Nuwe visekanselier en adjunkhoof vir NWU

Prof. Dan Kgwadi, nuwe visekanselier en prof. Herman van Schalkwyk, adjunkhoof

Prof. Dan Kgwadi, nuwe visekanselier en prof. Herman van Schalkwyk, adjunkhoof

Die Noordwes-Universiteit het ʼn nuwe visekanselier, adjunkhoof en institusionele registrateur aangestel.

“Prof. Dan Kgwadi sal in Junie sy amp as nuwe visekanselier beklee,” het Louis Jacobs, woordvoerder vir die NWU, gesê. Prof Herman van Schalkwyk sal sy amp as adjunkhoof reeds in Januarie beklee.

“Hierdie besluit is geneem nadat die Raad voor die keuse te staan gekom het tussen twee uitstekende en bekwame kandidate wie se kampusprestasies die afgelope aantal jare uitstaande was,” het Jacobs bygevoeg.

Die Raad het ook besluit om met prosesse te begin om Van Schalkwyk se termyn as rektor van die Potchefstroomkampus te verleng in ooreenstemming met dié van die visekanselier.

Prof. Kgwadi, tans rektor van die Mafikengkampus, sal die pos vanaf 1 Junie 2014 vir ʼn ampstermyn van ses jaar beklee. Hy dien tans op die UMALUSI-raad as ondervoorsitter van die raad en is ook voorsitter van die komitee vir assesseringstandaarde. “Tydens sy termyn as rektor het hy die Mafikengkampus se transformasie tot ʼn stabiele en diverse kampus met ʼn lewenskragtige akademiese en studentelewe en finansiële stabiliteit gefasiliteer,” het Jacobs gesê. “Sy loopbaan getuig van ʼn diepe verbintenis tot akademiese uitnemendheid, gemeenskapsdiens en vennootskappe met die publiek en die industrie. Hy is ook passievol oor die bemagtiging van jong mense.”

Prof. van Schalkwyk is ʼn bekende en gerespekteerde akademikus en prominente landbou-ekonoom wat homself op verskeie terreine onderskei het. Hy het al heelwat publikasies in wetenskaplike tydskrifte die lig laat sien, sowel as ʼn hele aantal navorsings- en projekverslae. Hy was ondervoorsitter van die Raad van die Landbank.

Prof. Marlene Verhoef, tans bestuursadviseur: strategieë en projekte in die kantoor van die visekanselier, is aangewys as die nuwe institusionele registrateur, met ingang van 1 Januarie 2014. Haar ampstermyn sal oor ses jaar strek. Verhoef is ʼn bekende taalspesialis en dien tans op die PanSAT-taaltribunaal. Haar huidige verantwoordelikhede sluit in toesighouding oor die verdere konsolidering van die funksioneel meertalige institusionele taalbeleid, veral die proses ter bevordering van die posisie van Afrikatale aan die NWU.

Dr. Theuns Eloff, dienende visekanselier, het gesê dat die NWU met hierdie aanstellings ʼn nuwe era betree ná die eerste dekade sedert die samesmelting. “Hierdie aanstellings vind weerklank in ons slagspreuk, Dit begin alles hier. Hierdie verwikkelinge gee opnuut stukrag aan die Universiteit se strewe na die verwesenliking van sy missie om ʼn gebalanseerde onderrig-leer- en navorsingsuniversiteit te word.”

“Dr. Eloff se ampstermyn kom op 31 Mei 2014 tot ʼn einde. Die aanstelling van ʼn nuwe visekanselier in hierdie vroeë stadium sal institusionele stabiliteit, konsolidasie van die voortgesette toename in uitsette, gesonde korporatiewe bestuur en soomlose oorgang verseker,” het Jacobs bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.