O moedertaal, soetste taal

“Die enigste weelde het in wintervreugde gelê. As die reëns geval het, het die lewe ook gekom: die melkbos, knobos en stemokriet het begin uitloop en onder by hulle voete uit die sand het opgestaan die opslag, plate fyn blommetjies wat die wêreld in reënboogkleure geverf het, willekool en koekemakrankas. Die reëns het die fonteine laat opstoot en in die vleie het die watertjies begin opdam, die waterblommetjies begin groei en die varkblomme begin blom .”

Só vertel Diko van Zyl met sy sagte bry; sy uitspraak tipies van die Sandveld waar sy hart lê.

Van Zyl was een van die sprekers wat tydens die bekendstelling van Maroela Media op 18 Augustus op Groot Constantia in die moederstad om een tafel gesit en hul stories in én oor die “soetste taal” vertel het. Sprekers van onder meer Karoo-Afrikaans, Rehoboth-Afrikaans, Kaapse Afrikaans, Namakwalandse Afrikaans, Noordelike Afrikaans en Soweto-Afrikaans het aan die gesprek deelgeneem.

“Afrikaans is ʼn taal van versoening. Sonder Afrikaans is daar nie ʼn kans op versoening in Suid-Afrika nie. Maar die versoening moet eers bínne die taal gebeur voor dit ʼn rol van versoening na buite kan begin speel,” het prof. Hans du Plessis gesê. Dié skrywer en akademikus het as gespreksleier tydens die geleentheid opgetree. “Dis tyd dat ons mekaar se stories leer ken,” het hy vervolg. “Kom ons doen moeite om mekaar se stories te verstaan.”

“Met hierdie gesprek wou ons mense se eie stories ín Afrikaans hoor – wie hulle is, hoe hulle Afrikaans praat en hoe die taal hul identiteit help vorm het, en steeds help vorm. Uiteindelik vorm al hierdie individuele stories een groot storie, waarvan ons almal deel is: die storie van Afrikaans,” sê Piet le Roux, redakteur van Dié Groot Debat op Maroela Media, ʼn platform waarop nagenoeg 50 meningsvormers op ʼn daaglikse basis blog.

“Hierdie is bloot die begin van die gesprek,” het Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media, na afloop van die geleentheid gesê. “Dis eenvoudig onmoontlik om by so ʼn geleentheid mense van regoor die land en uit al die kleurryke verskeidenheid van Afrikaans byeen te bring. Ons gaan die gesprek voortsit op www.maroelamedia.co.za.”

Hierdie is mý Afrikaans

Só gesels die sprekers wat die geleentheid bygewoon het:

Diko van Zyl (wynkenner, historikus en spreker van Sandveld-Afrikaans)
“Die behoud en toekoms van Afrikaans lê myns insiens nie by formele debatte of twisgesprekke in koerante oor die agteruitgang van Afrikaans nie. Daarvoor steur verreweg die meerderheid Afrikaansprekendes hulle te min aan die gesprekke, is die redenasies vir selfingeligte Afrikaanssprekendes te retories en vervelig van aard en is die meeste kampvegters hoofsaaklik bejaarde en afgetrede Afrikaners (in die ouderdomsgroep 70 tot 90 jaar) waarna kritici selfs neerhalend as ‘taalbulle’ verwys. Die feit dat daar die afgelope klompie jare egter so min jong Afrikaansprekende leiers betrokke is by inisiatiewe om nuwe vuur in Afrikaans te blaas, is uiters kommerwekkend.”

Dr. Dirk van Schalkwyk (voormalige redakteur van die WAT, voorheen van Namibië en spreker van Rehoboth-Afrikaans en tans voltydse storieverteller, woonagtig in die Wes-Kaap)
“Ek beskou die groot variasie van Afrikaans wat ek van my ouers gekry het, as die beste erfporsie ooit. Afrikaans is ʼn skatkis van juwele wat ek bewonder en liefhet. My liefde vir die taal het begin blom toe ek met verskillende sprekers daarvan te doene begin kry het. Daar is skatte in Afrikaans en Afrikaanse stories en storievertellers versteek.”

