Nuwejaarsvuurwerke eis lewens

Argieffoto

Argieffoto

Nuus oor beserings weens Nuwejaarsvuurwerke stroom van oor die hele wêreld in, en uit Nederland en Oostenryk is berigte van sterftes ontvang.

ʼn 53-jarige man van Oostenryk wou blykbaar ‘n vuurpyl afvuur wat hy oor die internet bestel het. Dit het egter nie afgevuur nie en het ontplof toe die man gaan kyk het wat aangaan. Hy is op die toneel dood weens ernstige kopwonde.

Die omstandighede waaronder ʼn 51-jarige Nederlander dood is, is nog nie heeltemal bekend nie. ‘n Helikopter is na die ongelukstoneel ontbied om die man weens ernstige kopwonde hospitaal toe te neem, maar hy is op die toneel dood verklaar.

In Rotterdam het ‘n seun sy hand verloor. Dit is minstens die vierde Nederlander wat sy hand verloor het sedert die feestelikhede vroeër in Nederland begin het. Talle mense is erg beseer.

Vroeër is berig dat die klagtewebwerf oor vuurwerke in Nederland meer as 75 000 klagtes ontvang het. Al hoe meer mediaberigte vra of vuurwerke in Nederland nie algeheel verbied moet word nie. Na raming het Nederlanders €67 miljoen (ongeveer R960 miljoen) se vuurwerke afgevuur.

In België het ‘n huis uitgebrand na ‘n vuurwerk op die dak beland het.

In 2012 is ses Amerikaners deur vuurwerke buite werksverband dood. Byna tienduisend mense is die jaar in Amerikaanse hospitale behandel vir beserings weens vuurwerke.

In November verlede jaar is ‘n Brit aangekla weens die beweerde rol wat sy vuurwerkvertoning gespeel het in ‘n motorongeluk waarin sewe mense dood is. Hy is later onskuldig bevind.

Maroela Media het ‘n jaar gelede berig dat die DBV versoek het dat vuurwerke in Suid-Afrika verbied moet word. Voor Nuwejaar het troeteldiereienaars op sosiale netwerke raad gedeel oor hoe om die trauma vir hul diere te verlig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.