Obama verloor eerste debat

Foto: Getty Images

Kenners is dit bykans een dat die Republikeine se presidentskandidaat, Mitt Romney, die beste daarvan afgekom het in gisteraand se eerste regstreekse debat teen pres. Barack Obama.

CBS het onmiddellik na die debat ‘n peiling onder onverbonde kiesers gedoen, en 46 persent het Romney met punte laat wen, teenoor 22 persent gemeen het Obama het die beste daarvan afgekom.

In ‘n spesiale kommentaar meen die Los Angeles Times dat Obama “glansloos” was, terwyl Romney “opgekikker” voorgekom het. Een van die moontlike oorsake vir Obama se valerige vertoning is dat hy Romney onderskat het. ‘n Ander moontlike rede is dat hy as president nie meer daaraan gewoond is om teengegaan te word nie.

Die koerant wys egter ook daarop dat Romney se vertoning dalk nie vir hom veel in die sak gaan bring nie – hierdie debatte het in die verlede nie ‘n groot impak op die verkiesing gehad nie, en Obama loop in die meeste peilings gemaklik voor. Nogtans meen baie kenners dat Romney nuwe lewe in sy verkiesingsveldtog geblaas het.

Volgens die jongste Rasmussen-peiling beskou net 17 persent van die kiesers die debatte as belangrik oor waar hulle hul kruisies gaan trek. Volgens die daaglikse peiling loop Obama nou met 49 persent teenoor Romney se 47 voor. Dit meet egter nog nie die impak van die debat nie.

Die volgende debat vind op 16 Oktober plaas en die verwagting is dat Obama dan beter toegerus sal opdaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.