‘n Nuwe spesie rivierdolfyn is in die Araguaiarivier in Brasilië ontdek, berig die BBC.
Dit bring die aantal spesies wat tot dusver ontdek is op vyf te staan, waarvan drie op die rooi lys verkeer omdat hulle gevaar loop om uit te sterf. Die bekende baji wat in China voorgekom het, was vermoedelik teen 2006 uitgesterf.
Die rivierdolfyne het lang spitsbekke om in die modder na kos te kan vroetel. Hulle is net verlangs familie van seedolfyne.
Die nuutste spesie, waaroor in die aanlyn-joernaal, Plos One berig word, is die eerste rivierdolfynspesie wat sedert die eerste wêreldoorlog ontdek is. Daar is vermoedelik sowat ‘n duisend van hulle. Daar is met genetiese toetse vasgestel dat hulle ‘n ander spesie is as die dolfyne wat in die Amasone-rivier voorkom en het sowat 2 miljoen jaar gelede ‘n eie vertakking gevorm.