Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer (OB), het Donderdag verdoemende verslae bekend gemaak waarin sy verskeie staatsamptenare vir óf roekelose en onetiese gedrag óf wanadministrasie blameer.
Een van die verslae was die langverwagte verslag oor Dina Pule, die gewese minister van kommunikasie. Sy het bevind dat Pule gereeld vir die parlement en die OB gejok het. Die verslag het bevestig dat Pule belastingbetalers se geld gebruik het om haar minnaar, Phosana Mngqibisa, se leefstyl te finansier. Sy het ook bevind dat Mngqibisa onbehoorlik voordeel getrek uit die ICT Indaba. Madonsela het aangeraai dat Pule die eerbare ding moet doen en uit die parlement moet bedank, haar kollegas om verskoning moet vra omdat sy gejok het, en van die belastingbetalers se geld wat sy bestee het, moet terugbetaal.
Madonsela het Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, egter in ʼn verslag vrygespreek oor haar verantwoordelikheid vir die laat aflewering van handboeke aan skole in die Oos-Kaap. Sy het egter die blaam op Bobby Soobrayan, Motshekga se direkteur-generaal, geplaas en gesê hy het versuim om sy pligte uit te voer.
In ʼn derde verslag is Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, oor die kole gehaal oor ongerymdhede in ʼn visserye-kontrak van R800 miljoen. Sy het gesê die president moet tugstappe teen Joemat-Pettersson oorweeg, aangesien sy roekeloos met staatsgeld omgegaan het.
Way to go Thuli! Ek dink jy is jou pos waardig. Jy staan vir niemand terug nie en laat jou nie intimideer nie.
Hulle behoort strafregtelik vervolg te word.
Van hierdie “tugstappe” sal niks van kom nie! Ons almal weet dit . Korupsie so deel van SA as die Afrika Leeu . Die vrou en haar span het hard gewerk vir net mooi niks!
Die taak van die O.B. gaan so afgewater en afgeskaal raak dat die amp geen tande gaan hê om korrupte kaders vas te vat nie. Moenie verbaas wees as mnr Nommer 1 Korrup dit afskaf nie.
Hoe gouer die nagevolge vir droogmaak geimplementeer word, hoe gouer sal korrupsie hokgeslaan kan word.