Nuwe digitale planetarium in BFN

Prof. Matie Hoffman voor die planetarium, wat as sy monument beskryf is.

Prof. Matie Hoffman voor die planetarium, wat as sy monument beskryf is.

‘n Nuwe digitale planetarium is Vrydag op Naval Hill in Bloemfontein geopen.

“Ongelooflik!” Só beskryf die groep mense wat die opening van die eerste digitale planetarium suid van die Sahara in Bloemfontein bygewoon het. Dit is die derde planetarium in Suid-Afrika met die ander in Johannesburg en Kaapstad gesetel.

Die amptelike opening was Vrydag, terwyl ‘n meer tegniese opening wat ook deur Maroela Media bygewoon is, Saterdagoggend plaasgevind het.

Die grootoog gaste is op ‘n virtuele reis wat soms vinniger as die spoed van lig was, eers tot buite die sonnestelsel, en later die melkweg, en tot die uiteindes van die bekende heelal geneem. Onderweg is ‘n nabye draai by Jupiter gemaak.

Data in vier rekenaars geprojekteer deur twee dataprojektors op die koepelskerm maak dit moontlik om die reisigers na willekeur na bestemmings te stuur.

Die Amerikaanse operateur wat Suid-Afrikaners met die stuur en beheer kom vertroud maak, het moeiteloos die reisigers uit die ruimte terug aarde toe gebring, maar toe die teenwoordiges laat glimlag toe hy heen en weer oor Suid-Afrika genavigeer het en Bloemfontein nie weer kon kry nie. Met bietjie hulp van mense in die gehoor is uiteindelik veilig tuis op moeder aarde “geland”.

Die planetarium is ook uitsonderlik deurdat dit in die koepelgebou van ‘n uitgediende sterrewag, die Lamont-Hussey-sterrewag gebou is. Dit is in die wildtuin op Naval Hill in die middel van die stad gehuisves. Die sterrewag, wat aan die Universiteit van Michigan in die VSA behoort het, het jare gelede gesluit toe lig- en lugbesoedeling in die stad te erg geword het. Die fokus het toe na Bloemfontein se ander sterrewag, die Boyden-sterrewag by Maselspoort buite die stad verskuif.

Maar ook Boyden se lewe het in ‘n stadium aan ‘n dun draadjie gehang, tot die Universiteit van die Vrystaat, met prof. Matie Hoffman aan die spits, en gerugsteun deur ‘n baie aktiewe Vriende van Boyden-groep, dit weer in ‘n lewende sterrewag omskep het.

Dit was juis weer uit hierdie groep wat die behoefte aan ‘n planetarium ontwikkel het, en veral die aanvanklike energie gekom het. Uiteindelik sou dit tot ‘n vennootskap van reg oor die wêreld, die UV en al drie regeringsvlakke lei wat die projek van ongeveer R14 miljoen moontlik gemaak het.

“Dit is Matie se monument” sê die een spreker na die ander.

Prof. Pat Seitzer van die Universiteit van Michigan, wat die tegniese opening behartig het, het sy tevredenheid uitgespreek dat soveel van die oorspronklike struktuur behoue gebly het. Die steenmure is nog dieselfde. Seitzer het liggies gespot oor die oorspronklike ooreenkoms waarvolgens sy universiteit die gebou aan plaaslike belange oorgedra het, wat bepaal het dat die sterre altyd deur die opening in die koepeldak gesien moes word.

Met ongeveer 20 000 inskietspykers wat die koepelskerm se panele aanmekaar gesit het, is die ou teleskoopopening na die sterre daarmee heen, en tegnies het die plaaslike span kontrakbreuk gepleeg, korswel Seitzer. Hy vertel dat een van die Universiteit van Michigan se studente wat by hierdie sterrewag navorsing vir sy doktorsgraad gedoen het, na 18 jaar se gewag as opgeleide ruimtevaarder uiteindelik ook ‘n werklike draai in die ruimte kon maak.

Onder die gaste was ook Hennie Maas, die aanbieder van RSG se baie gewilde program Sterre en Planete. Graad 7-leeringe van die Unicorn-plaasskool by Tweespruit, wat pas die nasionale ruimtevasvraekompetisie gewen het, was ook in die gehoor.

Stuur ‘n SMS na 083 625 7154 of ’n e-pos aan [email protected] om besoeke aan die planetarium te reël.

Klik hier vir meer besonderhede oor die planetarium.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.