Vyf tussentydse raadslede vir die SAUK is Woensdag deur dié organisasie verwelkom.
“Die bestuur en personeel van die SAUK verwelkom die nuwe raad en ons is vol vertroue dat hulle die organisasie sal lei in dié tyd wat ons voorberei op digitale migrasie, en dat die raad ook sal verseker dat die finansiële stabiliteit van die organisasie sal voortduur,” het Lulama Mokhobo, groep hoof uitvoerende beampte van die SAUK gesê. “Die nuwe tussentydse raad beskik oor ‘n mengsel van vaardighede en ervaring oor ‘n wye reeks van bedrywe wat die organisasie sal bedien.”
Pres. Jacob Zuma het Dinsdag die tussentydse raad goedgekeur. ‘n Groot gedeelte van die vorige raad het in Maart bedank en die vorige raad is uiteindelik in die parlement ontbind. Daar was glo onmin tussen die voormalige voorsitter, Ben Ngubane, en die raad oor die ampstermyn van die vorige waarnemende hoof uitvoerende beampte, Hlaudi Motsoeneng.
Die tussentydse raad is voorsitter Ellen Zandile Tshabalala, haar adjunk Noluthando Gosa, ekonoom Iraj Abedian, voormalige lid van die staatsdienskommissie Vusumzi Mavuso, en geoktrooieerde rekenmeester Ronnie Lubisi.
Die SAUK het die vorige raad in die verklaring bedank.
Die tussentydse raad is vir ses maande aangestel.