Die Amerikaanse president Barack Obama se program vir sy besoek aan Suid-Afrika sluit nie ʼn besoek aan voormalige president Nelson Mandela in nie.
Volgens ʼn program wat deur die departement van internasionale betrekkinge vrygestel is, sal hy aan bilaterale gesprekke deelneem, ʼn Jong Afrikaleiers-gesprek bywoon, en Robbeneiland besoek. Hy sal ook talle plekke in Kaapstad besoek en ʼn toespraak lewer by die Universiteit van Kaapstad. “Pres. Obama sou graag vir Madiba wou sien,” het Maite Nkoana-Mashabane, minister van die departement, gesê. “In my land, op my ouderdom, wanneer mense sieklik is, gee ons vir hulle die spasie om te herstel,” het sy van Mandela gesê wat in ʼn kritieke toestand in die Medi-Clinic Harthospitaal in Pretoria is.
Indien Obama tyd het, sal hy moontlik besoek aflê aan die verteenwoordigers van die Nelson Mandela-stigting.