Nuwe soenrekord opgestel

Ekkachai en Laksana Tiranarat

‘n Vasberade paartjie van Thailand het op Valentynsdag ‘n nuwe rekord opgestel nadat hulle sowat twee en ‘n halwe dae lank gesoen het.

Ekkachai Tiranarat (44), ‘n sekuriteitswag by ‘n hospitaal, en Laksana (33), ‘n huisvrou, het 58 uur, 35 minute en 58 sekondes lank gesoen. Hulle het die vorige Guinness-wêreldrekord met meer as agt ure verbreek. Die streng reëls het egter moontlik die romanse uit die poging gehaal. Deelnemers moet die heeltyd bly staan, hulle mag kos en vloeistof deur ‘n strooitjie inneem en selfs die badkamer gebruik, solank as wat hulle lippe mekaar nooit verlaat nie.

“Hulle was baie moeg, omdat hulle vir twee en ‘n halwe dae lank nooit geslaap het nie,” het Sompron Naksuetrong, vise-president van Ripley’s Believe it or not!, die organiseerders van die geleentheid, gesê. “Hulle moes die heeltyd staan, so hulle was baie swak.”

Die soen het kort voor middernag op Valentynsdag tot ‘n einde gekom. Die manlike paartjie, wat die rekord verlede jaar ingepalm het, het twee minute voor Ekkachai en Laksana inmekaargestort. Die paartjie het sowat R27 000 en twee diamantringe gewen.

Die organiseerders sê hulle beplan nie om volgende jaar weer die kompetisie te hou nie, nadat die kompetisie vir drie opeenvolgende jare in Thailand verbreek is. Hulle sal glo wag totdat die uitdaging in ‘n ander land gebreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.