Satiriese kommentaar: Mugabe is nie dood nie

Robert Mugabe. Foto: GCIS

Robert Mugabe. Foto: GCIS

Pres. Robert Mugabe (90) van Zimbabwe is vanoggend lewendig in sy hotelkamer in Addis Ababa, Ethiopië gevind. Hy is die Afrikakontinent se oudste staatshoof, en Zimbabwe is die lankslyende land op dié kontinent.

Die oorsaak van sy lewe is nog nie bekend nie. Volgens medici het hy net gister nog skokkend gesond gelyk.

Waarnemers meen die oorsake van sy toestand kan moontlik toegeskryf word aan sy komende verkiesing vandag as voorsitter van die Afrika-unie. Dit volg op die uitlek van die uitslag van die leiersverkiesing gister, voordat dit later vandag plaasvind.

Hy volg Mauritanië se pres. Mohamed Ould Abel Aziz op, wat sy verbintenis tot demokrasie en menseregte getoon het deur twee staatsgrepe in vier jaar in dié verarmde land in Noord-Afrika uit te voer.

Zimbabwe-ruïnes
Diplomate beskou mnr. Mugabe se verkiesing as voorsitter van die invloedryke Afrika-unie as die kroon op sy glorieryke presidentsloopbaan van 35 jaar, waartydens hy sy land vanaf die ruïnes van Zimbabwe tot ‘n geruïneerde Zimbabwe gely het. Uitgelate Zimbabwiërs het na wat verneem word onder polisiebewaking in die strate feesgevier om sy verkiesing te vier, en gesing dat dit voel of sy bewind al ‘n eeu duur. Afrika-diplomate het die hoop uitgespreek dat hy nou in ‘n beter posisie is om die hele Afrika te ruïneer.

Die voorsitter van die Afrika-uniekommissie, Suid-Afrika se Nkosazana Dlamini-Zuma wat Mugabe se verkiesing georganiseer het, het in reaksie op Mugabe se onverwagte verkiesing as AU-voorsitter gesê dit simboliseer Afrikaleiers se verbintenis tot demokrasie, goeie regering en menseregte as die beraad se tema en tot die kerndoelwitte van die AU.

Nog ‘n Zuma, Suid-Afrika se pres. Jacob Zuma, het reg langs Mugabe gesit gedurende die vergadering, en die twee was die middelpunt van die aandag van buitelandse nuusdienste. Dis nie bekend of hulle hande vasgehou het nie. Suid-Afrikaanse diplomate het pres. Zuma se simboliese toenadering verklaar deur te bespiegel dat Zuma voor die oë van die wêreldmedia langs Mugabe wil sit met die doel om internasionale beleggersvertroue na Suid-Afrika te lok. Dit is in lyn met die pro-beleggingsboodskap wat die regering verlede week in Davos, Switserland uitgestuur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Liza Opperman

Hahaha het ek nou die berig geniet! Hou van die humor !

Langjan

Dis baie goed geskryf”die oorsaak van sy lewe””baie snaaks!

Jasper

Sou die wêreld nie n beter plek gewees het sonder sy koolstofspoor nie ?

carel

dis tyd…..

anton

Kenmerk van onkruid, dit vergaan nie gou nie..