Waarom ANC-Jeugliga se optog gaan misluk

Deur Eugene Brink

Dit ly geen twyfel dat die jeug van vandag enorme uitdagings in die gesig staar nie. In SA alleenlik was meer as 56% van mense tussen die ouderdom van 18 en 25 laas jaar sonder werk. Natuurlik is dit ʼn onhoudbare situasie wat die jeug woedend en moedeloos maak. Maar wat doen mens daaraan om die situasie te beredder? Sover het die ANC-Jeugliga ʼn optog vir vandag en môre in Gauteng gereël om die wolkerige term ‘ekonomiese vryheid’ (kortom, wettige sosialisme) bekend te maak en dit aan onder meer mynhuise en die Johannesburgse Effektebeurs (JEB) op te dwing. Dit volg kort op die hakke van ʼn ander soortgelyke egalitariese beweging aan die ander kant van die wêreld, naamlik Beset Wall Straat (Occupy Wall Street) in die VSA. Hoewel albei tog geldige punte het, wil ek hier my redes aanvoer dat hulle droëbek afstand van hul strewes gaan doen.

My eerste rede is dat albei ʼn betreklik edele doelwit op die verkeerde manier wil bereik. Terwyl die jeug-werkloosheidskoers in Suid-Afrika hemelhoog is, het die jeug in die VSA soortgelyke probleme. Weens pres. Barack Obama se massiewe stimulusbesteding om die ekonomie op dreef te kry, gaan hulle die geslag word wat die skuld moet terugbetaal. Beide bewegings is gesetel in lande waar ongelykhede, boonop met ʼn rasselyn, ʼn harde werklikheid is. Beide hierdie organisasies bepleit groter gelykheid en Beset Wall Straat beskryf hulself as “die ander 99%”, wat ʼn kritiek is op die 1% van die Amerikaanse bevolking – grootliks wit mans – wat 40% van die rykdom besit. Die Jeugliga voel politieke vryheid is bereik, maar ekonomiese vryhede vir die swart bevolking, en by uitstek die swart jeug, is bloot ʼn droom. Waar ekonomiese vryheid en groter werkskepping feitlik universeel verwelkom moet word, kan dit nie deur betogings en in sommige gevalle geweld, teweeg gebring word nie. Ekonomiese vryheid en vooruitgang lê opgesluit in ʼn mengsel van beter onderwys en opleiding, harde werk, regerings wat daaraan toegewyd is en doelgerigtheid. Dit is meer ʼn bestemming as ʼn gebeurtenis en is iets waarvoor jy oor ʼn tydperk werk en nastreef, nie iets wat aan jou gegee word nie.

Dit lei my na my tweede rede: Hulle teiken die verkeerde mense en instellings. Hoewel historiese faktore soos Apartheid wel ʼn stremmende faktor op die ontwikkeling van die bevolking is, moet die huidige regering eweneens pa staan vir die ekonomiese mislukkings in die land. Terwyl hulle lof verdien vir ʼn grootliks verstandige ekonomiese beleid sedert 1994, het die ANC aan talle fronte klaaglik misluk. Ons arbeidswetgewing is so rigied dat dit feitlik onmoontlik vir werkgewers is om swak werkers af te dank. Ons minimumlone is desgelyks weens die linkse politieke invloede soos Cosatu so hoog dat oorsese maatskappye en plaaslike besighede dit nie kan bekostig om Suid-Afrikaners in diens te neem nie. Ons buurstate se werkskepping is byvoorbeeld baie hoër as ons sʼn oor hul arbeid bloot goedkoper is. Voorts het regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en korrupsie die ware ekonomiese vryhede in ons land só verydel dat miljoene vaardige mense weg is na meer belowende kuslyne. Hierdie mense is uiteraard werkskeppers. Voorts is die amptelike burokrasie so omslagtig en vol windinge en die belastingkoers so hoog dat mense moed opgee om besighede te begin en werk te skep. Dus is dit nie die mynbase, entrepreneurs en wit boere – wat per slot van rekening reeds werk verskaf – wat die probleem is nie, maar die regering se swak beleide en droewige inwerkingstelling van planne wat die ekonomie beduiwel.

