Wat Ghaddafi se dood vir Afrikaners beteken

Deur Eugene Brink

Charlie Chaplin het eenkeer tereg en spitsvondig opgemerk: “Dictators free themselves, but they enslave people.” Dit was heeltemal waar van die nou ontslape kol. Moeammar Ghaddafi van Libië. Hy is verlede week in sy tuisdorp, Sirte, gevange geneem deur rebelle wat teen sy regime geveg het. Internasionale nuusnetwerke het onsamehangende beeldmateriaal gewys van ʼn bebloede Ghaddafi wat voor ʼn voertuig loop en smeek om sy lewe. Hy word dan later doodgeskiet en sy lyk lê ten aanskoue van die publiek in die straat.

Ghaddafi was allerweë as ʼn diktator beskou weens sy outokratiese bewind van 42 jaar, maar het ook plaaslike sowel as internasionale steun geniet. Hy het politieke en ander vryhede onverbiddelik onderdruk (verkiesings en politieke partye is sedert 1971 verbied en is nou weer ontban), andersdenkendes en opponente laat martel en vermoor, kernwapens onwettiglik ontwikkel, ʼn sleutelrol in die neerstort van ʼn vliegtuig oor Lockerbie in Skotland in 1986 gespeel, terreurorganisasies en diktators finansieel en moreel ondersteun en homself ten koste van die Libiese bevolking verryk. Andersyds het hy groter Afrika-eenheid bepleit (ofskoon met homself as die selfaangestelde “keiser” van ʼn Verenigde State van Afrika), geldhulp aan sukkelende Afrika-regerings geskenk en Apartheid teengestaan.

Laasgenoemde maak hierdie konflik baie relevant vir Suid-Afrika en ook vir Afrikaners as groep. Die ANC het strykdeur die Libiese burgeroorlog hulself by Ghaddafi geskaar en was selfs ambivalent oor ʼn resolusie deur die Verenigde Nasies (VN) wat lede van sy Veiligheidsraad te magtig om burgerlikes in die konflik teen Ghaddafi se vergrype te beskerm. Pres. Jacob Zuma het halfgebakte verskonings oor meer tyd vir “Afrika-oplossings vir Afrika se probleme” voorgehou nadat Ghaddafi reeds onttroon was deur Libiese rebelle en vliegtuie van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo). Selfs nadat die res van Afrika reeds die Nasionale Oorgangsraad as die legitieme regeerders van die land erken het, was die ANC steeds teësinnig om dit te doen. Terwyl dit verstandig is om te vra dat Ghaddafi eerder gevange moes gebly het en voor die Internasionale Strafhof moes verskyn (wat die ANC gedoen het), is die ANC-Jeugliga se beskrywing van Ghaddafi as ʼn anti-imperialistiese martelaar wat diep vir Afrika omgegee het, ʼn belaglike siening om die minste te sê. Daar was geen erkenning deur die ANC van Ghaddafi se vergrype teenoor sy eie mense nie, sy eie selfverryking of die uiteindelike vryheid en demokrasie in Libië nie (altans tentatief). Libië se nuwe vryheid kan met Suid-Afrika se euforie in 1994 gelyk gestel word, maar klaarblyklik weeg historiese gunste soos militêre opleidingsbasisse vir die ANC se kaders swaarder as mense se vryheid en menswaardigheid. Chaplin se aanhaling was toe in die kol oor Ghaddafi se selektiewe erkenning en toekenning van vryhede.

Hierdie toedrag van sake het nie ongesiens verby gegaan nie en Suid-Afrika se internasionale reputasie is verdere skade berokken nadat dit telkens aan die verkeerde kant van die morele skeidslyn staan. Dít nadat die Suid-Afrikaanse regering nie die Dalai Lama se visum weens oënskynlike druk van China wou goedkeur nie, Zimbabwe en Myanmar se optrede in die VN verdedig en die outokraat Laurent Gbagbo se gewelddadige aksies na afloop van die Ivoorkus se geknoeide verkiesing verdedig in weerwil van Nigerië en ander Wes-Afrika-state se heftige teenkanting. Eerstens het die internasionale media daaroor berig en sommer gewys watter gesaghebbende plaaslike teenkanting daar is teen die ANC se optrede. “South Africa has established a position, which I think is foolish, of trying to show it’s not the servant of the West and that Africa should carve out its own independent way in international affairs,” het Allister Sparks, veteraan politieke ontleder en joernalis, aan die gesiene Britse koerant The Guardian gesê. Sparks skaar hom hiermee by talle ander plaaslike ANC-kritici wat teen apartheid geveg het, soos emeritus aartsbiskop Desmond Tutu, wyle dr. Frederik van Zyl Slabbert, Max du Preez, Moeletsi Mbeki en Rhoda Kadalie. Boonop het die Amerikaanse regering dit in diplomatieke kabels wat op Wikileaks bekend gemaak is, laat blyk dat die ANC nou nes die ou Nasionale Party geraak het.

