Nuwe WhatsApp-funksie laat foto’s, video’s verdwyn

(Argieffoto: Unsplash)

Die boodskapdiens WhatsApp stel binnekort ʼn nuwe funksie bekend wat gebruikers sal toelaat om foto’s en video’s te laat verdwyn sodra dit gesien is.

Nadat die ontvanger die foto vir die eerste keer oopgemaak het, sal die “view once”-funksie toelaat dat dit verwyder word, sonder dat dit op die foon gestoor word.

WhatsApp bemark die nuwe funksie as ʼn privaatheidsfunksie vir gereelde gebruikers en sê dit kan gebruik word vir persoonlike foto’s wat nie gestoor hoef te word nie – byvoorbeeld wanneer klere in ʼn winkel aangepas word of wanneer ʼn wagwoord vir iemand aangestuur word.

Gebruikers sal weet wanneer jy net een keer na ʼn boodskap kan kyk, want die voorskou sal versteek wees en ʼn groot “1”-ikoon sal vertoon word.

Soos met ander verdwynende boodskappe op apps soos Snapchat, is dit steeds moontlik vir ʼn gebruiker om ʼn skermskoot of skermopname te maak van die boodskap wanneer dit eers oopgemaak is – of om een skerm af te neem met ʼn ander kamera.

Die funksie sal ook sekere beperkings hê:

  • Die foto’s sal nie in die foon se galery-app gestoor word nie.
  • Die media kan nie aangestuur, gestoor of gedeel word nie.
  • Die boodskap verval as dit nie binne twee weke oopgemaak word nie.

WhatsApp het in November verlede jaar verdwynende boodskappe bekendgestel, met gebruikers wat boodskappe kan uitvee vir beide die ontvanger en sender ná sewe dae.

Persone wat hulself vir die beskerming van kinders beywer, het egter hul kommer uitgespreek oor die funksionaliteit. Hulle voer aan boodskappe wat outomaties verdwyn kan bewyse en getuienis verdoesel van seksuele- of kindermishandeling. Indien boodskappe outomaties verdwyn beteken dit dat toestelle, waarop daar beslag gelê word tydens polisieklopjagte, nie meer die bewyse sal bevat nie.

“Dit kan kinders in groter gevaar stel as oortreders nóg ʼn manier het om bewyse te verwyder,” het Alison Trew, veiligheidsbeampte van die Vereniging vir die Voorkoming van Kindermishandeling (NSPCC), gesê.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SwartBees ·

Ek sal liewer n funksie verkies om n groep stilletjies te verlaat of om n groep te join sonder om sleg te voel.

Danie ·

Al die mense in hierdie land moet die regering nou n toffie wys en sonder maskers loop. Wat help dit jy is n wetsgehoorsame burger maar jou regte word nie beskerm nie. Word dan wetteloos want dan kan jy iets bereik.

OW ·

Daar is twee redes hoekom ‘n mens ‘n wetsgehoorsame burger moet wees.Geen regering in hierdie wêreld is buite die wil van God in hierdie wêreld geplaas nie,ten spyte van al die gebreke wat so ‘n regering kan besit.1)Jy moet gehoorsaam wees,nie net om straf te vermy nie,2)Maar ook ter wille van ‘n skoon gewete.Groetnis.

Wikkelwillie ·

Die funksie kan ook handig wees wanneer klere juis nie aangepas is nie

Jack ·

Beteken dit nou dat belangrike bewysstukke soos nou met die slopery net kan verdwyn. Klink na n samesweerdery met die boosdoeners die.

Robert ·

Oral in die wereld is daar nou wetgewing soortgelyk aan POPI, WA brobeer net hulle spreekwoordelike basse red.

Frank John ·

Ai, die ding kan van twee kante af gelees word. In sekere gevalle is dit goed maar in ander is dit sleg.
Jy kan nie almal tevrede stel nie. Dit gesien in ons gastehuis, een wil stewige matras hê en ‘n ander ‘n sagter matras.

koos ·

Dink nou net as ons so “real live ” app kan kry wat van die huidige regime ontslae kan raak…. persoonlik sal ek die nar met die hoed eerste laat verdwyn, en daarna sy teedrinkende pêls by Nkandla.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.