Nuwe laekoste-lugredery vir SA

Fastjet, ʼn Britse laekoste-lugredery, gaan glo binnekort hul vlerke in Suid-Afrika begin sprei.

Fastjet gaan die lugredery in samewerking met ‘n beleggingsmaatskappy, wat aan een van president Jacob Zuma se seuns verbind word, bedryf.

Fastjet het Woensdag in ʼn verklaring gesê hulle het ‘n memorandum van verstandhouding met Blockbuster onderteken en behoort teen die einde van Mei tussen Johannesburg en Kaapstad te vlieg.

Blockbuster, wat 75% aandele in die maatskappy besit, word verbind aan Edward Zuma, Zuma se seun, en die sakeman Yusuf Kajee.

David Lenigas, Fastjet se voorsitter, sê die pryse van vliegtariewe in Suid-Afrika het “die hoogte in geskiet” sedert die laekoste-lugredery, 1Time, in November onder likwidasie geplaas is.

“Ons wil nie ‘n vyandige mededinger in die mark wees nie. Ons verstaan en waardeer die belangrikheid van die nasionale lugdiens en alle bestaande lugrederye in die land,” het hy gesê.

“Fastjet gaan poog om aan ʼn huidige behoefte in die mark te voldoen. Ons sien daarna uit om Afrika se eerste laekoste-lugredery aan passasiers te verskaf, wat met internasionale standaarde van veiligheidsmaatreëls bedryf gaan word,” het hy gesê.

Die lugredery sal aanvanklik twee keer per dag tussen Johannesburg en Kaapstad vlieg. Vlugte na ander bestemmings sal bygevoeg word sodra hulle gevestig is.

Fastjet was die afgelope tyd in gesprek met verskeie plaaslike ondernemings om strategie te bepaal om die mark te betree. Hulle het dit onder andere oorweeg om die destydse 1Time oor te koop toe die lugredery onder likwidasie geplaas is, maar 1Time het glo nie ʼn aanduiding gegee of hy die aanbod wou aanvaar nie. Fastjet se direkteure was mettertyd bekommerd dat 1Time se waarde al hoe meer verminder, waarna hulle verkies het om in Blockbuster en Federal Airlines te belê.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.