Die Amerikaanse president, Barack Obama, sal met oudpresident Nelson Mandela se familie vergader oor ʼn moontlike besoek wanneer Obama volgende week in Suid-Afrika is.
Die moontlikheid van ʼn ontmoeting tussen die eerste swart presidente van beide Suid-Afrika en Amerika word al jare lank angstig afgewag. Madiba (94) se gesondheidstoestand kan egter ʼn stokkie voor dié geskiedkundige gebeurtenis steek.
“Ons sal baie eerbiedig teenoor Mandela se familie optree en hoor of daar enige moontlikheid is om met Mandela interaksie te hê,” het Ben Rhodes, nasionale adjunk-veiligheidsadviseur van Amerika, Vrydag gesê.
Mandela het reeds 14 dae in die Mediclinic Harthospitaal deurgebring nadat hy opgeneem weens ʼn terugkerende longkwaal.
Obama gaan die land volgende week besoek en gaan, onder andere, in Johannesburg en Kaapstad oorbly. Hy beplan glo ʼn besoek aan Robbeneiland waar Mandela 18 jaar van sy 27 jare tronkstraf uitgedien het. Volgens Obama is Madiba een van sy persoonlike helde.
Obama en Mandela het een keer vantevore ontmoet toe Obama in 2005 as senator verkies is en Madiba destyds besoek aan Washington afgelê het.