NWU kry interdik oor swastikas

Die hooggeregshof in Pretoria het Donderdag ʼn tussentydse interdik toegestaan wat die Higher Education Transformation Network (HETN) verbied om lasterlike verklarings teen die Noordwes-Universiteit (NWU) te maak.

HETN is beveel om onmiddellik enige lasterlike inskrywings rakende die NWU op sosiale netwerke, insluitend die HETN se webtuiste, Facebook, Twitter en DropBox, te verwyder. Dit kom nadat die HETN ʼn inskrywing gemaak het waarin hulle die NWU as “Nazis, rassiste en kriminele” uitbeeld. In die Facebook-inskrywing is daar twee swastikas aangebring en doen die HETN ʼn beroep op sy Facebook-aanhangers om “nee te sê vir rassistiese viktimisasie” en om Vrydag aan ʼn optog deel te neem op die NWU se Potchefstroom-kampus. Die HETN het die NWU ook daarvan beskuldig dat hy swart akademici viktimiseer en teister. Werner Coetzee, die NWU se regsverteenwoordiger, sê die HETN is besig met ʼn smeerveldtog teen die universiteit en sy visekanselier Theuns Eloff.

Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, het ook vroeër vanjaar ʼn tussentydse interdik teen die HETN bekom om hulle te verbied om lasterlike opmerkings oor hom te maak. Die HETN het ʼn klag by die gelykheidshof aanhangig gemaak waarin hulle die Universiteit van Pretoria, Tuks Alumni en Spies daarvan beskuldig dat hulle swart alumni uitsluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.