Nuwejaar 2013 – of bloot oorgangsjaar na 2014 as belangrike jaar?

In baie opsigte word verwag dat 2013 die rol van ‘n oorgangsjaar tussen 2012 en 2014 gaan vervul. Dit maak ook die kern uit van pres. Jacob Zuma se nuwejaarsboodskap wat eerder op 2014 as 2013 afgestem is.   

In ‘n politiek-gedomineerde Suid-Afrika val 2013 net mooi tussen die ANC se manifestasie as regerende party in ‘n byna volkome eenpartybedeling vanjaar, en 2014  wanneer die volgende veelparty-verkiesing gehou word.

Nie net het die twee groot ANC-kongresse in 2012 die land se toekoms grootliks bepaal nie, maar het die ANC ook sy eeufees gevier. Zuma het hom  in 2012 binne die ANC as onbetwiste leier verskans, maar buite die ANC – ook in die buiteland, as ramp vir die land gemanifesteer.

In 2014 word die ANC egter weer aan die toets van alle kiesers, nie net ANC-lede nie, onderwerp. Daar is al meer aanduidings dat minstens sommige van die opposisiepartye gaan saamwerk, hoewel kanse skraal lyk dat die opposisiesamewerking die vorm van ‘n enkele party sal inneem.

Die ANC sal bloed uit ‘n klip probeer tap om 2014 te probeer bestempel as die produk van 20 jaar suksesvol in die kussings. Die ANC sal begin besef dat kiesers nie altyd ‘n rat voor die oë gedraai kan word deur die skuld op die voor-1994-bedeling te pak nie. Dit sal dan ook 23 jaar wees sedert die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder is.

Opposisiepartye sal weer die krane ooptrek om kiesers te probeer oortuig dat die ANC die afgelope twintig jaar erg verbrou het, dat korrupsie en kaderontplooiing die land beroof het van dit waar die land kon wees.

Terwyl die DA aan die land sal wil wys hoe suksesvol hy kan regeer deur die Wes-Kaap as model voor te hou, sal radikale elemente in die ANC sake in 2013 vir die Wes-Kaap so moeilik as moontlik probeer maak. Die laaste van die wingerdoorlog is duidelik nog nie gesien nie, en ook ander sake in die Wes-Kaap sal in die spervuur kom. Terwyl dit onwaarskynlik is dat die ANC self die Wes-Kaap onregeerbaar sal probeer maak, sal elemente van die organisasie waarskynlik nie skroom nie.

Met die opkoms van Ramaphosa is die mat grootliks uitgepluk onder diegene wat gehoop het die ANC sal skeur. As Ramaphosa toegelaat word om sy stempel duidelik af te druk, is die kanse eerder dat van die ANC se splinterprodukte soos Cope en die UDM steun na die ANC kan verloor.

Opposisiepartye is dit eens dat daar ‘n vorm van nouer opposisiesamewerking moet wees. Oor die vorm wat dit inneem – ‘n enkele party met die DA as ruggraat daarvan, of samewerking waar elke party se beleid en beginsels behou maar strategies en logistiek saamwerk – is daar minder eenstemmigheid.

Net die politiek blindes sal nog reken Suid-Afrika is ‘n nie-rassige land of daarheen onderweg. Hoewel dit moeilik is om dit in te dink, lyk dit of die krane word steeds oopgetrek word om die situasie te skep dat enige kleur hom as Suid-Afrikaner tuis kan voel, so lank dit swart is. Wat dalk nuut kan wees is dat die swart beperk word tot diegene wat hulself nie ligter maak, hare reguit maak of hul honde veearts toe neem nie. Die oproep tot ‘n nasionale reinigingseremonie en die opmerking dat diegene wat hulle nie laat reinig nie, wrokke koester, sal enige Christen wat nie deur animistiese godsdiens beïnvloed word nie, ook vervreemd laat. Die vervreemding van mense wat nie African Africans is nie blyk daaruit dat net sewe van die ANC se 80 nuutverkose NUK-lede wit, bruin en Indiër is.

 Die  ANC sal waarskynlik hard probeer om ‘n beduidende ANC-simpatieke bruin leiersfiguur na vore te laat tree om die yslike leemte te vul wat met die afsterwe van prof. Jakes Gerwel ontstaan het.   

