Afrikaners betaal dus in November die prys wat hulle eintlik in Oktober moes betaal het. Deur die loop van Oktober het die internasionale dollarpryse van brandstof ietwat gedaal, maar die rand het soveel verswak (gemiddeld sowat R8,00 teenoor die vorige maand se gemiddeld van R7,57) dat dit die effek van die laer dollarpryse heeltemal uitgekanselleer het. Die veranderlike deel van die plaaslike petrolprys het dus gestyg van R5,99 tot R6,22.

By die veranderlike prys word die vaste dele van die prys, soos die heffings op brandstof, en die groothandel- en kleinhandelwinsmarges getel om die prys wat Suid-Afrikaners by die vulstasie betaal, te bepaal.

Daar is baie wanpersepsies wat bestaan oor die redes vir stygings in die petrolprys – te veel om almal hier te bespreek. Een van die mees algemene bewerings wat gemaak word, is wel dat die petrolprys opgestoot word sodat die regering meer geld kan maak uit heffings op petrol. Dit is heeltemal onwaar. Die heffings op petrol is vaste bedrae per liter, dit styg nie soos die prys styg nie. Daar is ook geen BTW op petrol nie. Die bedrag geld wat die regering invorder deur heffings op petrol hang dus slegs af van die fisiese hoeveelheid petrol wat verkoop word. Op die oomblik beloop al die verskillende heffings op ʼn liter 93-oktaan petrol in Gauteng gesamentlik R2,65. Dit beteken dus dat indien tien miljoen liter petrol verkoop word, die regering R26 500 000 invorder daarop. Indien slegs agt miljoen liter petrol verkoop word, word slegs R21 200 000 ingevorder.

Op enige gegewe tydstip sal ʼn hoër petrolprys daartoe lei dat minder petrol verkoop word as wat met ʼn laer prys die geval sou wees. Hoewel die vraag na brandstof redelik onelasties is, reageer mense wel op ʼn verandering in prys deur hul verbruik aan te pas. Met ander woorde: Hoe hoër die petrolprys, hoe minder ry mense onnodig rond of hoe meer maak hulle van saamrygeleenthede gebruik. Wanneer die petrolprys styg, maak die regering dus in der waarheid minder geld uit brandstofheffings as wat die geval met ʼn laer brandstofprys sou gewees het. Buiten natuurlik vir April van elke jaar, wanneer die jaarlikse aanpassing aan brandstofheffings gemaak word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.