Nuwe kontrak vir vliegtuiginstandhouding

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het Woensdag bekend gemaak dat die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) en Denel Lugvaart/AMG ʼn nuwe kontrak vir vliegtuiginstandhouding gaan sluit waarvolgens tussen 100 en 150 werknemers behoue gaan bly. Solidariteit behoort binnekort te weet presies hoeveel werknemers behoue gaan bly, oor watter vaardighede hulle beskik en waar hulle gestasioneer gaan wees.

Jack Loggenberg, woordvoerder van Solidariteit, sê die nuwe kontrak volg op onderhandelings tussen die SALM en Denel lugvaart/AMG en konsultasies met vakbonde. “Ons sal teen laat vanaand of vroeg môreoggend weet presies hoeveel van die 523 vliegtuigspesialiste by die nuwe kontrak van 12 maande ingesluit gaan word. Hierdie werknemers bly dan in diens van Denel en die lugmag sal artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge oortree indien hulle nou direk die werknemers in diens sou neem. Die oorblywende werknemers sal ook môre kennisgewings ontvang om die huidige kontrak se diensbeëindigingsdatum van 31 Maart na te kom. Solidariteit sal voortgaan om die oorblywende werknemers binne Denel of ander maatskappye te probeer herontplooi. Die hoop is egter baie skraal.”

Loggenberg sê Solidariteit sal intussen ook die situasie rondom die nuwe kontrak deeglik monitor ten einde seker te maak dat daar nie teen van die werknemers gediskrimineer word nie. Dit kom nadat dr. Sam Gulube, sekretaris van verdediging, aangehaal is waar hy aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê het dat die meeste Denel-tegnici wit en ouer as 60 is. “Geen diskriminasie sal geduld word nie. Dit is egter nie waar dat die meeste van die tegnici 60 jaar of ouer is nie. Baie van hulle is wel ouer as 50 met slegs enkeles wat 60 of ouer is. Die tydperk van die kontrak sal gebruik word om ʼn maklike oorgang te probeer bewerkstellig. Die oorgang het ten doel om vaardigheid binnenshuis te huisves.”

Solidariteit verteenwoordig 227 van die 523 vliegtuigspesialiste. Hierdie werknemers is landwyd by verskillende eskaders, waaronder Hoedspruit, Lephalale (Ellisras), Louis Trichardt, Bredasdorp, Ysterplaat en Langebaan gestasioneer. Nagenoeg 40% van die vliegtuigspesialiste is in Pretoria gestasioneer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.