Anthony “Speedo” Wilson (akteur en spreker van Marabastad-Afrikaans en tsotsitaal)
“Ek baklei gereeld vir Afrikaans. Ek baklei met my kleinkinders as hulle hul taal meng. Daar ís hoop in hierdie land, maar die nuwe generasie het ʼn verantwoordelikheid om die taal te laat voortleef. Taal gaan oor die dinge wat jy doen; nie oor ʼn gepratery nie. Kom ons hou op kla en doen dinge vir Afrikaans. As ek van Mandela droom, dan praat Mandela Afrikaans.”

Poem Mooney (storieverteller en spreker van Karoo-Afrikaans)
“Afrikaans is die taal wat op die ou einde van die dag almal gaan versoen. Ek is lief vir Afrikaans, want ek kan myself daarin verwoord. Afrikaans is ʼn taal waarin jy kan vloek, kan verkleineer. ʼn Mens kan nie so lekker vloek in Engels soos in Afrikaans nie. Ek dink Afrikaans is ʼn taal waarin minderheidsgroepe mekaar kan verstaan.”

Dr. Dirk Hermann (adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit)
“Ek is van Afrika. Nie net is ek deel van die wit stam van Afrika nie – my taal is Afrikaans. My mense het hulself en hul taal na Afrika vernoem en ek glo my roeping is hier in Suid-Afrika.”

Florence Anne Filton (spreker van Namakwalandse Afrikaans)
“Namakwaland word geken net deur sy blomme, maar die Namakwalandse taal staan die heeljaar in blom. Die taal is ʼn eerlike taal en sal nooit uitsterf nie. Wees trots op jou taal, sodat dit kan voortbestaan.”

Elliott “Boerseun” Mashinini (voorsitter van die ATKV-tak in Soweto)
“Die feit dat ek Afrikaans kan praat, skryf en lees, maak van my ʼn Afrikaner. Ek is in Soweto gebore, en het Vrystaat toe getrek toe ek tien jaar oud was. Dis waar ek Afrikaans geleer praat en liefkry het.”

Willem Fransman (skrywer en spreker van Kaapse Afrikaans)
“ʼn Swart joernalis van die SABC het eenkeer vir my gevra: ‘Hoe kan jy nog Afrikaans praat ná 1976?’ Toe sê ek vir hom: ‘Vir jou is dit die taal van onderdrukking, maar my ouers het die taal begin. Die witman het hom ontwikkel; hom reëls gegee.’

“As ek droom, doen ek dit in Afrikaans. As ek protes aanteken, is dit in Afrikaans. Ek is nie Afrikaans om gat te kruip of omdat ek aan ʼn geheime organisasie behoort nie. Dis wie en wat ek is. Ek weet, en die Here weet dit, my laaste gedagtes en my laaste woorde sal in Afrikaans wees. Ek weet wie ek is, waarvandaan ek kom en waarheen ek gaan.”

Wen met jóú storie
Dis nou tyd om jou storie vir die wêreld te kom vertel:

In September, Oktober en November vanjaar staan een persoon per maand die kans om ʼn kontantprys van R2 000 vir sy of haar storie te wen. As jy Afrikaans is, het jy ʼn spreekbeurt. Wie is jy, hoe praat jy Afrikaans en hoe help Afrikaans om jou identiteit te vorm? Indien ons genoeg goeie bydraes ontvang, sal die beste bydraes in ʼn boek- en CD-formaat opgeneem word.

Hoe neem ek deel?

Skryf vir ons:

  • Stuur jou storie per e-pos na [email protected] met die titel “My Afrikaanse storie” in die onderwerpveld. Of:
  • Neem jou storie op: Ons wil graag hoor hóé jy Afrikaans praat. Neem jou storie op, met video of net klank, sommer met jou selfoon of in ʼn ander digitale formaat. Stuur dit dan na [email protected] met die titel “My Afrikaanse storie” in die onderwerpveld.

* Neem kennis dat hierdie kompetisie gesluit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.