Presies wat gaan die oorganginsvloed van Cyril Ramaphosa se verkiesing tot adjunk-president van die ANC wees? Gaan hy karakter begin toon in die aanloop tot 2014 se verkiesing wanneer hy na verwagting op die heel laaste ook die land se adjunk-president gaan word, of gaan hy vroeër opgeroep word om die ontmagtigde Kgalema Motlanthe te vervang? En kan Ramaphosa wel die enkele swaeltjie wees wat die somer bring, veral met Zuma steeds as albatros om die nek? Zuma het onlangs met mening laat blyk dat hy nie op sy bek geval is nie, en homself wel deeglik wil laat geld – en weer met rampspoedige gevolge.

Gaan die ekonomie begin kop optel en gaan die land sy tuimeling op indekse stuit? Geoordeel aan die verdere kreeftegang van die korrupsiepersepsie-indeks wat onlangs bekend gemaak is, lyk sake maar beroerd vir die land op ander indekse.

Die jaar 2012 sal ook ‘n aanduiding gee of die regering daarvan erns maak om korrupsie werklik aan te spreek. Maar selfs al bestaan die beste voornemens, gaan Nkandlagate en die voortgesette beleid van kaderontplooiing (hoe ongrondwetlik en immoreel dit ook al mag wees) en rasbegunstigde bevoordeling die poging kniehalter. Dit sal ook interessant wees om te sien hoe ver die DA met sy beloftes gaan vorder om die kwessie van die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om vervolging teen Zuma te staak. Die saak sal na verwagting tot in die Grondwetlike Hof vorder wat dit onwaarskynlik maak dat dit vanjaar reeds ten volle beslag sal kry.

Die Boeremagverhoor sal na verwagting vanjaar met vonnisoplegging afgehandel word, hoewel appèlprosesse kan volg, en daar selfs na onthullings die moontlikheid van ‘n herverhoor kan wees.

In minstens een kwessie is dit lank reeds duidelik dat ‘n 2914-doelwit nie behaal gaan word nie. ‘n Vorige minister van Samewerkende Regering, wyle Sicelo Shiceka, het in 2009 Operasie Skoon Oudits 2014 aangekondig. Hoewel dit ooglopend onhaalbaar was, het die regering tot met Shiceka se afdanking volgehou dat dit haalbaar sou wees. Met die aanbreek van 2013 is dit duidelik dat die mikpunt nie behaal sal word nie, onder meer omdat die regering se beleid van kaderontplooiing homself in die voet geskiet het. Planne vir die grootskaalse opleiding van ontplooide kaders deur ‘n stelsel waarvan adjunk-president Motlanthe aan die hoof sal staan, bied gans te min tyd om 2013 as oorgangsjaar na sukses in 2014 te verseker – en verander boonop niks aan die ongrondwetlikheid van die stelsel nie. 

Maar tussen 2014 en 2012 lê 2013 voor, en al word dit in baie opsigte as ‘n nog  vis, nog vlees-jaar beskou, neig elke jaar om sy eie waarde te bepaal.

Met die skryf hiervan stuur die VSA nog onverbiddelik op die sogenaamde fiskale afgrond af, terwyl die ganse wêreld deur die afloop daarvan geraak gaan word.

In China gaan die aangewese nuwe president die leisels oorneem, en die wêreld hou asem op – gaan die land liberaliseer of die bamboesgordyn stywer toetrek – of bloot die huidige koers volhou. Die Tibettane is hoopvol dat dit ‘n nuwe bedeling sal inlui wat tot groter, werklike outonomie sal lei.

Noord-Korea en Iran is twee lande van wie haas enigiets verwag kan word.

Die verantwoordelike wêreld sal hoop dat die Siriese kwessie vanjaar finaal besleg word. 

Hoewel aardbewings tot ongevalle gelei het in lande soos Iran, Italië, Costa Rica en Mianmar, was aardbewings vanjaar nie so dodelik en verwoestend soos die voorafgaande aantal jare nie. Die fokus in 2012 het meer op ander natuurrampe geval soos die groot Amerikaanse droogte en gepaardgaande hitte met reuse bosbrande, en die storm Sandy. In Rusland het reeds byna 200 mense dié winter weens koue gesterf. Hoewel kenners dit min of meer eens is dat die aarde se atmosfeer geleidelik warmer word, en dat die seevlak vinniger styg as wat gemeen is, is die verwarming nie in ‘n reguit lyn opwaarts nie. Dit is moeilik om te bepaal of 2013 weer allerlei hitterekords, en rekords van vlakke van die wegsmelt van poolys sal oplewer.

