Obama kry neus voor in debat

Na ‘n lustelose pres. Barack Obama in die eerste van drie debatte met sy Republikeinse teenstander, Mitt Romney, ‘n liederlike drag slae op die lyf geloop het, was die aandag gisteraand skerp op die tweede debat.

Die keer het Obama beter gevaar, en volgens ‘n blitspeiling deur CBS onder onverbonde kiesers na die debat, het Obama volgens 37 persent die beste van die kandidate gevaar, terwyl 30 persent gemeen het Romney het beste daarvan afgekom. Altesaam 33 persent kon nie besluit wie die botoon gevoer het nie.

Die belangstelling in vanjaar se debatte het skerp toegeneem nadat peilings onverwags begin toon het dat die debatte dié keer, anders as gebruiklik, ‘n beduidende impak op die peilings het. Waar bykans al die peilings kort voor die eerste debat aan Obama ‘n voorsprong gegee het, sommiges selfs ‘n baie groot voorsprong, het Romney kort daarna volgens bykans al die noemenswaardige peilings voorgeloop. Selfs Obama het toegegee dat hy in die eerste debat verbrou het.

Hierna het die aandag na die debat tussen vise-president Joe Biden en sy veel jonger Republikeinse teenstander, Paul Ryan verskuif. Ook daardie debat het baie gelykop verloop, maar namate detail by kiesers vervaag het en indrukke begin agterbly het, het Biden se ongeskikte optrede tydens die debat sy merk begin laat. Biden het Ryan uit die debat probeer boelie deur hom deurlopend in die rede te val. Dit het mettertyd so ‘n indruk gelaat dat Europese koerante wat Obama goedgesind is, berigte voor gisteraand se debat geplaas het waarin Obama versoek is om nie Biden se voorbeeld te volg nie.

Die mees betroubare peilings sal eers oor twee dae begin reflekteer of gisteraand se debat ‘n verskuiwing in die kandidate se gewildheid gaan hê. Rasmussen bereken sy peilings op die gemiddeld van drie dae, terwyl van die ander die gemiddelde steun van kandidate uit peilings oor sewe dae meet.

Volgens die jongste daaglikse Rasmussen-peiling loop Romney met 49 persent teenoor Obama se 47 persent voor. Die ABC News – Washington Post-peiling wat tot dusver gunstiger uitslae vir Obama gelewer het, het kort voor die jongste debat Obama se voorsprong verklein na 49 persent teenoor 46 vir Romney. Die belangrikste is egter dat 59 persent van Romney se ondersteuners volgens ABC sê hulle steun hul kandidaat baie sterk, terwyl net 55 persent van Obama se ondersteuners die president sterk steun. Dit kan ‘n beduidende impak op die wegblystem hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.