Nuwe buislig kan verbruikers miljoene spaar

Die Nederlandse reus vir huishoudelike elektriese toerusting, Philips, het ‘n nuwe buislig ontwikkel wat die helfte van die krag gebruik as bestaande buisligte. Die “geheim” is dat die lig dubbel soveel lig verskaf as die huidige, en 13 keer meer as ‘n gewone gloeilamp. Dit versprei ook die lig uitstekend.

Philips beoog om teen 2015 met die nuwe uitvindsel die algemene mark te betree. Na raming kan dit in Amerika alleen ‘n besparing van sowat 100 terrawatt krag, of die krag wat deur vyf kragsentrales opgewek word, teweeg bring. Dit sal ook sowat 60 miljoen ton minder CO2 in die atmosfeer laat beland.

Hoewel die verwikkeling pas eers in Nederland bekend gemaak is, het Philips verlede Donderdag in ‘n onderhoud die sluier effens gelig en die vertroue uitgespreek dat die nuwe uitvindsel binne 10 jaar die helfte van die wêreld se bestaande buisligte, in Engels bekend as fluorecent, sal vervang. Die bestaande buisligte bevat kwiksilwer, ’n neurotoksien wat nier- en breinskade kan veroorsaak. Hoewel elke buislig slegs 5 milligram kwik bevat, is dit genoeg om tot 27 000 liter water tot ondrinkbare vlakke te besoedel.

Die mediaverklaring van Philips lig nie die sluier oor enige veiligheidsvoordele van die nuwe ontwikkeling nie, maar noem die nuwe nie ook ‘n “fluorecent” nie.

Dit is goedkoper en slanker as die ouer tipe.

Philips staan gereeld op die voorpunt van kragbesparende ontwikkelings. In 2011 het dié maatskappy die Amerikaanse L-prys ter waarde van $10 miljoen verower vir die ontwikkeling van hoogs doeltreffende gewone gloeilampe. Die gloeilamp wat toe met die louere weggestap het, het net 9,7 watt krag gebruik om soveel lig te verskaf as waarvoor die gewone gloeilamp 60 watt gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.