“Ocean’s Eleven”-tipe rooftog by AUS-casino

Australië se grootste casino, Crown Casino, is glo van US$33 miljoen (R327 miljoen) beroof ná ‘n “Ocean’s Eleven”-tipe rooftog.

‘n Uitlander wat by die Crown Casino tuisgegaan het, het glo onwettig toegang tot die casino se sekuriteitskameras bekom. Dié kameras hou spelers en tafels dop om seker te maak dat daar nie onwettighede plaasvind nie.

Die uitlander se makkers het glo met handgebare laat weet watter kaarte hy moet speel, het Melbourne se Herald Sun-koerant berig. Brad Pitt en George Clooney maak in die Hollywood-komedie, Ocean’s Eleven, van ‘n persoon gebruik wat bekend is met die sekuriteitstelsels om ‘n reeks casino’s in Las Vegas te beroof.

Crown sê ‘n personeellid van die BBP-dobbelgebied is afgedank en die uitlander is van alle casino’s verbied nadat die bedrogspul ‘n paar weke gelede onthul is.

Die Victoria-polisie bevestig hulle is van die voorval ingelig.

Linda Hancock van Deakin Universiteit, wat ‘n boek oor Crown geskryf het, sê sekuriteitskameras is regdeur die casino opgerig, maar konsentreer veral in die BBP-gebiede. “Daar is iemand wat konstant die kameras dophou,” het Hancock aan die ABC gesê. “Hulle moes agtergekom het dat iemand gereeld wen en dit sou hulle agterdogtig gemaak het.”

Crown Casino glo hulle kan ‘n beduidende bedrag van die geld herwin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.