Nuwe oudiobande werp lig op Kennedy se sluipmoord

Langverlore oudio-opnames van die nadraai van Amerika se voormalige president, John F. Kennedy, se sluipmoord is openbaar gemaak. Geskiedkundiges is opnuut geboei en geprikkel deur daardie noodlottige dag.

Bykans 50 jaar na die sluipmoord op 22 November 1963, is ʼn twee uur 22 minuutlange oudioband tussen Kennedy se senior millitêre adjudant, generaal-majoor Chester Clifton, se persoonlike besittings opgespoor. Clifton is in 1991 oorlede. Die oudioband bevat meer as 30 minute van gesprekke wat nog nooit voorheen gehoor is nie. Die gesprekke het aan boord van Air Force One plaasgevind toe Kennedy se liggaam van Dallas na Washington vervoer is. Dit sluit kodename en voorvalle in, sowel as ʼn privaatgesprek deur die hoof van die Geheime Dienste, Jerry Behn, van waar om die liggaam te neem en planne waarheen Jacqueline Kennedy, die Eerste Vrou in daardie stadium, geneem sou word.

Daar is ook ʼn dringende poging deur ʼn adjudant aan die hoof van Lugmagpersoneel Curtis LeMay, om met Clifton in verbinding te tree, en pogings om verskeie lede van die kongres in Texas op te spoor.

Die oudiomateriaal word deur die Raab Versameling besit, ʼn handelaar in skaars dokumente in Philadelphia, wat ʼn gedigitaliseerde weergawe aan die Nasionale Argiewe geskenk het en dit op gpo.gov/fdsys aan die publiek beskikbaar gestel het. Volgens kundiges sal die oudiobande van voor af die debat tussen samesweringsteoretici laat oplewe, veral oor LeMay wat bekend is vir sy teenkanting teen Kennedy. Dit is veral opvallend dat LeMay se naam nie in die geredigeerde weergawe van die oorspronklike band genoem word nie. “Mense wou nog altyd geweet het waar Curtis LeMay homself op die dag toe Kennedy geskiet is, bevind het, en daar was teenstrydige boodskappe hieroor. Hierdie band dui presies aan waar hy was,” het Kennedy-geskiedkundige Douglas Brinkley aan CNN gesê.

Die Raab Versameling wil die oorspronklike boks en band met die plakker “Radioverkeer van AF-1-vlug van Dallas, Texas na Andrews LMB op 22 November 1963” vir $500 000 verkoop.

“Terwyl Amerikaners die geskiedenis van die Kennedy-sluipmoord bestudeer het in ʼn poging om antwoorde te kry, het daar ʼn oudioband iewers in iemand se solder gelê wat jare voor die enigste weergawe waarvan ons geweet het, bestaan het: die gesprekke op Air Force One op daardie noodlottige dag,” het vise-president Nathan Raab in ʼn advertensie gesê. “Hierdie langer, vollediger band is ʼn onmisbare ontdekking en ʼn belangrike deel van Amerikaanse geskiedenis.”

Die opname is ʼn langer, ongeredigeerde weergawe van die opname wat deur Lyndon Johnson, die president wat Kennedy ná die sluipmoord opgevolg het, se biblioteek vrygestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.