Obama se kanse geknou?

Eric Holder

Al het die Amerikaanse departement van justisie laat weet dat daar geen nagevolge vir die prokureur-generaal, Eric Holder, gaan wees oor die kongres hom in ‘n stemming aan minagting skuldig bevind het nie, meen verskeie kenners die stap kan tog pres. Barack Obama se herverkiesingskanse knou.

Holder het geweier om dokumentasie oor die Fast and Furious-operasie aan die kongres beskikbaar te stel. Verskeie Demokrate het hul stemme by die Republikeine gevoeg om Holder aan minagting skuldig te vind, en verskeie het voor die stemming die lokaal verlaat. Obama steun Holder se standpunt.

Fast and Furious verwys na ‘n projek waardeur wapens aan onder meer dwelmkartelle in Meksiko voorsien is met die gedagte om die wapens te volg, en die groot visse aangekeer te kry. Die spoor van ‘n groot klomp wapens is egter verloor, ‘n Amerikaanse federale agent is met een van die wapens vermoor, en slegs ‘n paar klein vissies is aangekeer. Die saak word as die grootste nie-ekonomiese storie vanjaar in die VSA beskryf.

Holder meen die Republikeine se aandrang op die dokumentasie is politiekery.

Intussen stry waarnemers steeds of Obama se oorwinning oor sy omstrede gesondheidsplan in die hooggeregshof sy kanse bevoordeel of benadeel. Die Republikeinse slaan munt uit die bykans diktatoriale magte wat die uitspraak aan die president gegee het – iets wat gewoonlik sleg afgaan by kiesers wat negatief staan teenoor ‘n sterk magskonsentrasie iewers – terwyl die politici Obama nou ook by elke geleentheid herinner aan sy verkiesingsbelofte dat hy nie belasting gaan verhoog nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.