Obama land vandag in SA

Amerikaanse president Barack Obama

President Jacob Zuma maak gereed om Saterdag met die Amerikaanse president Barack Obama in Pretoria te vergader.

Die twee presidente sal mekaar by die Uniegebou ontmoet en ondermeer vergader oor hoe bande tussen Amerika en Suid-Afrika bevorder kan word. Die presidensie het in ʼn verklaring gesê die presidente sal politieke, ekonomiese en menslike verhoudings tussen die twee lande bespreek. Hulle sal ook oor beter samewerking tussen Amerika en die res van die Afrika-vasteland praat.

Obama se vliegtuig is geskeduleer om Vrydag omstreeks 20:00 in Pretoria by die Waterkloof-lugmagbasis te land. Hy vertrek vandag uit Senegal en word deur sy familie en talle afgevaardigdes vergesel. Virginia Palmer van die Amerikaanse ambassade sal hulle by die lugmagbasis verwelkom.

Honderde agente van die Amerikaanse geheime diens vergesel Obama en daar gaan glo deurentyd vegvliegtuie in die lugruim beskikbaar wees waar Obama hom ook al bevind. Lees meer hier.

Intussen is oud-president Nelson Mandela steeds in ʼn kritieke toestand in die Medi-Clinic Harthospitaal in Pretoria. Obama het Donderdag uit Senegal gesê Mandela is sy held, en hy sal moontlik ʼn besoek aan hom aflê as Mandela se familie dit goedkeur.

Obama vertrek Sondag na Kaapstad, waarna hy na Tanzanië sal besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.