Nuuskommentaar: Waar staan vroue vandag in SA?

SAvlagGister, Sondag, is Vrouedag as deel van Vrouemaand in Suid-Afrika gevier. Die blote feit dat die datum uit pas is met die viering van Internasionale Vrouedag wat sedert 1911 op 8 Maart gevier word, dui daarop dat die Suid-Afrikaanse weergawe ’n eiesoortige historiese aanloop het. Dit is inderdaad vanuit die struggle-geledere geskep.

Dit beteken egter nie dat Vrouedag nie ’n goeie geleentheid bied om na die stand van vroueregte in die land te kyk nie. In beginsel beteken vrou wees in hierdie land om voordele uit bemagtiging te kan trek, maar omdat die ANC sy klem so swaar na ’n rasbenepenheid verskuif het, is dit nie so opsigtelik nie. In eie geledere probeer die ANC vroueverteenwoordiging so na as moontlik aan ’n 50 – 50-kwota te bewerkstellig, soos in die parlement, wetgewers, die kabinet en vele meer. Hiermee is nie fout te vind nie, mits die vrouegeslag nie op ’n jonger ouderdom op ander maniere benadeel word om byvoorbeeld kwalifikasies gelykstaande aan dié van mans te behaal nie. Dit wissel van praktyke wat eintlik maar op die lobola-handel van jong meisies neerkom, ouers wat nie die nut daarvan insien dat hul dogters professionele kwalifikasies behaal nie, dat vroue in die eerste plek daar is om kinders in die lewe te bring, ontydige swangerskappe en vele meer.

Die vraag kan dus gevra word of daar ’n voldoende poel van beskikbare vroue is om as parlementslede, kabinetslede, en nou selfs moontlik as ’n toekomstige president te dien wat met die beskikbare talent van die mans kan meeding. Was die ongevalle nie dalk effe hoog onderweg nie?

Ongelukkig, of dalk juis gelukkig, is die vraag nie so maklik om te beantwoord nie. In Suid-Afrika is die beskikbare talente aan die vrouekant opvallend skraal, maar aan manskant gaan dit nie juis beter nie. Die jaarlikse sogenaamde rapporte wat opposisiepartye aan ministers uitdeel verklap immers ’n verhaal van wydverspreide onbevoegdheid onder die mans én vroue. Dit sal heelwat verbeeldingskrag verg om onder dié vroue iemand te vind wat vergelyk kan word met Angela Merkel, Margaret Thatcher en Golda Meïr.

Hoewel daar groot dele van die wêreld is waar nog blatant teen vroue gediskrimineer word, soos om stemreg te weier, of vroue te belet om motors te bestuur, is vroueregte ook nie iets wat heeltemal nuut is nie. In Turkye is onlangs kleitablette uit die Assiriese tydperk gevind wat 4 000 jaar oud is, en voorskrifte oor vroueregte bevat.

Wat Suid-Afrika betref, is die posisie minstens erg skisofrenies. Terwyl vroueregte amptelik gesteun word, is daar konsepwetgewing wat vroue in tradisionele howe van hul mees basiese regte sal ontneem. Dit is ook ’n aanklag teen die land dat dit die wêreld se verkragtingshoofsetel is, met selfs tweejarige babadogtertjies en ’n oumatjie van 102 jaar wat nie gespaar is nie. Die president het vier vroue wat hy na gelang dit hom pas by verskillende geleenthede inspan.

Maak van elke dag ’n vrouedag om die vrou as vrou, as broodwinner, as ma, as kultuur- en godsdiensdraer te eer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Goed gestel Herman en dankie.
Die ‘vlag’ kon egter vervang word met iets meer simbolies soos die vrouemonument, hande van ‘n vrou of ‘n groep vroue/kinders wat meer volkseie sou wees.

Leeutjie ·

Goeie vraag! Waar staan vroue in S.A.? Vermoor, verkrag, verniel…..?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.