Gedurende Apartheid was die Afrikaner en Suid-Afrika die muishond. Die land en groep is internasionaal verguis, geostraseer, gestraf en gestigmatiseer. Hierdie situasie is nou besig om te verander. Die Afrikaner word toenemend as ‘n kleinood in veral Wes-Europa se Germaanse dele gesien. Apartheid is al feitlik vergete en Nederland en België wil veral die Afrikaners as groep en hul taal met geld en ander ondersteuning bystaan as deel van hul erfenis. ‘n Amerikaanse senator van die Republikeinse Party wil selfs aan Afrikaners dubbele burgerskap toeken (vir Suid-Afrika en die VSA). Daarenteen het die ANC ditself in ‘n muishond omskep wat met Kuba, Noord-Korea en Zimbabwe heul. Dit val toenemend in onguns by Westerse demokrasieë en raak self ondemokraties met dreigemente rakende Zimbabwe-styl grondonteiening, die nasionalisering van bates en pogings om die media deur wetgewing te muilband.

So wat beteken Ghaddafi se val eintlik vir die Afrikaner as minderheidsgroep en ANC as regering in Suid-Afrika? Die vernaamste implikasie is dat die ANC nog ‘n struggle-vennoot verloor het en feitlik geen meer vriende uit die struggle-tyd oor het nie. Die Sowjet-unie en sy Oos-Europese vassalregimes het verbrokkel en het drastiese veranderinge ná die Koue Oorlog en val van kommunisme as grootskaalse ideologie ondergaan. Die nuwe demokratiese state in Oos-Europa het nie meer strategiese of ideologiese bande met die ANC nie (meeste het sentrum-regse regerings) en weens hul klein status in die wêreld is hulle nie so geïnteresseerd in Suid-Afrika se grondstowwe nie. Omdat Suid-Afrika nou ‘n demokratiese staat met ‘n Afrika-oriëntasie is en nie meer ‘n bolwerk teen kommunisme soos tydens die Koue Oorlog nie, het Rusland ook nie meer ‘n regstreekse belang by die land nie. In Kuba het Fidel Castro die leisels aan sy broer, Raul, oorgegee en laasgenoemde het nie dieselfde persoonlike verhouding met die ANC as sy broer nie. Indonesië onder Suharto het geld vir die ANC vir hul stryd teen apartheid gegee. Daardie steunpilaar het ook sedertdien verdwyn.

Nou is Ghaddafi ook weg en die ANC hardloop nou na ideologies-eklektiese vennote toe vir hulp. Die Afrikaner, daarenteen, is ‘n kwesbare maar unieke en trotse minderheid in ‘n land wat deur ‘n ongewilde regering regeer word. Dus het die Afrikaner se gewildheid weer toegeneem soos toe hy teen Groot Brittanje in die Anglo-Boere-oorloë baklei het terwyl die ANC met sy rassisme en onsinnige beleide in onguns verval. Die oomblik het aangebreek om ons status en hierdie situasie internasionaal in ons guns te hefboom en vennote te werf.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

sestiger ·

Eugene dink jy nie dat die grootste Ghaddafi-terugslag vir die ANC die verlies is van vrye finansiele inspuitings wat nou verlore is nie? Gebaseer op wynstok-info rakende Ghaddafi se Wereldsokkerbekerbesoek was hy ‘n almintige partytjieman wat die belastingbetaler etlike duisende aan allerhande partybedrywighede gekos het… Vir ons gewone SA burgers is dit ‘n verlossing!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.