In Amerika blameer hulle die bankiers op Wall Straat. Hoewel hierdie sektor blaam moet dra vir die ekonomiese probleme in die VSA, het hulle dit beslis nie alleen laat gebeur nie. Hulle het net so ver gegaan soos wat die regering en hul kliënte hulle toegelaat het. Die Bush-administrasie was hewig laisser-faire met hul ekonomiese beleid en wou maksimum deregulering toepas. Kliënte (synde die publiek) het by banke vir tot, drie vier en selfs sewe huislenings aansoek gedoen om meer eiendom as beleggings te kan koop. Die banke het dit natuurlik toegestaan want hulle wil hul markaandeel beskerm. So het die publiek, en die jeug ingesluit, meer en meer skuld aangegaan totdat die resessie van 2008/’09 die VSA die leningspartytjie kom bederf het. Dus het die banke, Amerikaanse publiek en veral die middelklas sowel as die destydse regering almal skuld aan die ekonomiese malaise in die wêreld se grootste ekonomie. Om dinge te vererger, het Obama die begrotingstekort die hoogte in laat skiet met sy stimuluspakket.

Terwyl die demografie van die twee protesbewegings wys dit is die jeug wat teen die ouer kapitaliste opstaan, wys dit juis dat die jeug goed wil toeëien wat hulle nog nie verdien het nie. Die jeug is kwaad omdat hulle nie soveel soos die 55-jarige man op Wall Street of in Sandton verdien nie. Maar 30 of 35 jaar terug was daardie bankier ook net ʼn klerk met ʼn klein salaris. Hy moes homself opwerk, waarskynlik studiegeld terugbetaal, spaar, moeilike besluite neem, hard soweg en lank wag om ʼn hoë salaris te verdien. Ek weet dit val beslis nie in jou skoot nie. Dus word die verkeerde mense uitsluitlik blameer.

Derdens: Hulle word nie ernstig opgeneem nie. Die ANC-Jeugliga het nie eens heelhartige steun van die ANC self vir hul optog gekry nie, slegs ʼn gekwalifiseerde goedkeuring om dit te mag onderneem. Geswore kommuniste soos dr. Blade Nzimande van die SAKP en Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, en prominente vakbondfigure soos Zwelinzima Vavi is louwarm of selfs gekant teen Malema en Kie se planne. Afgesien van die moontlikheid van skade aan private en openbare eiendom, staan die algemene publiek afsydig jeens die Jeugliga se planne.

In Amerika het politieke partye, politici en meningsvormers deernis met wat Beset Wall Straat wil uitrig, maar stop ver kort daarvan om heelhartige steun daaraan toe te sê. Natuurlik het Obama hul frustrasie as politieke slaanstok vir die vorige administrasie en sy eie mislukkings gebruik, maar van beleid en wetgewing om die beweging se doelwitte ʼn werklikheid te laat word, is daar geen sprake nie.

Die gewone Amerikaner en Suid-Afrikaner is te besig om te werk, te lewe, hul kinders groot te maak en kop bo water te hou dat die weerbarstigheid van jeugdige groepe bloot ʼn interessante verskynsel is. Hulle voel dat as ons moes opoffer en sukkel om te wees waar ons is, moet vandag se jeug dit ook doen.

Die uiteindelike feit is dat hierdie bewegings se doelwitte edel, maar uit voeling met die werklikheid is. Tensy Suid-Afrika en die VSA kommunistiese diktature word, kan daar nie van een persoon of groep gevat word en vir ʼn ander pasella gegee word nie. Dis diefstal, finish en klaar. Dit is die politici se magsbelustheid en swak beleide en Jan Publiek se gierigheid wat hierdie vraagstukke geskep het, en dit gaan meer as betogings en versoekskrifte kos om die jeug se probleme op te los. Ek wil tog byvoeg dat die jeug ʼn kans verdien om hulself te bewys en ons almal in Suid-Afrika en Amerika het ʼn plig om steun aan die volgende generasie vir hul sukses te gee.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae