Watter staatsmodel werk die beste vir ʼn pandemie?

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat Suid-Afrika op 1 Junie na vlak 3 van die afsonderingsvlakke skuif. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het die afgelope Sondag veel sterker voorgekom toe hy die nasie oor die ramptoestand weens die Covid-19-pandemie toegespreek het, maar dit hinder dat sy toespraak skynbaar geloofwaardige berigte weerspreek, naamlik dat die regering groot waardering het, en luister na die advies van wetenskaplikes.

Volgens die weersprekende berigte is van die voorste wetenskaplikes, ook wat in die adviesliggaam dien, egter ongelukkig omdat die politici hul advies in die wind slaan. Trouens, die vrae is nou so polities gelaai, dat dit ’n belangrike besprekingspunt was van ’n webinaar wat die Afrikanerbond (AB) onlangs gehou het, en waar prof. André Duvenhage die spreker was.

Dit blyk duidelik uit die besprekingsdokument: “Die sleutelvraag voor Covid-19 was of Suid-Afrika by ʼn kantelpunt is? Toe reeds was die vraag of Suid-Afrika polities-staatkundig nog bestuurbaar is, of raak dit buite beheer? Suid-Afrika wás toe reeds in ʼn moeilike situasie. Die fokus was toe op die disintegrasie van die staat eerder as die konstitusionele demokrasie. Die vraag was in ʼn mate of ons Grondwet nog sy doel dien. Grondhervorming, diskriminasie wat vervat word in wetgewing, en vele ander het tot die gesprek bygedra.”

Leen ’n suiwer demokrasie hom tot die doeltreffende hantering van so ’n komplekse pandemie soos Covid-19?

Nie lank ná die ergste skermutselings tussen Natte en Sappe bietjie rustiger geword het nie, en die moker van mekaar met daai lang rye aanmekaar gemonteerde veilingstoele end gekry het, het ’n goedige gespot posgevat. Een grappie wat die bloed laat kook het, was dat ’n Engelsman in Suid-Afrika liberaal praat, SAP stem en die Here dank dat die Natte aan bewind is.

Die implikasie was dat mense om ander redes as partye se beleidsrigtings vir daardie partye stem. In ’n stadium was daar roeringe in die DA toe selfs rubriekskrywers kop gekrap het oor “regses”, en veral Afrikaanssprekendes wat via die DP en NP in die DA beland het, maar as ongewenstes daar beland het en die gevaar van vyfdekolonners inhou. Of as die meeste van Kleinfontein se inwoners in ’n algemene verkiesing glo vir die DA sou gestem het. (Lees hier).

Suid-Afrika is natuurlik nie uniek nie. Tot ’n aantal dekades gelede was die suidelike Demokrate in die VSA loshande meer konserwatief, en dikwels meer rassisties as die Republikeine, veral die noordelike Republikeine… en omgekeerd. Geen wonder nie, van demokrasie word gereeld gesê dis ’n euwel, maar darem die beste euwel wat ons het.

Enkele vermeende kenmerke van gebreke in demokrasie

grondwethof2

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

Met die afkondiging van die ramptoestand het die uwe gesuggereer dat dit nodig kan wees om ook ’n ramptoestand te verklaar. Die basiese rede is dat die Grondwet ’n breedvoerige uiteensetting van magte (en die beperking van magte) gedurende ’n noodtoestand gee, en punt vir punt die parlement se magte beklemtoon om te keer dat die magte oortree word.

Ook die howe se magte om vergrype te voorkom word beklemtoon. Kortom, noodtoestand ten spyt, was daar dan grondwetlike bevestiging dat die demokrasie onveranderd bly.

Die volgende aanhaling uit die webinaar se besprekingsdokument belig die kwessie baie helder: “As die noodstaat onbepaald voortduur, kan dit ʼn kaping van regering wees. Die noodstaat is tans kragtens die Rampbestuurwetgewing. Dit het parlementêre oorsig aansienlik verminder. Dit blyk egter dat die president se uitsprake die laaste ruk meer verwys na kabinetsbesluite en nie die bevelsraad nie. Dit is waarskynlik om die potensiaal van hofaksie te verminder. Die druk uit die ekonomie dwing waarskynlik die noodingryping om weer na normaal terug te keer.”

Net om te beklemtoon dat alles nie pluis is met die posisie van die Grondwet en die skeiding van magte soos toegepas tydens die ramptoestand nie, het hoofregter Mogoeng Mogoeng instansies uitgedaag om die regering hieroor hof toe te neem.

Die openbare diskoers is nog net in die beginfase van hierdie denke. Daar is al breedvoerig berig oor die regering wat die advies van wetenskaplikes in die wind slaan, ook van diegene wat op die regering se adviesliggame dien. Waarskuwings word selfs aan die regering gerig om nie wetenskaplikes deur intimidasie te laat swyg nie. Hoewel nie in hierdie artikel nie, word veral dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, wat ’n sleuterol in die ramptoestand se “skadukabinet” speel, beskuldig dat sy die rol van ’n diktator inneem (waaroor hofsake in aantog is) en word sy beskuldig van, onder meer, dat sy persoonlike agendas (probeer) uitvoer. Sy het selfs ’n aankondiging van pres. Ramaphosa oor die beëindiging van die tabakoorlog blatant geïgnoreer.

Is daar Afrika-oplossings?

Die afgelope paar weke het verskeie artikels oor argeologie in Afrika verskyn, onder meer ook in vaktydskrifte. Sommiges hiervan hou verband met die viering van Afrikadag. Verskeie handel oor hoe gemeenskappe in Afrika, asook in Suid-Afrika, in die verre verlede pandemies hanteer het.

Hieronder tel die afbrand van nedersettings en hervestiging elders, die manier waarop wonings ontwerp en gebou is, die waarde van voedingstowwe, ensovoorts. (Lees gerus meer hier). Of die wetenskap in hierdie geval iets kan leer uit tradisionele medisynes van toet, is onseker, maar dit is wel so dat epidemies volgens argeologiese getuienis met die toepassing van drastiese maatreëls soos die afbrand van nedersettings, wel doeltreffend bekamp was.

Wat is die potensiaal van ’n tegnokrasie, veral ’n blits-saamgestelde tegnokrasie? 

Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Foto: National Cogta/Twitter)

Met aanduidings dat die werklike impak van grendelgriepsterftes later vanjaar op pad is, kan die vraag gevra word of, as die regering wetenskaplikes selfs formeel aanstel as kundige adviseurs, dit nie in die vorm van ’n meer erkende tegnokrasie gedoen kan word nie?

Wat nou skynbaar die praktyk betref, beweeg die regering nader aan die oud-Helenistiese benadering, toe stede soos Athene gedurende oorlogtye tydelik van die demokrasie afgesien het, en op ’n diktator teruggeval het om die stadsregering te midde van oorlogstoestande te lei. Uit die berigte word afgelei dat Dlamini-Zuma die hardkoppige diktatoriale rol inneem, met Ramaphosa wat skynbaar meer uit die openbare oog verdwyn het. Met sy laaste optredes oor die ramptoestand, is sy optredes as grootliks niksseggend en onindrukwekkend beskryf, in teenstelling met sy aanvanklike optredes wat enkele kommentators die Ramaforia-era laat oproep het.

Om die waarheid te sê, daar is aspekte van die bestaande Grondwet wat reeds vir ’n tegnokrasie voorsiening maak. In ’n bepaling wat tipies van ’n federale bedeling is, word die weermag en polisie – die twee vernaamste magsmiddele – verskillende regeringsvlakke se verantwoordelikheid. Dit is om ’n opstand teen die regering te bemoeilik.

In veral die Oorganggrondwet is sterk voorsiening gemaak vir die aanstelling van “geskikte” persone in ampte. In die praktyk beteken dit dikwels die persone moet die politieke asem van die LUR inadem.

Slotsom

Enige politieke stelsel, van demokrasie tot diktatuur, het minstens leemtes. In baie gevalle kan die inkorporering van die tegnokrasie aandag aan die leemtes gee. Om te bepaal watter opsies die meeste oorweging vir aanpassings verdien, kan kers opgesteek word by ’n onlangse artikel van die Amerikaanse skrywer, Patric J. Buchanon, “What Does It Mean To Win A Forever War?” Hy bekyk die saak vanuit ’n militêre oogpunt, waar ’n militêre oorwinning nie altyd ’n geostrategiese einde oplewer nie. Ander skrywers sal weer klem daarop lê om die harte en verstand van die oorwonne volk/nasie te wen, wat ons nader bring aan die edel doel van demokrasie – om die meerderheidswil te weerspieël maar, steeds in algemene belang te regeer. Soos in De Standaard hierbo uitgewys, gebeur dit nie altyd nie.

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: ANA

In Suid-Afrika het oudpres. Jacob Zuma daardie ideaal nie nagestreef nie en gereeld gekla dat die regerende party aan bande gelê word deur, onder meer, die howe (en dus die Grondwet) en dat dit die doel van demokrasie sou dwarsboom as die regerende party (en sy leiers) nie voordeel kan trek uit die feit van hul verkiesingsoorwinning nie. Selfs die kiesers wat vir die oorwinnaar gestem het, moes beloon word. Dis min of meer ’n blatante bevordering van die konsep van die diktatuur van die meerderheid.

Maar wat as die meerderheidsparty nie oor die verlangde kundigheid beskik om die land ten beste in algemene belang te regeer nie? Of wel, veral deur koöptering daaroor beskik, maar eerder politiek-gedienstiges op hoë vlak intrek, ongeag hoe onbekwaam hulle mag wees? Zuma het dit openlik gedoen, en op min of meer alle vlakke, en Ramaphosa het ter wille van die beswering van tweespalt van hierdie onbekwames in sy kabinet behou. Die sleureffek hiervan word ook in die dwarstrekkery binne die ramptoestand gevoel. Koöptering uit ander partye moet ook nie om verskuilde motiewe gedoen word nie.

Om ’n volledig funksionerende tegnokrasie in te stel, sou te lank neem. Om die land te red, nie net van die grendelkoors nie, maar ook van die regering, gaan veel meer as ’n oorwinning verg – ’n breë strategie wat die permanentheid daarvan verseker, is ook nodig.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
gatgogga

Die hantering van die Covid het Rramaphosa se beeld nog meer laat skade ly.
Dit het hom weereens te lank gevat on agter te kom wat onder sy neus aan die gang is.

Groen Haas

Ek is self nie seker nie, maar ek dink ook nie dit is die een waarmee julle tans besig is nie…

Fedup

Let me be blunt. If this whole circus had a combined brain capacity if 95% and they used it for the good if this country and it’s citizens we might have had better options with this pandemic.
But, they would rather use their combined 3% to plunder.

Josef du Toit

Dankie mnr Toerien. Heel leersaam. Vind dit wel van hulp om te onderskei tussen Verteenwoordigende Regering wat alleen maar die allernoodsaaklikste sentrale besluite neem, terwyl alle ander sake so laag moontlik afgewentel word, en sover doenlik na konsensus streef, met afstigtingreg daarby. In teenstelling vergelyk Ben Franklik demo(ne)krasie met twee wolwe en ‘n lam wat stem oor wat om vir aandete te he^. Verteenwoordigende Regering is ‘n goedgewapende lam, wat die uitslag van so’ ‘n verkiesing teenstaan.