Nuwe ondersoek na omstrede wapenskandaal, verwelkom

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

Politieke partye en ander liggame het president Jacob Zuma se besluit om ʼn nuwe kommissie van ondersoek aan te stel om die omstrede multimiljoenrand-wapenskandaal te ondersoek, verwelkom.

Die party het egter gevra vir ʼn omvattende ondersoek wat alle aspekte van die wapenskandaal sal ondersoek. Die leier van die OD en burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, het Zuma versoek om ʼn afgetrede grondwetregter aan te stel om die ondersoek te behartig. Cosatu, die SAKP en die ACDP het ook Zuma se besluit verwelkom. Die DA-leier, Helen Zille ,sê Zuma moet die kommissie die nodige toestemming en hulpbronne gee om alle aspekte van die saak te ondersoek. Die Vryheidsfront Plus sê die wapenskandaal het die land se beeld groot skade berokken en dit is tyd dat dit afgehandel word. Die IVP het egter die motief agter die aankondiging bevraagteken. Die party se hoofsweep, Koos van der Merwe, sê die wapenverkrygingsprogram is in die laat ‘90s reeds begin en is sedertdien gekenmerk deur bewerings van korrupsie en omkopery.

Intussen word daar berig dat Zuma moontlik self voor die kommissie van ondersoek sal moet verskyn. Zuma het onder meer die opdrag onderteken waarin die parlementêre staande komitee oor openbare belange (Skoor) beveel is om hulle ondersoek na die wapenskandaal te staak. Zuma se woordvoerder, Mac Maharaj, sê die president sal binnekort die voorwaardes van verwysing, die samestelling van die kommissie en die tydsraamwerk waarin die ondersoek moet plaasvind, aankondig. Zuma het die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, Jeff Radebe, versoek om die nodige stappe te neem om die besluit in werking te laat tree. In 2009 is daar ʼn aansoek ingedien by die Wes-Kaapse hooggeregshof waar die hof gevra is om Zuma te lei in die aanstelling van ʼn onafhanklike kommissie van ondersoek. Daar is later vasgestel dat die Wes-Kaapse hooggeregshof die verkeerde forum was om die saak aan te hoor. ʼn Aansoek is later by die konstitusionele hof ingedien en is geskeduleer om in November vanjaar aangehoor te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.