Die mediawêreld is duidelik besig om onder druk veranderings te ondergaan. Terwyl daar ‘n duidelike swaai na die kuberruim is, ondergaan die gedrukte media wat oorleef veranderings – veranderings wat dikwels ook net danksy die e-tegnologie moontlik is. In Nederland het die Geassocieerde Pers Diensten (GPD) na 76 jaar gesluit. Die GDP het veral persklaar berigte aan streekkoerante voorsien wat self nie volledige redaksies met korrespondente en vryskut-bydraers kon bekostig nie. ‘n Paar van die streekkoerante vorm nou ‘n nuwe nuusdiens wat volledig-opgemaakte bladsye aan die deelnemende koerante gaan voorsien. Dit beperk uiteraard die outonomie en karakter van streekkoerante, en lesers se keusevryheid van publikasies word verminder. Uiteindelik laat dit minder ruimte vir loopbaanjoernaliste, onder meer ook omdat die kubernuusmedia dikwels nog nie werklik die advertensiemark so suksesvol kon binnedring dat dit alternatiewe loopbaangeleenthede bied nie.

Die onlangse oproep om morele herlewing deur kerkleiers was maar die laaste versoek uit verskeie kringe hieroor. Gaan 2013 die oorgangsjaar hiertoe oplewer? Volgens sommige aansprake begin die suurdeeg van die Mighty Man-konferensies nou momentum kry, en is daar ook ander tekens van ‘n bewustheid hieroor. Of gaan 2013 steeds gekenmerk word deur die ontsettende onverdraagsaamheid wat verskillende benaderings ook binne die Afrikaanse susterkerke gekenmerk het? Gaan Christelike verdraagsaamheid intree en die proses van kerkskeuring stuit, of gaan die fondamente vanjaar gelê word vir ‘n omvattende Afrikaanse kerkherskikking?

2012 is ook om ‘n ander rede ‘n “ou jaar.”  Die 124-jarige Mariam Amash van Israel, maar van Arabiese herkoms, is in Desember oorlede. Volgens Amash se identiteitsdokument is sy in 1888 gebore, maar die dokument meld nie haar geboortedag nie. Amash het tien kinders gehad, wat vir sowat 300 kleinkinders en agterkleinkinders gesorg het.

Voor Amash die rype ouderdom gehaal het, is Jeanne Calment van Frankryk as die oudste persoon beskou. Sy het 122 jaar oud geword.

Die 115-jarige Jiroemon Kimura van Japan is onlangs deur die Guinness Book of Records as die oudste persoon ter wêreld erken. Guinness vereis die beskikbaarheid van stawende dokumentasie waaroor baie van die wêreld se Metusalags nie beskik nie.

Kimura het dié titel onlangs by die 115-jarige Dina Manfredini van Italië oorgeneem. Manfredini het die titel net twee weke gehou na die 116-jarige Besse Cooper van die VSA oorlede is.

Besse het in Januarie vanjaar “amptelik” die oudste persoon ter wêreld geword, maar in Mei het die Guinness Book of Records vasgestel dat Maria Gomes Valentin, van Brasilië 48 dae ouer as die Amerikaner was. Maria is in Junie oorlede en Besse het haar “titel” herwin.

In September vanjaar is die Rus, Magomed Labazanov, in die Kaukasiese dorp Serebryakovka oorlede. Hy was vermoedelik 122 jaar oud. Die Kaukasiese streek is bekend vir die hoë ouderdomme wat mense behaal, maar hulle is hul geboortesertifikate kwyt tydens Stalin se gedwonge verskuiwings.

Radio Pretoria het Afrikaners die volgende raad vir 2013 gegee:

“Sektariese denke, kultusvorming, sabotasie-praatjies en haat is nie die antwoord vir Afrikaners nie. Dit lei telkens tot mislukking en vernedering.
Afrikaners kan hulleself egter staal teen die verval rondom hulle deur opbouend by die vestiging van instellings betrokke te raak.

• Die ontwikkeling van Afrikanergroeipunte,
• die skouspelagtige groei van Afrikaner-organisasies soos Solidariteit, AfriForum, die FAK en Radio Pretoria,
• die groei en ontwikkeling van gemeenskapstrukture en burgerlike veiligheidsinisiatiewe en
• die nuwe geslag Afrikaner-sakelui en selfstandige burgerstand
is die sprankies van hoop wat in ’n andersins donker omgewing begin opflikker.”

Nie almal sal met alles instem nie, maar met die oog na Bo gerig is daar min plek vir op sak en ashoop sit.

Mag 2013 vir almal méér as net ‘n oorgangsjaar wees. Mag elkeen in hierdie jaar sinvol ‘n bydrae tot Sy Koninkryk lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.