Nuwe regspan vir Thandi Maqubela

Thandi Maqubela Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Thandi Maqubela Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Thandi Maqubela, ʼn veroordeelde moordenaar, het ʼn nuwe prokureur aangestel kort voor haar vonnisoplegging Maandag sou begin het, het die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor.

Marius Broeksma, die Legal Aid-prokureur wat haar tydens haar moordverhoor verteenwoordig het, het aan die hof gesê dat Maqubela ʼn nuwe prokureur aangestel het.

“Dit wil voorkom of ʼn paar verwikkelinge plaasgevind het sedert ons die laaste keer in die hof was,” het Broeksma aan regter John Murphy gesê.

Christiaan Bosman, die nuwe prokureur, het bevestig dat hy die saak gaan oorneem en het die hof gevra vir uitstel tot Donderdag. Hy het ʼn formele aansoek vir die uitstel ingehandig.

Murphy het gesê hy is tevrede om die saak uit te stel, aangesien Maqubela ʼn nuwe prokureur het.

Maqubela was geklee in ʼn blou kopdoek, pienk pakkie en ʼn sonbril. Sy is sedert Desember in die tronk nadat sy nie daarin kon slaag om borgtog te kry nie.

Murphy het aan Bosman opdrag gegee om te verseker dat Maqubela voldoende fondse het om hulle te betaal totdat die saak afgehandel is. Dit sal verseker dat Legal Aid hul ooreenkoms met Maqubela kan beëindig, sonder dat dit haar benadeel.

Staatsaanklaer Bonnie Currie-Gamwo het aan die hof gesê dit is die derde keer Maqubela se vonnisoplegging op die hofrol is. Murphy het haar bekommernis genotuleer vir enige moontlike toekomstige vertragings.

Die hof het Maqubela in November skuldig bevind aan die moord op haar man, waarnemende regter Patrick Maqubela, in 2009 in sy huis in Seepunt, Kaapstad. Sy is ook skuldig bevind op ʼn aanklag dat sy haar man se testament vervals en bedrog gepleeg het, aangesien sy die boedel moontlik benadeel het. – SAPA

Lees ook:
Thandi Maqubela hoor oor borg
Regter se moordenaar hoor dalk van borgtog
Uitspraak ná regter se moord
Regter se moordverdagte-vrou val flou in hof
Regter se weduwee het glo gejok oor sy dood
Geld dalk motief vir regter se dood
Uitstel gevra oor beweerde testament-vervalsing

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.